Onthou jy nog vir Stoffel, die ratel-Houdini, wat kort-kort uit sy hok ontsnap het? Wel, 'n Weg-leser het dalk 'n verlangse neef van hom opgespoor, 'n slinkse klein inbreker!

Wallie van der Walt, van Kaapstad, het vir ons hierdie brief en foto's gestuur van die "dief" wat sy skoonma-hulle se huis geteister het. Walie vertel:
"My skoon-ouers het tussen 9 en 15 Mei elke aand, behalwe een, ‘n interessante besoeker gehad. Hulle yskas wat op die stoepie staan was geplunder en die besoeker het elke aand kom kyk of hy intussen weer volgemaak is. Die bure het beweer dis ‘n muishond, maar my vrou het dadelik gedink dis ‘n ratel weens die krag en intelligensie van die dier. Ons het ‘n kamera-strik opgestel (danksy Cape Leopard Trust) en teen Saterdag was die skuldige geidentifeseer.

Met behulp van die DBV het ons ‘n vanghok gestel en na een onsuksesvolle poging daarin geslaag om die dief vas te trek, omstreeks 01:30 die oggend. Die eerste keer het die hok te vroeg toegegaan en hy het rustig probeer om die aas van buite die hok by te kom. Dit het ons gelukkig kans gegee om ‘n paar fotos te neem.

Dit alles in die middel van ‘n woongebied in Melkbosstrand! Hy is nou in die Blouberg Natuurreservaat woonagtig maar ons sal nie verbaas wees om weer van hom te hoor nie."












