Reis

Die kuns van ’n lang lewe

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Daar is nie in Japannees 'n woord vir "aftree" nie. In dié land word jy gelukkig en gesond oud omdat jy 'n doelgerigte lewe lei, saamgevat in die enkele woord "ikigai".

Om die Kenrokoehen-tuin te besoek laat jou voel asof jy die illustrasie van 'n Japanse kinderboek binnestap. Dit is boonop langs die stad Kanazawa se kasteel, in die Isjikawa-streek.

Dié sprokiestuin, waar 'n ou man in 'n bruin kimono rustig langs 'n poel water loop, is een van die drie voorste tuine in Japan om te besoek, kompleet met houtbruggies, versteekte uitkykpunte, water, teehuise, lanterns en groot bome, waarvan sommige in die vorm van 'n bonsai is.

Die lieflike Kenrokoehen-tuin in Kanazawa.Foto: iStock
Die lieflike Kenrokoehen-tuin in Kanazawa.Foto: iStock

Gryskoppe, dikwels onder daardie kenmerkende strooihoed, werskaf en beweeg rond met kruiwaens, grawe en ander tuintoerusting. Net soos in die groenigheid van die kalm-koel tuine van die keiserlike paleis in Tokio en die glinsterende Goue Paviljoen buite Kioto (die hoofstad van 794 tot 1868).

"Slegs wanneer jy aktief is, sal jy 'n honderd jaar oud wil word,'' lui 'n Japanse gesegde.

In dié taal is daar nie 'n woord vir "aftree" nie. Maar wat hier uitgeleef word, is die begrip "ikigai". Dit beteken 'n "doelgerigte lewe". Anders gestel, 'n réde om voor te leef.

Die woord is 'n samevoeging van "iki" en "kai" (laasgenoemde uitgespreek as "gai') waar "iki" beteken "om te lewe" en "kai" beteken "vrugbaar" of "doeltreffend". "Kai" word ook verbind met uitdaging, passie en uithouvermoë.

En só beleef ek die nasie van die opkomende son.

Miskien klink ikigai vreemd, ontoeganklik, te anders . . .

Maar dan besef 'n mens daar is raakpunte tussen ikigai en bekende begrippe soos die "logos­terapie'' van die Oostenrykse psigoterapeut Viktor Frankl wat die Nazi-konsentrasiekampe in die Tweede Wêreldoorlog oorleef het. Volgens Frankl maak jou omstandighede die lewe nooit ondraaglik nie. Slegs wanneer jy geen sin of doel in die lewe het nie, het jy geen hoop nie.

Frankl het ná diepte-studies in sy kliniek in Wenen gevind 80% van pasiënte en personeel glo jy het 'n rede nodig om te leef, terwyl 60% gereken het hulle het iemand of 'n saak nodig waarvoor hulle bereid is om te sterf.

Draai die klok terug na 1945, toe die Amerikaanse weermag die wêreld vir ewig verander het met die grusame atoombomaanvalle op Hirosjima en Nagasaki op onderskeidelik 6 en 9 Augustus.

Mari Katsoei, ons gids, vertel van Japanse artse wat onderneem het om ná die aanvalle als in hul vermoë te probeer doen om so lank as moontlik te probeer leef sodat hulle na die gewondes kon omsien. Doelgerig. Meer as 90% van die mediese personeel (artse en verpleegsters) het omgekom toe die eerste atoombom Hirosjima getref het.

Alle werk is waardig

Terug na die hede. By die woelige oggendmark in die stad Takajama in die bergagtige Gifoe-streek gons dit. Mense skarrel en koop vrugte, groente, kerse, rys, juweliersware, keramiekware en blomme. 'n Swartkop vrou met 'n lemmetjiegroen baadjie maak sommetjies en hou dit uit na die gids sodat ek vir my inkopies kan betaal. Ek hoor die vrou wat die ware aan my verkoop is ouer as 80 jaar, maar sy loop flink en lyk nouliks 70.

Terwyl ons wag op die supersneltrein (wat 300 km/h ry) van die Kioto-stasie na Hirosjima, gesels Katsoei met 'n waardige Japanse heer. Hy't grys hare, glimlag sag, is lank, bruingebrand, netjies gepak met sy werksak. Agterna hoor ons hy is 90 jaar oud.

Die tuine rondom die Goue Paviljoen, bekend as Kinkajoe-Jo, naby Kioto, is ontwerp om die heilige Boeddha te vereer. Foto: Marguerite van Wyk
Die tuine rondom die Goue Paviljoen, bekend as Kinkajoe-Jo, naby Kioto, is ontwerp om die heilige Boeddha te vereer. Foto: Marguerite van Wyk (Jo Van Eeden)

Taxibestuurders en opsigters van woonstelgeboue in dié land is dikwels mense wat in hul vorige werkslewe uitvoerende hoofde van groot maatskappye, onderwysers of regsgeleerdes was. Hier pak mense later in hul lewe met gemak 'n volgende beroep aan.

Einde September vanjaar was daar volgens The Japan Times 92 000 honderdjariges in Japan - die meeste van hulle vroue.

Okinawa, 'n klein eiland aan die suide van Japan waar die laaste veldslag van die Tweede Wêreldoorlog plaasgevind het, is een van die sogenaamde "blou sones". Dié sones, waar mense uitsonderlik lank leef, is danksy Dan Buettner se Netflix-reeks: Live to 100, Secrets of the Blue Zones, baie in die nuus.

Soms word daar selfs na Okinawa as die eiland van onsterflikheid verwys. Die geheim? Ikigai.

Die ander "blou sones" in die wêreld is onder meer Ikaria in Griekeland, die Ogliastra-gebied in Sardinië, Loma Linda in Kalifornië en die Nicoya-skiereiland in Costa Rica.

Die beginsels van ikigai behels dat elke mense sy unieke lewensdoel vind - die werk wat jou psigies en intellektueel stimuleer.

Navorsers aan die Yeshiva University in New York het bevind mense wat die langste leef, is diegene wat positief en emo­sioneel intelligent is.

Hulle volg 'n plant-gebaseerde dieet wat 'n verskeidenheid voedsel, soos sewe vrugte en tot 18 verskillende soorte kossoorte per dag, insluit. In Okinawa eet mense gereeld 200 verskillende soorte kosse en speserye. En inwoners van dié eiland volg die hara hatsji boe-beginsel, wat agt uit tien beteken. Hulle hou op eet wanneer hulle voel hulle is 80% versadig.

Die imposante tuine van die keiserlike paleis in Tokio. Foto: iStock
Die imposante tuine van die keiserlike paleis in Tokio. Foto: iStock

'n Mens merk iets daarvan op in die klein bakkies met verskillende souse, speserye en eetgoed by tradisionele etes. Die ingesteldheid is een van klein porsies, maar hope verskillende smake.

Hul dieet is ryk aan anti-oksidante, vesel en anti-inflammatoriese kos en hulle neem sowat 2 000 kalorieë per dag in teenoor die 3 600 kalorieë van bejaarde Amerikaners.

Hulle doen geen ekstreme oefening nie, eerder tuinwerk en daaglikse aktiwiteite soos stap. Hulle sit kruisbeen op tatami-matte wanneer hulle eet en die sit en opstaan-aksies help vir balans en soepelheid.

Moai, oftewel hul sosiale struktuur, behels dat groepe geld en talente saamvoeg om mekaar te help. Dit strek verder as geldelike hulp en skep sterk ondersteuningsnetwerke.

Aandag aan detail

Delia Louw, 'n voormalige Paarliet, was 20 jaar gelede ná 'n besoek aan Japan, haar droom-bestemming, só beïndruk met die Japanners se lewenshouding, dat sy haar maatskappy Ikigai gedoop het.

Sy voer organiese koringhappies, rooibostee en wortelsap uit Suid-Afrika na Japan in om daar te verkoop. "Enigiets organies is gróót nuus in Japan. Suid-Afrika is die nommer-een-uitvoerland vir rooibostee,'' vertel sy. Sy bedryf haar maatskappy uit Ginza, een van die hoofstad, Tokio, se glansryke sakestreke, gevul met boetieks, skemerkelk-en-soesji-eetplekke en tegnologiese aha!-plekke.

"Dis asof my ikigai (lewensdoel) vir my bestem was. Ek is oorspronklik na Japan vir navorsing vir my doktorsgraad in stad- en streeksbeplanning, maar het besef dis glad nie wat ek wil doen nie.'' Intussen raak sy toe verlief op 'n Japanse grafiese kunstenaar en vestig haar in 2008 in Ginza.

"Ek hou van mense, is 'n groot foodie, passievol oor gesondheidsprodukte en reis.''

Die man in sy bruin kimono geniet die kalmte van die Kenrokuen-tuin in Kanazawa. Foto: Marguerite van Wyk
Die man in sy bruin kimono geniet die kalmte van die Kenrokuen-tuin in Kanazawa. Foto: Marguerite van Wyk (Jo Van Eeden)

Sy het al dié passies gekombineer om haar eie onderneming te begin.

"Die Japanners se aandag aan detail, in hul tuine, hoe hulle byvoorbeeld rose snoei, of die liefde waarmee hulle omsien na bonsai-bome, hul modes, binneversiering, hoe hulle hul diere vertroetel, is absoluut bekoorlik.

"Die jong meisies se modes is veral inspirerend. Hoe hulle moeite doen met 'n oulike hoedjie, of borsspeld, of 'n interessante kraag, skoene, of handsak.''

Louw kan ook nie uitgepraat raak oor die mense se respek teenoor diere nie, met troeteldiere wat meestal in kinderstoot­waentjies rondkarwei word.

"Dit sluit als aan by ikigai," verduidelik sy.

Sy vertel van 'n vriend van haar wie se ma elke dag van die week vir haar katte 'n ander geur kos gee. "En in die winter slaap hulle sowaar op verhitte kussings!"

G'n fooitjies nie

Die erns en werksetiek van Japanners en hul behoefte om te dien, verwonder haar, vertel die Suid-Afrikaner Aimee Pace (29), 'n onderwyseres aan die Eikaiwa-skool in Osaka, wat hoofsaaklik onderrig aan volwassenes bied. Pace woon net minder as 'n halfjaar in Japan.

"Jy kry die gevoel dat dit húlle gelukkig maak om jou te help. Onlangs het 'n personeellid by 'n groot winkel aangedring om my pakkie tot by die deur te dra en het gebuig toe hy groet."

Flink en paraat woel 'n bejaarde man in die tuine van die keiserlike paleis in Tokio.Foto: Marguerite van Wyk
Flink en paraat woel 'n bejaarde man in die tuine van die keiserlike paleis in Tokio.Foto: Marguerite van Wyk (Jo Van Eeden)

Japanners weier boonop enige fooitjies. Trouens, hulle voel beledig daardeur, want hul werk is hul eer.

Jou lewensdoel lê nie noodwendig in iets gekompliseerd nie, vertel Louw. "Party vroue vou hul lewe lank osjibori, die warm waslappies waarmee 'n mens jou hande voor etes in re­staurante reinig," sê sy.

"Kyk hoe hard werk daardie man wat die blare bymekaar hark,'' merk ek teenoor Katsoei op terwyl ons in die tuine van die keiserlike paleis in Tokio loop. "Dis 'n belangrike werk, ja. Hy maak die tuin baie mooi,'' knik sy.

Ons wag vir die hysbak om die 332 m hoë Tokio-toring, die tweede hoogste struktuur in Japan (die Azaboedai Hills in Osaka is hul hoogste wolkekrabber) te bestyg en klim af op die hoofdek op 150 m, vanwaar jy 'n 360°-uitsig op dié stad met sy 40 miljoen inwoners kry. Die kameras flits (maar dis goed om eers toestemming te vra voor jy foto's neem) op die sjiek "toringbeamptes'', amper soos lugwaardinne uitgevat, wat vriendelik keer dat jy uit jou beurt die hysbak bestyg. Dis hul werk. En hulle doen dit met 'n glimlag. (Japan is, terloops, nie 'n land vir vrye geeste nie. Reëls kraai hier koning. En tog, kreatiwiteit gedy!)

Ikigai
Ikigai

In hierdie land, wat volgens data van tradingeconomics.com 'n werkloosheidsyfer van slegs 2,7% het, sien niemand neer op enige werk nie. Op skool is dit deel van die leerplan dat kinders onderwysers se toilette skoonmaak. Openbare toilette is silwerskoon.

"Almal respekteer mekaar, die natuur en bou saam aan die land van die opkomende son,'' vertel Louw.

Pace vertel baie van haar studente wat Engels leer, werk nie meer formeel nie, maar hulle is steeds betrokke as tuiners of help uit met ander take wat hul hand vind. "En die meeste van hulle woon méér as een les per week by. Die meeste Japanners is ook dol op fluite en bespeel graag musiekinstrumente."

Japan het ook háár ikigai versterk. "Elke keer as 'n student dankbaar is omdat hy of sy een nuwe woord aangeleer het, voel dit of ek my dagtaak vervul het,'' erken Pace.

En elke mens se ikigai verskil. "Maar ons almal soek na 'n sinvolle lewe,'' reken die Spaanse skrywer en ikigai-kenner Héctor Garcia.

As jy nog wonder oor jou ikigai, vra jouself hoe jy jou gemeenskap wil dien. Dikwels lê die antwoord(e) in die dinge waaroor jy in jou jeug gedroom het, meen Tsoetomoe Hotta, 'n voormalige staatsaanklaer wat nou 'n maatskaplike werker is.

  • Vir meer inligting, lees Ikigai - The Japanese Secret to a Long and Happy Life deur Héctor García en Francesc Miralles, uitgegee deur Penguin.
  • Dankie aan Jan Hough (jan.te@galileosa.co.za), eienaar van TE Toere in Kaapstad. Boetiektoere na eksotiese bestemmings is sy spesialiteit.
  • Van Wyk is 'n vryskutjoernalis van Kaapstad.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM