Byna 'n duisend mense het met groot entoesiasme deelgeneem aan die eerste Weg-Stapfees, aangebied deur Hi-Tec. En wat 'n lekkerte was dit nie!
Jonk en oud, fiks en amper fiks, gesoute stappers en groentjies . . . Mense het van Amanzimtoti en Beaufort-Wes en Robertson kom deelneem op Meerendal buite Durbanville, en dit was 'n fees!
Vrydag om 18:00 het die eerste groep van sowat 200 aangetree voor die Hi-Tec-tent op Meerendal, en kuier-kuier die eerste 5 km-pretstap tussen die wingerde afgelê. En op eg Weg-manier het mense oor en weer gesels asof hulle mekaar al jare ken. Daarna is daar 'n vleisie op die kole gegooi en saam met die musiekmakers gekuier. Maar nie te laat nie, want Saterdag se taai stappe het nog voorgelê!

Hou bene hou
Saterdagoggend was dit vroeg uit die vere vir die deelnemers aan die 25 km-stap. Pierre Steyn, die redakteur van Weg, het om 06:00 die eerste groep afgesien wat voor die Hi-Tec-tent weggespring het. Binne die eerste kilometer het die kwaai klimwerk begin op teen Dorstberg, maar die stappers het 'n molshoop van daardie berg gemaak!
Die eerste watertafel was 'n welkome lafenis, waarna die bene effens ruskans gekry het op die plaaspaaie wat die 25 km-stappers weer tot by 'n paar lekker bultjies geneem het.
Intussen het die 12,5 km-stappers om 07:00 weggespring en ook met selfvertroue vir Dorstberg aangedurf. Hulle het dieselfde roete as die 25 km-bittereinders gevolg, maar by die eerste watertafel afgedraai. By daardie einste watertafel het hulle van die 25 km-stappers aangetref, wat met 'n Kaapse draai teruggeneem is tot by dieselfde tafel om weer hul waterbottels vol te maak.
Van hier af is was die roete nie moeilik nie en het dit op kalm fiets- en plaaspaaie gekronkel tot by die pragtige Diemersdal, waar die laaste watertafel gewag het. Van daar af was dit 'n kort entjie terug tot by die feesterrein op Meerendal, waar mense 'n koel drinkdingetjie kon kry en in die Hi-Tec-tent kon ontspan.
Alles was darem nie lank en moeilik nie. Om 08:00 op Saterdag het die 5 km-stappers op Meerendal weggespring en weer 'n pragtige roete tussen die wingerde gevolg.

Sondag se laaste stap, 'n lekker 10 km, het om 08:00 weggespring en het 'n mooi roete aan weerskante van die opstal op Meerendal gevolg. Jy het ente langs die dam gestap en weer die sirkelroete om die koppie geneem. Daarna is daar lekker pryse - geborg deur Hi-Tec en Stanley Suid-Afrika - uitgedeel.
Mense het mekaar hartlik gegroet met: "Sien julle weer volgende jaar!"














