Reis

Campmaster se boswa is hier

Image supplied.
Image supplied.

Campmaster, wat bekend is vir hul bagasiewaentjies, het pas toegetree tot die boswamark met die bekendstelling van hul Wilderness 300-boswa. Dié fris wa, gebou met 'n kombinasie van 1 mm- en 4 mm- gegalvaniseerde staal, 'n leeronderstel met 'n as wat 1 200 kg gegradeer is en ses bladvere aan elke kant, is gemik op kampeerders, vissermanne, jagters en die selfdoener wat verkies om die wa self toe te rus.

Die stewige bouwerk sorg dat die wa bykans enige rowwe agterpaaie kan aandurf. Die wielsporing is so breed soos 'n bakkie en sportnutsvoertuig s'n, wat sleep in diep sand vergemaklik. Die wa is ook lig genoeg om agter 'n sedan gehak te word.

Die laaibak van 1,3 kubieke meter en dravermoë van 370 kg sorg dat daar nooit te min plek is vir al jou goed nie, en die neuskas bied nóg pakplek - of plek om daardie 12V-batterystelsel te installeer waaroor jy nog altyd droom.

Die uittreklaai aan die linkerkant van die romp, net voor die as, is ideaal gemaak om 'n kampyskas te monteer. Daarby het die wa twee 12V-sokke wat krag kry vanaf jou voertuig: een binne die laaibak vir die yskas, en een buite aan die agterkant, vir 'n kamplig.

Aan die buitekant, weerskante van die laaibak, is jerrykan- en gasbottelhouers, asook kassies waar gereedskap en tentpenne gebêre kan word. Bo-op die deksel, wat met twee gasstutte oplig, is 'n dakrak waarop 'n tent gemonteer kan word en daar is plek aan die agterkant van die dakrak waar 'n kamptafel kan inskuif. Alle deure en die deksel het sluitbare knippe, en twee hoekstutte aan die agterkant help om die wa waterpas te kry en stewig te laat staan.

Al dié geriewe is beskikbaar teen 'n standaardprys van R59 999, met die opsie om nog toerusting by te voeg as jy sou wou.

Afmetings

Laaibak-afmetings: 1,8 x 1 x 1,05 x ,69m

Lengte: 3,05 m

Breedte: 1,71 m

Tarragewig: 370 kg

BVM: 750 kg

Dravermoë: 390 kg

Remme: Nee

As: 1 200 kg

Wielgrootte: 215/75/15

Standaardtoerusting

1 neuskas

1 dakrak

2 jerrykanhouers

2 gasbottelhouers

2 gereedskapkassies

1 uittreklaai vir yskas

1 spaarwiel

Opsionele toerusting

Tent

Kamptafel

Yskas

Jerrykanne

Gasbottels

Batterystelsel

Beskikbaar by uitgesoekte Makro-winkels.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM