Reis

BOTSWANA: Kamp van Kubu tot Kasane

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
’n Swartrenoster by Malema se Pan in die Khama Rhino Sanctuary tydens sononder.
’n Swartrenoster by Malema se Pan in die Khama Rhino Sanctuary tydens sononder.

Van waar Kubu-eiland uit die wit Makgadikgadi-panne verrys tot by die Okavangodelta se waterwildernis is Noord-Botswana 'n fees vir die oog.

Die toer saam met Bhejane 4x4 Adventures begin naby Serowe by die Khama Rhino Sanctuary en eindig tien dae later op Kasane.

Langs die pad doen ons bestemmings soos Maun, die Khwairivier en die Chobe- nasionale park aan - plekke wat die meeste mense net op Instagram, dokumentêre TV-programme of ander se vakansiefoto's te sien kry.

Ek moes my telkemale knyp om seker te maak ek's regtig hier; dié keer om my eie foto's te neem van Botswana se voëls, vleilande en waterweë.

Vrek, ek hoop my kamera se geheuekaart is groot genoeg!

DAG 1: Khama Rhino Sanctuary

Dis 'n Sondagmiddag en daar's 'n byt in die lug toe die toerlede een na die ander by die Khama Rhino Sanctuary, sowat 20km noord van Serowe, opdaag. Die Bhejane-manne het die tente reeds in die Mokongwa-kampterrein opgeslaan. Ek skud blad met die gids, Pete Collins.

Pete het die Goudstad sowat tien jaar gelede vir Plettenbergbaai verruil waar hy sy twee passies - gholf en om as gids te werk - kon uitleef. Hy's 'n rustige ou, 'n goeie man om dié troppie stadsmuise deur die wildernis te lei.

Oral tussen die tente troon mankettibome uit (in Setswana noem hulle dit mokongwa-bome). Dis winter en die takke kaal, maar in die somermaande gooi hulle lower waarskynlik welkome koeltekolle. Op die oomblik wil niemand egter in die skadu staan nie, hier waai 'n skraal windjie.

'n Olifant peusel aan waterlelies.
'n Olifant peusel aan waterlelies.

Nadat almal in hulle tente nesgeskop het, is daar nog genoeg tyd vir 'n wildrit. Die Khama Rhino Sanctuary is in 1989 gestig om Botswana se kwynende renosterbevolking te beskerm. Dis 'n gemeenskapsprojek wat deur plaaslike inwoners bestuur word in samewerking met Botswana se weermag.

Op sowat 85km² is dit bra klein vergeleke met van die land se ander bewaringsgebiede, maar hier hou nietemin 'n groot verskeidenheid. Tydens die twee ure lange rit sien ons swart- en witrenoster, sowel as rooibok, eland, koedoe, kameelperd, sebra én meer…

Die temperatuur sak saam met die son, maar rondom die kampvuur heers 'n geselligheid terwyl Pete die volgende paar dae se skedule bespreek. Daarna verkas almal haastig na die tente om so gou as moontlik in 'n warm slaapsak te kruip.

DAG 2: Kubu-eiland

Die kwik het laasnag glo by -6°C gaan draai en almal is vanoggend traag om aan die gang te kom. Hoewel elkeen vooraf vermaan is om vir koue weer sowel as warmer dae te pak, was geeneen só 'n uiterse kouefront te wagte nie. Koffie en tee rondom die vuur help darem om die koue vingers en tone te ontdooi.

'n Patrys en haar kuikens skrop naby die staning rond. Witkatlagters, rooiborslaks-manne en kuifkophoutkappers is ook aan't rondskarrel op soek na iets te ete.

Ná ontbyt word tweerigtingradio's vir al die voertuie voorsien en dan kry die konvooi van 12 rygoed in 'n noordwestelike rigting koers Letlhakane toe.

Pete gee raad oor die padtoestande wat voorlê, hoe om veilig verby die lewende hawe wat los loop te hou en watter volgafstand gehandhaaf moet word - veral later vandag, wanneer die grondpad groot wolke stof gaan maak.

Ons ry vandag sowat 240km. Op Letlha-kane word brandstof ingegooi en dan hou ons noord deur digte mopanieruigtes in oranje, geel en groen getooi.

Teen middagete hou ons by 'n uitkykdek aan die een punt van die Makgadikgadipanne stil; van hier af verlaat ons die bosse en ry dié surrealistiese, stowwerige landskap binne. Dié panne is van die grootste soutneerslae in die wêreld en was eens 'n binnelandse see.

Aanvanklik staan daar nog kort geel gras en plek-plek die stekelrige arms van 'n ghaap. Maar kort voor lank raak die omtes 'n kaalte wat my aan foto's van Mars laat dink.

Jy gewaar Kubu-eiland - 'n granietkoppie vol kremetarte en sterkastaiings - reeds sowat 10km voordat jy dit bereik.

Die son kom op agter een van Kubu-eiland se ou kremetarte.
Die son kom op agter een van Kubu-eiland se ou kremetarte.

Daar ry die konvooi eers óm die koppie om mooi te sien net hóé imposant en kontrasterend dit teen die res van die omgewing uitstaan. Ek het iewers gelees dat Kubu soos 'n reuse-vrugtekoek lyk en vind dié vergelyking terselfdertyd akkuraat én amusant!

Kubu-eiland word as 'n nasionale monument beskou en het 'n heilige betekenis vir die plaaslike Tswanas.

"Die mense glo dat die grotte aan die noordoostelike kant toegang tot die voorgeslagte verleen," verduidelik Pete. "En daardie voorsate hou nie daarvan dat mense op die eiland kom kamp nie.

"'n Nuwe staanplek word tans suidwes van die eiland gebou en mettertyd sal geen kamp op die eiland toegelaat word nie - dan sal die voorsate hopelik weer tot ruste kom."

Teen sonsondergang lei Pete die groep na 'n kol sowat 2km noord van Kubu, waar die kampstoele en skemerkelkies reggesit word.

Terwyl die son nog soos 'n massiewe geel bal op die westerkim huiwer, kom 'n volmaan in die ooste op en die landskap lyk nog meer dromerig.

DAG 3 en 4: Drifters Maun-kamp

Ek is voor sonsopkoms wakker en besluit om 'n ent te stap. 'n Enorme kremetart met 'n verweerde stam vang my oog. Ek leun met my rug teen die ou boom en saam kyk ons hoe die son oor die pan opkom en die oppervlak van geel na skitterwit verkleur.

Met ontbyt is almal in 'n ligter luim. Laasnag was glad nie so koud nie. Ons vertrek in Maun se rigting en ry op pad soontoe verby Orapa - die grootste oopgroefdiamantmyn op aarde - en om die westekant van die Makgadikgadipanne- nasionale park.

Die Drifters Maun-kamp lê sowat 30km voor Maun aan die Botetirivier. Kameeldorings, hardekole en kalahari-appelblaarbome gooi wye skaduwees oor 'n groen grasperk.

Ná twee dae van lang ure op die pad verkies die meeste toerlede om die namiddag in die kroeg te ontspan.

Die toer sluit 'n opsionele vlug oor die Okavangodelta in. Dis aan die duur kant, maar wanneer kom 'n mens weer hier?

Ek eet vinnig 'n vroeë ontbyt voordat ons die kort entjie na die Maun- internasionale lughawe aflê.

Die Cessna Grand Caravan is skaars tien minute in die lug toe ons reeds 'n trop sebras en 'n paar olifante in uitgetrapte wildpaadjies gewaar.

Die delta gesien uit die lug.
Die delta gesien uit die lug.

Hier bo, 150m bo die grond, kry jy 'n nuwe perspektief van die delta se omvang. Olifante word grys spikkeltjies en waar troppe lechwes, buffels en seekoeie op die kanaaloewers son vang, vertoon die diere byna disproporsioneel klein vergeleke met die tapisserie van waterweë, eilande en vloedvlaktes.

Die vlug van 45 minute is gans te gou verby, maar die opwinding sal nog vir die res van die dag deur almal se are bruis. Hoewel die oggendlig ideaal is vir foto's, sal ek mense aanraai om hulle kameras liewer by die kamp te los en net 'n paar kiekies met 'n selfoon te neem.

Olifante word grys spikkeltjies vanuit die lug gesien.
Olifante word grys spikkeltjies vanuit die lug gesien.

Ervaar die delta ten volle eerder as wat dit onder jou verbyskuif terwyl jy met kameraverstellings en weerkaatsings in die vliegtuigruite sukkel.

Ná die tyd gaan draai ons op Maun vir inkopies en burgers by die Okavango Craft Brewery.

Terug by die kamp is dit weer tyd om die sonsondergang te vier - dié keer met 'n bootvaart op die Boteti. 'n Troppie seekoeie op die oewer is glad nie beïndruk met ons koms nie. Ná 'n paar kwaai kyke nie die gewenste effek het nie, storm hulle met 'n genurk en gespat die water in.

'n Seekoei gee 'n reuse-gaap in die Mbudirivier.
'n Seekoei gee 'n reuse-gaap in die Mbudirivier.

Die stroom en die voëllewe se geluide verweef met die jolige geselsies aanboord. Maar toe ons terwyl die son sak terugdraai, daal 'n stilte neer en almal vergaap hulle aan hoe die gloed agter vlieswolkies - die laaste oorblyfsels van die kouefront - verdwyn.

DAG 5 tot 7: The Den

Daar word vir oulaas op Maun inkopies gedoen en brandstof ingegooi voordat ons vir die vol-gende drie dae in die gramadoelas verdwyn. Die koers is nou noordoos en die bestemming is The Den, 'n kampplek langs die Mbudirivier - 'n sytak van die Khwai - op die rand van die Moremi-wildreservaat.

Sowat 30km buite Maun tref jy 'n stofpad wat al beter dae gesien het. Dinge vorder stadig, maar die olifante langs die pad herinner jou dat dit oor die reis eerder as die bestemming gaan. Die brug oor die Khwairivier is 'n gawe plek om vir middagete stil te hou en nóg 'n olifantbul slenter skaars 80m verder verby.

The Den is 'n eersteklas staning onder hardekoolbome en reg teen die rivier. Die ablusie is basies en sonder warm water, maar Bhejane se manne slaan in 'n japtrap 'n warmwater-emmerstort op. Dankie!

Asof vooraf ooreengekom, begin 'n klomp hiënas te "aa-joep!" nes die son onder is. Ons smul aan lasagne in 'n ysterpot oor die vuur gebak terwyl twee buffels op die oorkantste oewer wei.

Die volgende dag lei Pete die konvooi al met die rivier langs. Hy wys die beste afdraaipaadjies uit vir diegene wat oor die volgende paar dae op hulle eie wil wildkyk.

Terug by die kamp peusel twee olifantbulle net 'n klipgooi weg aan waterlelies. Hulle trek die plante uit, swaai dit rond om die modder af te skud en slurp die slierte dan soos spaghetti op! Dié nag hoor jy hulle nog kort-kort iewers naby takke breek.

'n Mokoro is die beste manier om die Khwairiviergebied te verken.
'n Mokoro is die beste manier om die Khwairiviergebied te verken.

Die volgende oggend tree ons 'n paar honderd meter van die kamp af aan vir 'n mokorovaart. Die gidsleier stel homself voor as "Top Gun" en tydens sy veiligheidspraatjie vermaan hy ons om nie uit die bootjies te duik wanneer spinnekoppe of paddas insprin nie - hier's immers veel groter gevaar ín die waters…

"Respekteer asseblief die krokodille, seekoeie en ander diere," sê hy. "Ons is nou sonder toestemming in húlle vyfsterhotel."

Die waterbokke en olifante gaan ongestoord hulle gang terwyl elke gids sy mokoro met 'n sagte swiesj van sy paal vorentoe stoot. Grootlangtone fynkam die vlak water en wildemakoue vlieg omhoog verby.

DAG 8 en 9: Muchenje-kamp

Dis ons laaste ontbyt by The Den en niemand lyk juis lus om dié rustige plek te verlaat nie. Die langste en moeilikste rit lê boonop voor - iets waarop Pete almal sedert daardie eerste aand reeds voorberei. Dis net sowat 230km, maar met die slegte toestand van die paaie gaan dit omtrent sewe ure duur.

Die plan is om die Chobe- nasionale park vandag te deurkruis en ons ry dié bewaringsgebied via die Mababe-hek binne - sowat 35km van The Den af.

Fototyd by die massiewe kremetart waar die groep middagete geniet naby die Savuti-kanaal.
Fototyd by die massiewe kremetart waar die groep middagete geniet naby die Savuti-kanaal.

Ná 'n ruk verskyn die Savuti-vleiland, 'n massiewe moeras, aan jou regterkant. Doer aan die anderkant kan ek net-net'n piepklein kameelperd uitmaak.

Dié vleiland was voorheen 'n binnelandse meer, maar 'n verskuiwing in die tektoniese plate in die aardkors het die watertoevoer afgesny. Deesdae kry dit nog wisselvallige deurvloei van die Savuti-kanaal af, wat weer om die beurt water uit die Linyati-vleiland kry. Maar die kanaal staan vir lang tye kurkdroog - hier was byvoorbeeld in 2010 die eerste keer sedert 1982 water.

Terwyl die konvooi in 'n stofwolk al op die rand van die moeras langs aanstoot, verg dit nogal verbeelding om dié landskap met water voor te stel.

By die Gubatsaa-heuwels is dit tyd vir middagete onder 'n kremetart. Dit is - buiten Orapa se mynhope - die eerstehoogtetjie wat ons sedert die Khama Rhino Sanctuary teëkom.

Kampkoffie en 'n vuurtjie bied welkome hitte ná die bytende koue van die eerste aand.
Kampkoffie en 'n vuurtjie bied welkome hitte ná die bytende koue van die eerste aand.

Nadat ons die droë Savuti-kanaal oorgesteek het, raak die sand aansienlik dikker. Ons beur nou oor oeroue duine tot waar die roete uiteindelik by Kachikau by 'n teerpad aansluit en die bande weer stywer gepomp moet word. Daarna is dit nie meer ver tot by die oornagpunt nie.

By die Muchenje-kamp gaan sit ek agteroor en tuur oor die Choberivier se vloedvlakte en Namibië op die oorkantste oewer. Die volgende oggend word padkospakkies vir ontbyt uitgedeel en elkeen kan teen sy eie pas van die Ngoma-hek af met die rivier langs in Kasane se rigting aankruie.

Die uitsig vanaf die kampterrein by die Muchenje Campsites and Cottages.
Die uitsig vanaf die kampterrein by die Muchenje Campsites and Cottages.

Dié tyd van die jaar is die watervlak laag, en die vloedvlakte wemel van die diere en voëls. 'n Magdom sebras drom oorkant die rivier saam en sommer hier naby die bakkies filter lepelaars en nimmersatte ywerig deur die flodder. 'n Saalbekooievaar is so gefokus op sy visvangery dat hy byna op 'n krokodil trap...

Olifante kom in groepies af rivier toe om te drink en seekoeie geniet 'n modderbad in die wintersonnetjie.

Ons tel 13 kransaasvoëls en 1 monnikaas-voël rondom 'n olifantkarkas - leeus het die grootvoet glo twee dae vantevore platgetrek. Net voordat ons die park verlaat, slenter 'n groot swartwitpensbul oor die pad, en 'n entjie verder wei 'n trop bastergemsbokke.

Ná 'n opwindende dag vol wildlewe en ruwwe 4x4-terrein trek die toergroep op Muchenje se dek saam. Die vloedvlakte baai in 'n oranje gloed en aan Namibië se kant krul 'n rokie van 'n hut af op. Ons klink (weer!) 'n glasie op mooie natuurskoon!

DAG 10: Kasane

Ná ontbyt versit ons na die Thebe River Safaris net meer as 60km verder. Vandag kan jy kies tussen teerlangs ry en die toeristedinge van Kasane geniet óf vir oulaas deur die Chobe- nasionale park ry en wildkyk.

Bote versamel teen die oewer van die Choberivier om 'n trop leeus dop te hou.
Bote versamel teen die oewer van die Choberivier om 'n trop leeus dop te hou.

In die namiddag vaar ons uit om die Chobe aan die westekant van Kasane te verken. Dis 'n bittersoet belewenis: Op een plek tel ek 26 bote op die water. Hulle druk só dig saam om diere te sien dat die rompe soms teen mekaar stamp.

'n Buffel wat van een eiland na 'n ander aan't swem was, word heel van stryk gebring toe 'n boot per ongeluk reg voor hom invaar. Die dier was duidelik ontsteld en het sy kop kwaai geskud en rondgeplas.

Die vloedvlakte van die Choberivier is propvol wild.
Die vloedvlakte van die Choberivier is propvol wild.

Maar terselfdertyd aanskou ons iets asof uit 'n dokumentêre film: 'n Trop van 13 leeus omsingel 'n groep olifante met 'n kalf in hulle midde. Nes jy dink die kleintjie se doppie is geklink, kom 'n ander familie olifante ewe skielik al stormend tot hulle redding. In 'n dwarreling van stof en 'n getrompetter laat spat die leeus in alle rigtings!

Ek wil amper opstaan en hande klap. Dié toneel bring die toer van tien dae tot 'n finale. Een ding is seker, Botswana bly een van die wildste plekke op aarde.

Wat sê die mense?

Rikus Kellerman, Pretoria

Rikus Kellerman (links) en Louis Fourie.
Rikus Kellerman (links) en Louis Fourie.

"Die toer bied iets vir elke fotograaf: By Kubu-eiland kry jy pragtige landskap-skote en langs die Khwairivier kan 'n mens weer na aan die voëls en diere soos olifante kom. Die mokorovaart maak weer foto's van wild op oogvlak moontlik.

"Die sonsondergangvaart op die Chobe is 'n moet - jy's verseker van 'n verskeidenheid spesies en 'n ander hoek as wat 'n mens uit 'n voertuig kry. En die vlug oor die delta sorg vir 'n nuwe perspektief!"

Louis Fourie, Pretoria

"Ons Jimny het my verbaas. Die karretjie het by die groot Cruisers gehou! Ek sou wel 'n paar ekstra perde waardeer het; met dié dat ons die kar volgepak het, kon 'n mens agterkom die outomatiese ratkas spring gedurig tussen derde en vierde rat. Maar op ruwe terrein het hy koning gekraai.

"Ons het nêrens gesukkel nie, ook nie op die 180km-sandpad uit die hel nie! Ek sou 'n dakrak voorstel - veral om toerusting soos kampstoele en jerry-kanne uit die kattebak te hou."

Chris en Judy Henning, Pretoria

Chris en Judy Henning.
Chris en Judy Henning.

"Die besoek van die olifante aan ons kampplek in Khwai was fantasties - wat 'n voorreg om dié reuse ongesteurd in die natuur te kon dophou. Die drama wat in die Chobe tussen die leeus en die olifante afgespeel het, was ook 'n hoogtepunt."

Llewellyn en Marise Schwegmann, Valleyview, Kanada

Llewellyn en Marise Schwegmann.
Llewellyn en Marise Schwegmann.

"Dit was 'n voorreg om saam met 'n span soos Bhejane op hierdie avontuur te gaan. Die toer bied 'n uitstekende balans met 'n lekker verskeidenheid. Ons leier, Pete, is fantasties. Die maaltye en logistieke ondersteuning was onverbeterlik."

Bly hier

Hou gerus hierdie kampplekke in gedagte indien jy op eie houtjie deur Noord-Botswana wil toer:

• Mokongwa-kamp, Khama Rhino Sanctuary

• Gaing-O-gemeenskapstrustkamp, Kubu-eiland

• Drifters Maun-kamp

• The Den, Moremi

• Muchenje-kampplek, Chobe

• Thebe River Safaris, Kasane

Ek wil saamtoer!

Die son kom op agter een van Kubu-eiland se ou kremetarte.
Die son kom op agter een van Kubu-eiland se ou kremetarte.

Hoe werk dit? Toerlede ry met hulle eie voertuie (slegs 4x4) saam in 'n konvooi wat deur 'n gids gelei word. Bhejane se span slaan elke aand kamp op. Met uitsondering van Kubu-eiland is daar in elke kamp spoeltoilette en storte. By Kubu sorg die personeel egter vir 'n warmwater-emmerstort.

Wat is ingesluit? Tente en alle etes. Gaste moet beddegoed, kampstoele, drankies en peuselkos voorsien. Die Boteti-riviervaart, 'n begeleide mokororoei sowel as die Choberiviervaart is ook deel van die pakket.

Wat is uitgesluit? Grenstariewe, padbelasting, brandstof en 'n vlug oor die Okavangodelta (sowat R1350p.p.).

Wanneer? Daar's verskeie datums vanaf Maart tot Augustus 2024 beskikbaar - loer aanlyn.

Koste R22650 p.p.; halfprys vir kinders jonger as 10.

Kontakbhejane.com; 0827240442

Le Roux van Schalkwyk (teks en foto's)

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM