Reis

Blitsfeite oor SA se langste trein

(Willem van der Berg)

Het jy al iets gesien wat 3,8 km lank is én beweeg? Wel, dis hoe lank die Sishen-Saldanha-trein is, die langste produksietrein in die wêreld!

As jy weer langs die Weskus of deur die Boesmanland ry, wees op die uitkyk vir die ellelange trein. Die trein se spoor begin by Sishen en loop suidwes verby Kenhardt en Loeriesfontein tot op Vredendal. Van hier af loop dit kuslangs tot op Saldanhabaai.

Jy wil nie vir dié trein vol ystererts wag as jy laat is vir werk nie - dit vat byna vyf minute om voor jou verby te seil.

BLITSFEITE:

4 uur

Elke 4 uur vertrek 'n trein vol ystererts van die Sishen- of Kolomela-myn en 'n leë een by die Saldanha-staalaanleg naby Saldanhabaai.

30 sek.

Dis hoe lank dit neem om 100 ton erts op 'n trok te laai.

3 uur

Dis hoe lank dit neem om 228 trokke vol erts te kry. 'n Seksie van 114 trokke staan altyd gereed en word op 'n vroeër geleentheid gelaai.

861 km

Die lengte van die treinspoor tussen Sishen en Saldanha.

41 400 ton

Die gewig van die volgelaaide trein.

Waar kan ek die trein sien?

Halfpad tussen Loeriesfontein en Kliprand in die Noord-Kaap kan jy amper die hele trein sien (GPS S30.84222 E19.07001). Die laaste klompie trokke en agterste lokomotiewe rol nog doer anderkant die rantjies deur.

Willem van der Berg volg dié trein se spoor van Kathu tot op Saldanha baai terwyl dit stortreën in die Boesmanland. Lees die storie in ons Oktober-uitgawe hier.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM