Foto's: Marcelle van Niekerk
As jy "Richtersveld" by Google Images intik, kan jy nie anders as om effe angstig te voel nie. Persswart berge verrys uit die sand en verdwerg enige mens wat dit tot in dié Marslandskap waag. Die son brand fel neer op die eensame groen lint wat die Oranjerivier is.
Dié skynbaar onherbergsame bergwoestyn wemel egter van 'n verskeidenheid plant- en dierelewe, en sy strak vlaktes hou vele geheime. Dis nou as jy weet waar om te kyk.
Ek ry saam met Bhejane 4x4 Adventures op 'n toer van die Richtersveld en suidelike Namibië. Dis blommetyd in Namakwaland, maar ons laat die gousblomme agter en die wêreld om ons word ál droër.
Droog beteken egter nie vervelig nie. Die woestyn is 'n veranderende kaleidoskoop van skakerings en teksture met tonele wat heeltyd kontraste vorm.
"Ek het hierheen gekom vir avontuur. En elke nou en dan kry 'n mens 'n lekker salaristjekkie," sê George Moyses, 'n voormalige duiker in die Suid-Afrikaanse Vloot.
Die woestyn is 'n veranderende kaleidoskoop van skakerings en teksture met tonele wat heeltyd kontraste vorm.
Sy oë glinster terwyl hy deur die oorvol Port Nolloth-museum loop. Sy gesig dra 'n litteken van 'n skermutseling met 'n bootskroef - 'n oorblyfsel van byna drie dekades van diamante soek in die Atlantiese Oseaan. "Die see is ryk aan diamante. As jy die regte kol kry… jackpot!"
Die diamantspoor lê regdeur die geskiedenis van die vissersdorpie Port Nolloth en die nabygeleë McDougallsbaai. In die vroeë oggendure sien ons diamantbote op pad see toe met hulle kleurryke suigpype wat agterna op die oppervlak dryf.
By Alexanderbaai - 'n uur se ry verder noord - loop ons tot by die monding van die Oranjerivier, waar dit die oseaan word. Namibië is 'n klipgooi weg aan die ander kant van die water. Maar dis nie maklik om daar uit te kom nie…
Ons los stofspore agter ons op pad na Sendelingsdrift - die hoofkwartier van die /Ai/Ais-Richtersveld-oorgrenspark - waar 'n mens die Oranjerivier met 'n pont oorsteek om tot in Namibië te kom.

Dis maklik om óm Lekkersing, Eksteenfontein en Kuboes te ry - die klein dorpies op pad grens toe - maar Douwe Vlok, ons toerleier, sorg dat ons deur elkeen ry.
Die Nama-mense wat hier woon, kry dit op een of ander manier reg om 'n bestaan te maak en trek hulle diere saam met die veranderende seisoene.
Soos ons Eksteenfontein verlaat, verskyn 'n trop skape op die horison. Hulle word aangejaag deur 'n skaapwagter en twee skraal honde. Die skaapwagter lig sy hand toe ons verbyry. Dis asof hy die hele mensdom groet, want binnekort is dit net harde grond waarop kokerbome spikkels maak. Die eerste duine verrys in die verte.
Later die aand by Sendelingsdrift drink ons 'n koppie moerkoffie onder 'n skoon nagruim. Die sterre is so helder dat dit op die rivieroppervlak weerkaats.

Klippe, en nóg klippe
Ek spring uit die voertuig en hardloop vooruit om 'n foto te neem van ons konvooi, wat soos 'n ry miere deur die voue van die Akkedispas kruip. Douwe lag. "Ná hierdie toer sê mense altyd hulle het nooit gedink hulle sal só baie foto's van klippe neem nie."
Dis maklik om jou hart hier te verloor. Daar is iets opwindends daaraan om te sien hoe strak vlaktes in diep klowe verander; hoe wit kwartsstrepe teen die bergwand ingeëts is, soos verf wat gemors is; hoe die vingerafdruk van tyd op die skerwe sediment lê wat plek maak vir hope rotse…
"Ná hierdie toer sê mense altyd hulle het nooit gedink hulle sal só baie foto's van klippe neem nie."
Douwe herinner ons daaraan om ook ons oë oop te hou vir tekens van lewe: van die endemiese halfmens (Pachypodium namaquanum) - 'n kleinerige vetplant wat soos 'n geboë mens lyk en altyd noord wys - tot yslike kokerbome en elke dan en wan 'n gemsbok of volstruis wat op die horison verby draf.
Die dag se enigste haakplek is toe ons voertuig in die sand vasval, maar die konvooi-lede is gou om hand by te sit. Dis die lekker van so 'n toer - as ek op my eie was, sou ek lánk moes wag op 'n Samaritaan.
Die wilde (suid-) weste
Die volgende oggend is ons vroeg op. Dis 'n stryd om te pak én terselfdertyd seker te maak die blouape van Sendelingsdrift gaps nie ons ontbyt nie.
'n Pontreis oor die Oranjerivier en 'n uur by die Namibiese grenspos later is ons in 'n ander land.

Op die 170 km lange rit van Rosh Pinah tot by Aus strek woestyngras tot op die horison, maar dié slag hou ons nie stil om die landskap te bewonder nie. Ons mik vir ons middageteplek: Die Garub-drinkbak is die enigste permanente waterbron in die omgewing en ons het die kans om die bekende wilde perde van Namibië te sien.
Daar is verskeie uitlegte oor hoe die perde wild geraak het. Hierdie is my gunsteling: In die Eerste Wêreldoorlog het 'n Duitse vliegtuig bomme laat val op duisende Unie-soldate wat naby Garub gebaseer was - saam met hulle perde. Die perde het gevlug en dié wat nie weer gevang kon word nie, het vry in die woestyn bly leef.
Daardie perde se afstammelinge is nou 'n 80 stuks en ons kry almal van hulle (of so lyk dit) - aan die saamdrom om die waterbak of insluimer in die verblindende middagson.

Ek lê op my maag om 'n paar foto's te neem en bly doodstil toe 'n paar nuuskierige perde stadig naderkom. Gou het ek 'n naby-aansig (dalk te naby om gemaklik te wees) van twee paar rollende oë. Hulle ruik die lug rondom my kop en stamp hulle hoewe - skaars 'n meter weg. Dalk was hierdie nie 'n goeie idee nie!
Later is ons op pad na 'n uitkykpunt om die sonsondergang te kyk, en ry verby die wrak van 'n ou Hudson Terraplane. Vertellinge wil dit hê dat twee diamantdiewe wat hierlangs gevlug het uit die Sperrgebiet - 'n gebied waar daar nog aktiewe myne is en waarvoor jy 'n permit nodig het - hier doodgeskiet is in 'n skermutseling met die polisie.
Douwe vra stilte terwyl die son oor die horison sak en die veraf bergtoppe eers oranje en dan dieppers vlek. Die eggo's van blaffende geitjies trek deur die koel aandlug.
Twee ruiters galop skielik verby. Dis Willem Swiegers, een van die eienaars van die nabygeleë Klein-Aus Vista waar ons vanaand oorbly, en sy seun Hanno.
Dit voel asof ek die dag in 'n ou Western was, en ek dink aan môre wanneer ons na oorblyfsels van 'n verlate myndorp gaan kyk.
Spoke in die sand
Meer as honderd jaar gelede het mans en vroue hier op hulle knieë rondgekruip en diamante uit die sand geskep. Die dorpie Kolmanskop het sy ontstaan in 'n diamant-stormloop wat Namibië in die vroeë 1900's verswelg het nadat die spoorwegwerker Zacharias Lewala 'n blink klippie langs die spoorweg gekry het en dit vir August Stauch, sy bestuurder, gevat het. Teen 1914 is meer as 5 miljoen karaat se diamante al hier uitgehaal: 20% van die wêreld se algehele produksie op daardie tydstip.

Vandag stap ons deur die verbleikte skelette van eens swierige geboue. Dit sluit in 'n saal, slaghuis, bakkery en selfs 'n kegelbaan. Die sand is stadig besig om die kamers in te sluk.
Die naarstige gesoek na diamante het in die 1930's na Oranjemund verskuif, en Kolmanskop het begin wegkwyn. Dekades later is dit net 'n toeristetrekpleister.
Die volgende dag kan ons diep in die Sperrgebiet ry saam met Coastways Tours Lüderitz, wat 'n konsessie in die gebied het. Ons word gewaarsku om enige kosbare stene wat ons dalk by ons het agter te laat, anders kom daar dalk pêre…
Ons ry verby Pomona, nog 'n verlate myndorp. En ook Fairytale Valley - genoem na die oorvloed diamante wat eens hier op die oppervlak geskitter het. Hoe verbeel ek my nou ek sien 'n blink klippie doer in die verte?
Ons laaste stilhouplek is by Bogenfels - 'n enorme rotsboog wat wydsbeen op land én see staan. Die leegheid van die landskap is vir my vreemd.
Die GPS is stil
" 'n Foto kan nie reg hieraan laat geskied nie. 'n Mens moet dit self sien."
Douwe staan langs my op die rand van die Visriviercanyon. Ons het vanoggend vir Lüderitz en die kus gegroet en stilhou-stilhou met die B4 langs deur die binneland gery tot hier, by die uitkykpunt oor die canyon naby Hobas. Diep skaduwees strek ver; die sonsondergang kom vinnig nader. Die silwer glinstering van die rivier is net-net sigbaar van die uitkykpunt af.

Kort voor lank verdwyn die canyon in die donker en kies ons koers na die Canyon Roadhouse, waar ons vanaand slaap. Eendag sal ek dalk dapper genoeg wees om weer te kom en die Visriviercanyon-staproete te pak…
Dis die laaste dag. 'n Dik grys miskombers het oor die land kom lê en die moontlikheid van reën saamgebring. Die koeligheid is gou vergete toe ons by /Ai/Ais se warmwaterbronne aankom. Die water is warm, en dit was die laaste paar dae se stof weg.

Op pad na Aussenkehr en Norotshoma River Resort - ons laaste blyplek vir die toer - gryp Douwe vir oulaas die kans aan om op 'n skaars uitkenbare grondpad te ry. Ons volg die droë bedding van die Gamkabrivier tot in 'n ravyn en kom uiteindelik voor 'n duiselingwekkende hoë krans te staan. Ek rek my nek om die bopunt te sien.
"Baie paaie is doodlooppaaie," sê hy. "Jy moet verken. Dis die enigste manier om dié plekke op te spoor. Hulle is nie op 'n GPS nie."
Dis amper tyd om huis toe gaan. Daar waar die selfoonontvangs én die snelweë óral is. Maar 'n deel van my wens ons kon nog net een vergete grondpad vat.
Wie weet waarheen dit sal lei?
WEET VOOR JY WAAI
Hoe lyk die paaie? Die terrein in die Richtersveld en suidelike Namibië kan taai en klipperig wees. 'n 4x4-voertuig met laestrek is die beste opsie as jy van plan is om die berpasse aan te vat, maar jy sal piekfyn wees in 'n 4x2 met hoë grondvryhoogte as jy op die hoofroetes hou.
Beste tyd om te gaan? Bly weg in die somer - die kwik het al byna tot by 50 ºC gestyg! Beplan eerder jou reis vir laat in die winter of vroeg in die lente. Só kan jy die blomme in die Weskus en Namakwaland sien op pad noord.
Tariewe vir die /Ai/Ais-Richtersveld-oorgrenspark: Suid-Afrikaanse kant: R71 per volwassene p.d.; R36 per kind; gratis met 'n Wild Card. Namibiese kant: R80 p.p.p.d.; R10 per voertuig.
Kontak: Suid-Afrika 027 831 1506; Namibië 00 264 63 68 3676; sanparks.org; nwr.com.na; 021 442 3761
DOEN DIT: NOORD-KAAP
Port Nolloth-museum: Die museum is tans gesluit. Jy kan steeds reël om George Moyses se versameling by sy huis te sien. Skenkings is welkom.
Kontak: Jennepher Hammond, 082 535 9411
Namakwa- nasionale park: Namakwaland ondergaan tussen Julie en September elke jaar 'n transformasie. Die Namakwa- nasionale park en Skilpad-ruskamp hoort op jou lysie as jy die veld in blom wil sien.
Bewaringstarief: R43 per volwassene; R22 per kind; gratis met 'n Wild Card; die park is elke dag oop vir dagbesoekers van 8 vm.-4 nm.
Nog inligting: 027 672 1948; sanparks.org

NAMIBIë
Pomona-Bogenfels-toer:
Coastways Tours Lüderitz bied heeljaar lank toere tot in die Sperrgebiet om die spookdorp Pomona en die Bogenfels-rotsboog te sien.
Hulle tel jou 8.30 vm. by jou blyplek op. Coastways Tours gaan jou besprekingsvorm en 'n afskrif van jou ID of paspoort nodig hê om jou toegang tot die Sperrgebiet te gee.
Kontak: 00 264 63 20 2002; lewiscwt@iway.na; Vra by coastways.com.na 'n besprekingsvorm by Thozama.
Koste: R1 750 per volwassene; R1 262 per kind jonger as 12.
Kolmanskop:
Besoek dié spookdorp vir R90 per volwassene, en R55 per kind. Jy kan ook 'n fotografiepermit kry teen R235 p.p., wat jou toegang gee van sonsopkoms tot -ondergang.
'n Begeleide toer is ingesluit by die tarief. Daar is twee toere per dag van Maandag tot Saterdag: 9.30 vm. en 11 vm. Op Sondae en openbare vakansiedae is daar een toer om 10 vm.
BLY HIER
Sendelingsdrift-ruskamp
Maak jou brandstoftenk vol en ontspan op die oewer van die Oranjerivier voordat jy die Suid-Afrikaanse kant van die /Ai/Ais- Richtersveld-oorgrenspark verken of met die pont oorgaan na die Namibiese kant.
Koste:
Chalets: R924 p.n. vir tot twee mense, plus R263 p.p. wat bykom. Kamp: R243 basistarief vir tot twee mense, plus R89 per volwassene wat bykom en R45 per kind. Die kampterrein is basies, met 12 staanplekke wat twee ablusieblokke deel. Die staanplekke deel 'n kragpunt. Die ruskamp het 'n swembad.
Kontak: 027 831 1506; sanparks.org
Klein-Aus Vista

Die kamers by die Desert Horse Inn is luuks - kyk van jou stoep af hoe sak die son. Verblyf en koste R1 560 vir 'n enkelkamer; R2 520 vir 'n dubbelkamer (ontbyt ingesluit). Koel af in die lodge se swembad - dis in die vorm van 'n perdeskoen!
Hier is 10 staanplekke in die kampterrein wat een ablusieblok deel: R140 p.p. Geen kragpunte nie; jy kan jou toestelle by die ontvangskantoor laai indien nodig. Suid-Afrikaners kan 'n Gondwana Card oorweeg: Jy kry 40% afslag op verblyf. Meer inligting op die webblad.
Kontak: 00 264 63 25 8116; gondwana-collection.com
Norotshama River Resort

Hierdie oord is 50 km stroomaf van Noordoewer. Formele verblyf wissel van 'n eenvoudige hut (R624 p.p.) tot 'n luukse suite (R2 100 p.p.). Bonus: Die goedkoper hutte is reg langs die Oranjerivier! Ontbyt by die restaurant is ingesluit.
Kamp: Hier is agt staanplekke wat twee ablusieblokke deel. Elke staanplek het 'n kragpunt en private braaigeriewe. R170 per volwassene, R75 per kind. Verken Daar is geheime canyons in die nabygeleë Aussenkehr-natuurpark. 'n Permit kos R175 per voertuig; kry 'n kaart by die ontvangskantoor by Norotshama. Jy kan ook by die Aussenkehr Spar 'n permit koop en die heksleutels kry.
Kontak: 00 264 63 29 7215; norotshama@africaonline.com.na
Lus vir vakansie?
Gebruik die Afrikaanse soekenjin www.wegreis.co.za om vliegkaartjiepryse vir binne- en buitelandse vlugte te vergelyk. Teken in vir die nuusbrief om koeponkodes te ontvang vir afslag op enige binnelandse- of buitelandse bespreking (geldig tot 31 Maart 2020)!
DOEN 'N BEGELEIDE TOER
As jy saam met Bhejane 4x4 Adventures toer, hoef jy jou oor niks te bekommer nie. Hulle sorg vir jou kos en verblyf en daar is 'n toergids wat interessante inligting deel en jou kan help as jy vassit.
Gaan na bhejane.com vir nog inligting oor die Richtersveld-toer, bel 044 535 9033 of stuur 'n e-pos na bookings@bhejane.com













