Foto's Jaco Bergh
Ek en my beste pêl, Leon Vermeulen, is kranige kampeerders en ons bespreek al geruime tyd die moontlikheid om met Agarob en Engeltjie te gaan kamp.
Agarob is my 1968 Land Rover Series 2A en Engeltjie is Leon se 1969 Sprite Musketeer-woonwa.
Ons hou van 'n uitdaging en wou sien of dit prakties moontlik is sonder enige teëspoed. Onthou, manne wat nog met dié reeks Land Rovers ry, waai nie om te groet nie, maar eerder om te wys hulle hande is sover nog skoon vir die dag.
Onthou, manne wat nog met dié reeks Land Rovers ry, waai nie om te groet nie, maar eerder om te wys hulle hande is sover nog skoon vir die dag.
Ons het uit Durbanville vertrek en op die Weskuspad na Yzerfontein gery. Ons het selfs ons kleredrag uitgekies om by die geleentheid te pas - Leon het sterk herinner aan 'n slinkse Engelse bankier uit die jare sestig. Dit was nogal iets om te aanskou.
Soos die oom wat nie "v" of "w" kon sê nie en maar 'n "p" gebruik het, kap ons aan so teen "pyptig, pypenpytig" myl per uur in die Weskus se rigting.

Die 2,25 l-enjin (50 kW) se petrolverbruik was 22 l/100 km - darem nie so erg soos ek verwag het nie. Die sitplekke was nie gemaklik nie, maar die Panado het daarvoor gehelp.
Ons vroue, kinders en vriende het met aparte voertuie gery om bystand te verleen, indien nodig. Dit was 'n gesellige kamp en die weer pragtig - en soos gewoonlik het ons baie tyd om die kampvuur deurgebring.
Die kampterrein by Yzerfontein word goed onderhou, die reëls word toegepas, en dis altyd gewild onder kampeerders. Ná die kamp het ons gehaak en die langpad terug Kaap toe aangedurf.
Omtrent so halfpad op pad terug ry ons in 'n swerm bye in en ek sê vir Leon dis tyd om op te hou stoot en in te klim. Ek maak natuurlik net 'n grap, maar die Kaapse Dokter het ons behoorlik opdraande gegee en ons het teen 60-70 km/h teruggery.
Die baie skuins helling op die Vissershokpad op pad na Meerendal het my effens gekwel, maar ons is daar uit in tweede rat. Dit was darem nie nodig vir donkierat nie…
Ons het ons doelwit bereik en sal vir lank nog terugkyk en lag oor die uitstappie. Ek sal egter nie die kombinasie vir enigiemand aanbeveel nie en twyfel of dit in die ou tyd 'n gewilde keuse onder slepers was.
Hierdie artikel het oorspronklik in Junie 2018 verskyn. Feite en geite kon intussen verander het - laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy iets raaksien.
Het jy iewers in jou omswerwinge 'n seldsame sleepsel of ryding gesien? Vertel ons daarvan en stuur vir ons 'n foto na rysleep@weg.co.za.












