Dis 'n landskap van ruigtes, klowe en hoogtetjies waarin vlaktewild en avonture skuil.
Dit maak nie saak in watter een van Lindani se nege huise jy tuisgaan nie, ek kan jou waarborg jy sal nie van jou bure weet nie.
Dít is hoe goed elke eenheid se ligging bedink is. En reg in die middel van die reservaat se sowat 30 km2 staan die Stone House - 'n opgeknapte plaashuis met slaapplek vir agt mense.
In die huis is drie slaapkamers waarvan die een en suite is en die ander 'n badkamer deel. Langsaan, onder 'n jakarandaboom, staan 'n privaatrondawel met sy eie badkamer.
Die huis is só knus ingerig dat jy traag sal wees om huis toe te gaan. Talle potjies Uno kan om die kombuistafel gespeel word, die sitkamerbanke is gemaklik genoeg vir 'n middagslapie en die kaggel is só geplaas dat dit die hele oopplanleefvertrek in die wintertyd lekker warm hou.

In die somer wink die groot kuierstoep, braai-boma en swembad gaste nader. (Ons het sommer uit die water gekyk hoe kameelperde baie na aan die huis verbywei!)
Die reservaat se diverse terrein bied vyf dagstaproetes wat wissel tussen 6 km en 12 km. Hier is ook 'n nuwe roete waarlangs die bome genommer is en stappers kan nou met behulp van 'n namelys leer watter spesies hier voorkom.
Lindani is gewild onder bergfietsryers. Omtrent elke hoekie van die reservaat is goed benut en die agt tegniese enkelspoorroetes vir ervare ryers is weldeurdag. Dit strek oor uiteenlopende terrein en wissel in moeilikheidsgraad van 'n makkerige 5 soos The Ridge in die suide van die reservaat tot die Topsy Turvy Extreme (9) in die weste.
Vir die wat nie Greg Minnaar se kuite óf senuwees het nie, is hier ook 'n gawe netwerk grondpaaie waar 'n mens die speke kan laat sing - sonder die vooruitsig om grond te koop!
Wat nog? Die kombuis is goed ingerig (gasstoof, twee yskaste, mikrogolfoond, skottelgoedwasser), maar jy kan ook - met die uitsondering van Sondae en openbare vakansiedae - vooraf etes, varsgebakte brood, beskuit en koek bestel. Loer aanlyn vir opsies en pryse.
Waar? Volg die Melkrivierpad noordoos uit Vaalwater vir 38 km tot by Lindani se Hek No.1 op regterhand.
Kontak: 083 631 5579; info@lindani.co.za; lindani.co.za
Hierdie artikel het oorspronklik in Mei 2020 verskyn. Feiteen geite kon intussen verander het - laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jyiets raaksien.













