Reis

Die Boer en die Engelsman

Foto's Leon Botha

Die dorpie Waenhuiskrans het, nadat die skip die Arniston in die negentiende eeu hier gesink het, ook dié naam gekry, en vandag nog word al twee gebruik.

Ook vir die woonwapark word albei name gebruik. Op die regterkantste pilaar by die ingang staan "Waenhuiskrans-oord" en links "Arniston Resort". In die kantoor vertel Lorna Murtz Engelse toeriste kry nie die naam Waenhuiskrans uitgespreek nie en gebruik die Engelse naam, maar die meeste inwoners op die dorp praat van Waenhuiskrans.

Op ons badkamersleutel se ringetjie staan "Nr. 23", maar Lorna sê ons kan op enige staanplek opslaan.

As die papierwerk eers afgehandel is, staan jy met vier gekramde bladsye plus die kontantstrokie bo-op. Die boonste bladsy waarsku jou - in hoofletters - teen diefstal. Veral beursies, handsakke en selfone moet op 'n veilige plek gebêre word, maan die bestuur.

'n Mens kry ook die idee sommige besoekers gee die bestuur grys hare, want op die vierde bladsy is 'n lys van oortredings met die boetes wat daarvoor opgelê kan word - jy gaan byvoorbeeld R100 opdok as daar meer as die toegelate mense op jou staanplek oorslaap, en R150 as jy in enige van die badkamers rook.

Groenlaan

Dié geweste is 'n winterreënvalstreek en teen die laatwinter, wanneer die noorde van die land vaal is, lyk dit of die plek 'n goeie dosis kraalmis en water gekry het.

Anders as in L'Agulhas en Struisbaai is die kampplek nie 'n oop stuk gras sonder bome nie. Hier staan verdieping hoë manatokabome in rye en hulle verdeel die kampplek as 't ware in 'n klompie kleiner kampe.

Op die teerpad waarmee jy die kampplek inry, is nommers geverf om vir jou aan te dui waar jy moet afdraai na jou staanplek toe. (Die nommers is ook op die vullisdromme aangebring.)

Jou kragboks is naby, maar die naaste kraan moet jy gaan soek. Net soos in L'Agulhas en Struisbaai het jy nie 'n braaiplek of braaier nie en jy moet jou eie een saambring.

Die badkamers wat ons aangesê is om te gebruik is in 'n lang dubbelverdiepinggebou in die linkerkant van die kampplek.

Die uitleg en geriewe is soortgelyk aan Struisbaai s'n, maar die badkamers hier op die grondverdieping is benoud met die betonplafon bo jou kop. In die middel van die gebou is wasplek vir skottelgoed en klere.

Agter die kantoor is enkele staanplekke met 'n badkamer en ver regs in die oord, in 'n oop gedeelte sonder bome, nog staanplekke met nuwer badkamers wat ook vir gestremdes ingerig is.

Laagwatergrot

Die naam Waenhuiskrans verwys na 'n grot omtrent 2 km van die kampplek af. Om by die grot te kom draai jy regs by die kampplek uit en dan weer regs by die vierrigtingstop.

Van hier af loop die pad vir 'n kilometer tot by 'n groot parkeerplek langs die strand. Van hier af kyk jy, soos van 'n verhoog af, op die strand en die branderplankryers in die water. Die grot is verderaan, maar die pad is klipperrig en sanderig en jy kan dit slegs met 'n 4x4 of te voet bereik. 'n Bordjie wys vir jou die pad en dis net enkele minute se stap. Aan die einde van die pad klim jy met 'n klippaadjie teen die steil duine af.

Die rotsformasies langs jou is uitsonderlik en 'n mens kan mooi natuurfoto's neem. Aan die einde van die paadjie lê die grot aan jou regterkant, maar jy sien hom die beste as dit laagwater is. Hou dus die gety dop om die meeste van jou grotbesoek te maak.

Dís hoe jy ry

Die oord is aan jou regterkant wanneer jy Waenhuiskrans binnery.

GPS: S34.668636 E20.229350

WegSleep sê: Jy kan met jou bankkaart by die kantoor betaal, maar die kaartmasjien lol soms.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM