Blaai saam met Willem Jordaan, redakteur van Die Burger, en Johnn-Grant Munro, uitleghoof, deur die koerantargiewe se nuus van dié kalenderweek. Hier is ’n keur van die koerant se nuusdekking in sy 111-jarige bestaan.

Suid-Afrika: Twee skepe strand by Bakoven en Llandudno
Donderdag 28 Julie en Vrydag 29 Julie 1977: Twee skepe, die Antipolis en die Romelia, strand in ’n storm aan die Kaapse Kus. Op Vrydag 29 Julie berig Die Burger op die voorblad: “KAAPSTAD. – ’n Groot tenk-vragskip, die Antipolis (42 050 ton), is gisteraand in gure weer deur ’n noordwestewind van 25 knope naby Bakoven op die rotse gedryf. Die skip lê reg teen die kant, sowat veertig meter van Victoriaweg af. Die stranding het gevolg nadat die kabel gebreek het waarmee die Antipolis en nog ’n skip, die Romelia (32 913 ton), deur ’n sleepboot, die Kiyo Maru 2, gesleep is.

“Toe dit duidelik word dat die skip op die rotse gaan loop, is die Kaapse bergingsleepboot Wolraad Woltemade inderhaas ontbied, maar hy kon die stranding nie keer nie.
“Die Woltemade het gisteraand in die see ’n ent daarvan reg gestaan, maar daar is getwyfel of in die nag geprobeer sou word om die skip van die rotse te sleep.
“Die Antipolis en die Romelia was op sleeptou onderweg na Taiwan, waar hulle afgetakel sou word. Albei die skepe op sleeptou is leeg.”
Die wrakke het oornag ’n trekpleister vir nuuskieriges geword. Die voorbladhoofberig van 30 Julie lui: “Die hoop het gisteraand bestaan dat die twee groot tenkskepe gered kan word wat deur ’n stormsterk noordwestewind op rotse aan die Skiereilandse kus gedryf is.

“Terwyl verteenwoordigers van die twee gestrande tenkskepe uit Japan na Kaapstad vertrek het, het die Departement van Vervoer gister gewaarsku dat streng opgetree sal word as die wrakke nie verwyder word nie.
“Honderde mense het gister na die tonele gestroom waar die Antipolis en die Romelia onderskeidelik eergisternag en gisteroggend vroeg gestrand het. …”
“Die hoop om die twee mank vaartuie te red, het verflou nadat die kragtige sleepboot S.A. Wolraad Woltemade in ’n reddingspoging beskadig was nadat hy vermoedelik ’n rotsbank onderwater getref het. Hy moes na die Tafelbaaise hawe terugkeer.”

Wat het van die skepe geword?
Die Antipolis se boonste struktuur is vir skroot weggesny en die res het gesink. Ná 45 jaar onder water het massiewe storms in Januarie 2022 die wrak weer uit die seebodem gelig en hoog op die rotse uitgegooi.
Die Romelia het in die vroeë oggendure van die Vrydag by Llandudno op die rotse geloop. Die branders het die skip in twee gebreek. Haar boeg het vinnig gesink, terwyl die agterstewe jare lank ’n bekende baken op die rotse gevorm het voordat die see dit uiteindelik heeltemal weggeslyt het.
Suid-Afrika: Eenwording tussen twee partye
Woensdag 1 Augustus 1951: Die Afrikanerparty sluit by die Herenigde Nasionale Party aan. Op 2 Augustus berig Die Burger op die voorblad: “Die nodige stappe tot eenwording van die Herenigde Nasionale Party en die Afrikanerparty word aanbeveel in ’n gesamentlike verklaring van die twee hoofleiers, dr. D. F. Malan en min. N. C. Havenga. Die verklaring is gister deur min. Havenga aan die hoofbestuur van sy Party in Johannesburg voorgelê en geesdriftig ontvang.
“Volgens die verklaring is ’n klein gesamentlike kommissie aangestel om die twee beginselprogramme, wat in groot mate reeds feitlik ooreenstem, in ‘letterlike ooreenstemming’ te bring. Dié program sal dan aan die op hande synde partykongresse voorgelê word.
“Die eenwording sal in werking tree op ’n datum wat later aangekondig sal word. Die lede van takke van die H.N.P. en die A.P. sal daarop saam vergader en hulself in takke van die Nasionale Party reorganiseer.”

Wêreld: Die eerste menslike bestuurder op die maan
Vrydag 30 Julie 1971: Apollo 15 land op die maan. Op 31 Julie berig Die Burger op die voorblad: “HOUSTON. Apollo 15 is op die maan. Die maanlandingstuig Falcon, het vanoggend kort ná middernag met kol. David Scott en lt.-kol. James Irwin in die bergagtige Hadley-Appenyne-streek van die maan geland.

“Die landing was foutloos, nieteenstaande die feit dat die Falcon sowat vyf uur tevore geweier het om met die eerste probeerslag van die moedertuig te ontkoppel.
“Kol. Scott en It.-kol. Irwin sal altesame 67 uur op die maan deurbring. Die derde lid van die bemanning, maj. Alfred Worden, sal intussen alleen in die moedertuig om die maan wentel. …

Op 2 Augustus: “Meer as 400 000 km ver het sy stem oor die eter gekom: ‘Ek wens ek kan sommer net hier op die grond gaan sit en daarmee speel.’
“Dit was die stem van kol. David Scott – Amerika se sewende ruimteman wat op die maan geland het.
“Op die aarde het duisende beeldradiokykers gesien waarna kol. Scott verwys het - duisende gekleurde klippe, sommige waarvan net die punte onder die wit maanstof uitgesteek het.
Maar kol. Scott en sy metgesel, lt.-kol. James Irwin, het net vlugtig stilgehou, ’n paar van die klippe opgeraap en verder in hul maanwaentjie, Rover, gery – die eerste voertuig op die maan wat deur ’n mens bestuur word.”
Ontdekking van die ‘Genesis-rots’
Die sending het deurslaggewende wetenskaplike deurbrake opgelewer, insluitend die ontdekking van die “Genesis-rots”. Gedurende die laaste maanwandel het kol. Scott, Galileo Galilei se valteorie voor die TV-kameras getoets. Hy het ’n swaar geologiese hamer (1,32 kg) in sy een hand en ’n ligte valkveer (0,03 kg) in sy ander hand op dieselfde hoogte vasgehou en hulle gelyktydig laat val. Aangesien die maan in ’n byna volmaakte vakuum bestaan en daar geen lugweerstand is om die veer te vertraag nie, het albei voorwerpe teen presies dieselfde spoed versnel. Die hamer en die veer het die maanoppervlak terselfdertyd getref. Dit het Galileo se wetenskaplike teorie fisies bewys dat swaartekrag alle voorwerpe teen dieselfde koers laat val, ongeag hul massa.
Wêreld: Japan se grootste lugramp
Vrydag 30 Julie 1971: ’n Boeing 727 en ’n vegvliegtuig bots bo Morioka in Japan en 162 mense sterf. Op 31 Julie berig Die Burger op die voorblad: “Altesame 199 mense het gister in twee grusame vliegtuigongelukke gesterf. In Japan het 162 mense omgekom deurdat ’n Boeing 727 van die lugdiens Nippon in die lug teen ’n Sabre-straaljagter gebots en neergestort het.
“Die vliegramp in Japan is die grootste in die geskiedenis van die lugvaart. Die vorige hoogste dodesyfer in ’n lugramp was 154 toe ’n Venezolaanse DC-9-passasierstraler in Maart 1969 op ’n dorpie naby Maracaibo neergestort het.
“Ná die botsing het die Boeing aan die brand geslaan en uitmekaar gebars. Wrakstukke en lyke het oor verskeie kilometers in die bergagtige gebied rondom die dorpie Sjizoekoesji in Noord-Japan gestrooi gelê. Die vlieënier van die Sabre, sers. Josjini Itsjikawa, het met ’n valskerm uitgespring en ongedeerd daarvan afgekom. …
“Die meeste van die passasiers was lede van ’n vereniging van familielede van Japannese soldate wat in die Tweede Wêreldoorlog gesneuwel het. …
“Die vlieënier van die Sabre was besig met ’n opleidingsvlug. Die vlieënier van ’n tweede Sabre, wat saam met Itsjikawa gevlieg het, het gesê hy het gesien hoe die passasiersvliegtuig hulle van die linkerkant af nader. ‘Ek het aan Itsjikawa gesê om te klim en na regs te draai. Toe ek weer na hom soek, het ek net gesien hoe die neus van sy vliegtuig in die rondte tol en aan stukke spat. Die Boeing het aan die brand geslaan.’ ”
Sport: Niki Lauda doen ernstige brandwonde op
Sondag 1 Augustus 1976: Die renjaer Niki Lauda word ernstig beseer op die Nürenberg-baan. Op 2 Augustus berig Die Burger op die voorblad: “MANNHEIM (Wes-Duitsland). – Niki Lauda, die wêreldkampioen-renjaer, is in lewensgevaar.
“Dokters het verlede nag hier in die universiteitskliniek om sy lewe geveg nadat hy vroeër in die dag in die Wes-Duitse Grand Prix by Nürnbergring ernstig beseer is toe sy motor teen die skutreling langs die baan gebots en aan die brand geslaan het.
“Die wedren is uiteindelik gewen deur James Hunt van Brittanje, met Jody Scheckter van Suid-Afrika tweede.
“Die ongeluk het in die derde rondte van die veeleisende wedren deur die berge gebeur. Een van Lauda se Ferrari se agterwiele het in dié rondte uitgeval. Die motor het teen die skutreling vas getol, en aan die brand geslaan.” * (Bykomende bronne: Deutsche Welle; BBC Culture; Double Apex; Formula 1 Hall of Fame.)

Beserings
Lauda het ernstige derdegraadse brandwonde aan sy gesig en hande opgedoen, en die grootste deel van sy regteroor en hare verloor. Hoewel hy uiteindelik herstel het, het longskade weens die gifgasse in die brand langtermyn-gesondheidsprobleme veroorsaak. Hy moes later ’n longoorplanting ondergaan. Lauda is weens komplikasies hiervan op 20 Mei 2019 in die ouderdom van 70 vreedsaam oorlede.
Sport: Eerste Die Burger Berg
Saterdag 28 Julie 1962: Die eerste Bergrivier-kanomarathon word voltooi onder die vaandel van Die Burger.
Op 30 Julie lui die onderskrif by dié voorbladfoto: “Nollie Meiring (van Parys, Vrystaat), wenner van Die Burger se kano-wedstryd op die Bergrivier, wuif vir die groot skare wat hom Saterdag by Velddrif ingewag het. Meiring, wat ’n nuwe motor gewen het, het sy kano weggegee toe hy aan wal stap. Kort daarna het hy aangekondig dat hy sy roeispane vir goed gaan bêre. Hy is 45 jaar oud.”
Werd om te weet: De Burger ‘gebore’
Maandag 26 Julie 1915:De Burger verskyn die eerste keer. Die eerste hoofartikel lui: “Bij zijn intrede in de wereld brengt de jonge ‘Burger’ aan allen, die ons volk liefhebben, een vriendelike groet . . .
“De jonge ‘Burger’ brengt verder zijn vriendelike groet aan al die edele zonen en dochteren van ons volk, die, zoals blijken uit die en volgende uitgaven, zich om zijn verschijnen verblijden en zich in de geest rondom de pasgeborene schaaren. Hy brengt het ook aan de duizenden, die heinde en verre over geheel Zuid-Afrika verspreid wonen. . .
“ ‘De Burger’ is een kind van de smart en van de hoop. Hij is geboren uit die weeën van ons volk. Indien zware rampen niet ons volksbestaan hadden getroffen, hij zou er zeker niet geweest zijn. En daarom, al zeggen wij ook dat hij vandaag voor het eerst het licht aan-schouwt, toch is hij geboren in de nacht. ‘t Is donker in de wereld. De volkeren zijn gekomen in het dal der schaduwe des doods. Ook voor ons eigen volk is het de donkerste ure. Eens was er een tijd toen wij éen waren, éen in hart, ook al waren wij gescheiden door de grenzen van vier staten, ook al woedden de stormen over ons heen.
. . . Maar ‘De Burger’ is, zo hebben wij gezegd, kind niet alleen van de smart maar ook van de hoop. Als er geen hoop was voor ons volk, als er geen verwachting was dat de nacht zal voorbijgaan en de schaduwen vlieden, dan zou hij zeker nooit geboren zijn geweest. Voor het hopeloos verlorene verspilt men geen offers. Maar ontegenzeggelik, er is hoop. Diep beneden onder al de nuwe stormen van partijschap is er toch iets dat bindt. ‘t Is waar, ook dat kan ten slotte gebroken worden en dan is er geen hoop meer. Maar er zijn onmiskenbare tekenen dat het nationale hart weer begint te kloppen . . . Er ruist door het ganse land een nieuwe stroom, die steeds sterker wordt. ‘t Is de vaste wil om een volk te zijn . . . ”

Sterfte: Eva Perón op 33 oorlede
Saterdag 26 Julie 1952: Eva Perón (33). Op 28 Julie berig Die Burger op bl.3: “Argentinië is in rou gedompel deur die dood van Eva Perón, eggenote van die President.
“Sy is Saterdagaand in die ouderdom van 33 jaar oorlede ná ’n lang en ernstige siekte. Die aard van haar siekte is nie bekend gemaak nie, maar daar word gemeen dat dit die een of ander vorm van kanker was.
“Wenende menigtes het in die reën in die strate buitekant haar woning gestaan nadat hulle die nuus oor die radio gehoor het.
“Pres. Perón was langs Eva se bed toe sy gesterf het.
“Kort ná die aankondiging van haar dood is werkers dwarsdeur die land versoek om twee dae nie te werk nie en om dertig dae te rou. Die kabinet het aangekondig dat alle kerkklokke in die land vyftien minute gelyktydig sal lui wanneer die begrafnis môre plaasvind. Vlae sal tien dae halfstok wapper.”
“Don’t Cry for Me Argentina”
Perón was die stem van Argentinië se arm werkersklas. Sy het die elite uitgedaag en miljoene se harte gewen met haar grootskaalse liefdadigheidstigting. Sy was ook die dryfkrag agter vrouestemreg in 1947. In 1976 is haar lewe weergegee in die wêreldbekende musiekblyspel Evita deur Andrew Lloyd Webber en Tim Rice met die ikoniese treffer “Don’t Cry for Me Argentina”. In 1996 is dit omskep in ’n Hollywood-prent met Madonna in die hoofrol.
Ook gesien in die uitgawes:
1977: Merc jy iets snaaks op?
Die onderskrif by dié foto lui: “Mnr. Jac Ehlers van Graaff-Reinet staan hier by sy motor met ’n ingeboude televisiestel. Vir die fotonemery het hy die stel bo-op die motor staangemaak soos dit hier gesien word. Hy sê omdat hy baie moet reis, verskaf die televisiestel saans baie aangename ure op die pad”. Die berig lui: “Dis ’n linkerstuur-voertuig, maar die stel is só geplaas dat die man agter die stuur dit goed kan sien en selfs in die ry kan kyk sonder dat sy aandag van die pad af getrek word.”

Morné loop vir Naas dat die tande klap
Op 1 Augustus 1977 lui ’n voorbladberig: “Naas Botha het eergisteraand sy ma spesiaal gevra om Morné du Plessis op te bel en te sê dat hy geen kwade gevoelens koester nie en dat Morné nie oor die voorval moet sleg voel nie.

“Dit was ’n ongeluk.
“Botha, wat regstreeks van die veld na die hospitaal gebring is, het nie so ernstig seergekry as wat aanvanklik vermoed is nie. Gister is X-straalplate geneem wat toon dat niks gebreek is nie en dat net spiere beseer is.
“Du Plessis het Botha gisteroggend opgebel. Die jong losskakel was na die hospitaal en Du Plessis het gesê hy sou weer uit Kaapstad opbel om te hoor hoe dit met hom gaan. Hy het aan Botha se ma gesê hy is baie jammer oor wat gebeur het.
“Die ligtekop-losskakel van die Noorde sê al wat hy van die voorval kan onthou, is dat ’n skouer hom getref het. Hy het toe eers besef hoe groot en sterk Du Plessis is.
“Hy het sy bewussyn daarna verloor en eers bygekom toe hy hoor dat hy met ’n draagbaar afgedra moet word.”















