Reis

Hier’s Oosie se Weg-indeks

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

As Weg ’n ereveldwagtersgulde gehad het, sou Oosie Marincowitz beslis ’n lid gewees het.

Oosie stuur sedert 2007 elke paar maande ’n bygewerkte lys van al die stories wat in Weg verskyn het. Dis al amper 20 jaar later, en Oosie se indeks is goud werd.

Hier by Weg kry ons gereeld versoeke van lesers af oor vorige stories: “Ons gaan Namibië toe, en kan nie onthou in watter uitgawes julle vorige Namibië-stories was nie.”

Dit geld vir die Kgalagadi, Botswana, Kruger... As dit nie vir Oosie se indeks was nie, sou ’n ongelukkige redaksielid elke keer deur ál 200+ tydskrifte moes blaai.

Maar danksy Oosie doen ons bloot ’n soektog op ’n Excel-dokument, en siedaar, hier’s ’n lys van al die stories wat al ooit in Weg verskyn het oor, byvoorbeeld, Hartswater (daar was net een).

Oosie, ’n afgetrede landbouvoorligter op Jongensfontein, het aanvanklik die lys vir eie gebruik saamgestel.

“Ons hou van toer. En selfs toe ons net 20 tydskrifte gehad het, het ek geweet daar is stories oor die Wildekus in, maar kon ek nie onthou in watter uitgawe nie. Toe begin ek met my lys.

“Die stories bly waardevol, dis dikwels net die pryse wat verander. Ons is nou weer op pad Kosibaai toe en gaan eers 'n stapel tydskrifte deurwerk om ons toer te beplan.”

Oosie het al die Weg-tydskrifte, van #1 af. “Ek hou al my tydskrifte in ’n groot kas in my garage. Daar is nog net twee rakke oor...”

Só werk dit

  • Die indeks is verdeel in drie hofies: bestemmings, kos en toerusting. Klik op die balkie om deur die betrokke hofie te soek.
  • As jy haastig is, kan jy ook “Ctrl” en “F” tesame druk op jou toetsbord. Dit sal ’n soekvenstertjie laat verskyn, waarin jy ’n sleutelwoord vir jou navraag kan tik.

Sien die indeks hier.

*Hierdie indeks is tot en met die Oktober-November 2025-uitgawe. Oosie stuur elke drie tot vier maande 'n bywerkte lys wat ons hier sal oplaai. Weg is ongelooflik dankbaar vir Oosie se indeks. Ons het ongelukkig nie tyd om dit self te doen nie en ook nie om dit noukeurig na te gaan nie. As daar 'n foutjie in is, laat weet ons by esma.marnewick@weg.co.za.