FOTO'S Evan Naudé
As jy 'n sin vir avontuur het, is die roep van die woestyn iets wat jy nie kan ignoreer nie. Evan Naudé het vanaf Solitaire tot duskant Walvis gery, en die geraamtes, skeepswrakke en slipfaces van die Namib-Naukluft beleef.
'n Woestyn lyk dalk leeg, maar is dikwels vol stories en legendes. Die Namib-woestyn is geen uitsondering nie. My woestynstorie begin op 'n plekkie genaamd Solitaire. Dis seker die mees gepaste naam vir 'n plek wat ek al teëgekom het. Want as jy hier woon, kan dit erg eensaam word.
Ek is hier om saam met Live The Journey die Namib in te vaar. En toe ek die toergroep ontmoet op die Solitaire Guest Farm, 6 km daarvandaan, sien ek ons is byna meer mense as wat in die dorp woon. Om 'n groot swart pot op die vuur kry ons kans om mekaar te leer ken. En dis ook maar goed so, want vir die volgende paar dae sal op mekaar aangewese wees vir geselskap.
Die volgende oggend word ons konvooi se voertuie, 14 in totaal, vir oulaas nagegaan voordat ons noordwaarts op die C14 vertrek. Sowat 35 km later hou ons stil by 'n hek waar 'n verbleikte geel naambord lees: "Namib-Naukluft Park No Entry." Ek ry saam met ons gids, Simon Wearne, en hy het een van die toer se belangrikste stukkies gereedskap: die sleutel vir die slot van daai hek.

Anderkant die hek vat ons pad met 'n tweespoor oor 'n wye vlakte wat my aan die ooptes van die Kaokoveld herinner. Van hier af is die plan om vir die volgende vyf dae oos te hou deur die Namib se sandsee. Wanneer ons die kus haal, sal ons strandlangs noord ry tot in Walvisbaai.
Stadig maar seker begin die Namib van gedaante verwissel. Suid van die Saagberg, wat lyk of sy skerp pieke aan die hemelruim probeer skaaf, kry ons die eerste roesbruin duine. Die spoor loop plek-plek deur klipstapels en later oor nog vlaktes, sommige met die geheimsinnige feetjie-sirkels besaai. Simon vra die kinders in konvooi se opinie oor dié eienaardige ronde kringe op die grond waarin niks groei nie. Teorieë wissel van aardgas wat hier uitborrel tot rysmiere se geite, maar nes die wetenskaplikes weet niemand vir seker nie.

Op pad na 'n uitkykpunt op 'n hoë duin sien ons een van die Namib se mees ikoniese prentjies: 'n gemsbok wat op die kruin van 'n duin staan en die konvooi doodluiters dophou. Ons hou stil vir foto's en toe ons wegtrek, kom daar byna onmiddellik 'n boodskap oor die radio: "Simon, jy sal gou moet kom help." Ons draai om en gaan kyk. André Basson se Fortuner staan skuins met sy neus in 'n gat. "Dis daai d*nnerse gemsbok se skuld!" skerts hy toe ons nader stap. "Ek het hom afgeneem en nie gekyk waar ek ry toe ek weer wegtrek nie. Jammer julle," verduidelik André. Simon roep ons ondersteuningspan, wat heel agter in die konvooi ry, om te kom help.
Op Johnny Shikongo en Elvis Anamab se CV's staan daar nie net drywer, braaier en professionele kampmaker nie, maar ook herwinningspesialis. Hulle kry die Fortuner in 'n japtrap uit. Later vertel André my dat dit sy eerste behoorlike 4x4-reis in sy eie voertuig is. "So ek is nog 'n virgin," lag hy, "maar vandag het ek my virginity in daai gat verloor!"

In die namiddag bereik ons die Kuisebrivier en sak teen 'n steil duin af tot in die rivierloop. Op die bodem verander die sand onmiddellik van oranje na wit en ons ry weswaarts onder die skadu van anabome. 'n Kilometer of drie verder slaan ons kamp op onder die bome met indrukwekkende rotskranse as agtergrond.
Dis 'n warm aand en die klank van opgewonde stemme weerkaats saam met die lig van die kampvuur teen die kranse rondom ons. En toe Jan van Niekerk later 'n visvangstorie vertel en beduie waar Meob min of meer van hier af lê, spot Heinrich Calitz hom soos net 'n goeie vriend kan. "Wag net daar, Jan," onderbreek hy 'n storie, "wáár sê jy is Meob?" Vyftien minute later kan die manne steeds nie ooreenkom op die rigting nie en selfs die posisie van die konstellasies word betwyfel. "Simon!" roep Heinrich die hulp van ons plaaslike ensiklopedie in. "Jan wil weet of die Suiderkruis dalk vanaand kon geskuif het?"
"Man!" kap Jan terug, "Jy kan vir my 'n duisend Suiderkruise bring, daai dorp is nog net waar hy altyd was!" Toe ek later gaan inkruip, hoor ek hoe hy nog sukkel om sy visvangstorie klaar te vertel.
Om in 'n straat te slaap
Die volgende oggend neem Simon ons vroeg teen 'n steil kliprant uit die Kuiseb na 'n uitkykpunt oor die rivier se weswaartse kronkels. Aan die suidelike kant van die rivier strek 'n landskap van vaal oranje sandgolwe tot op die horison, terwyl die landskap in die noorde bestaan uit voue kaal, grys klip. In die middel loop 'n lowergroen streep bome oor die wit riviersand. Dis hier waar ek begin leer dat die Namib graag sy landskap in net drie of vier kleure tooi.

"Die rivier stuit die sand net hier en spoel dit see se kant toe," verduidelik Simon. Ten spyte van die woestyn se ongenaakbaarheid, kan die magtige duine nie oor hierdie dun streep water kruip nie.
Ons sak weer af in die rivier en hou wes in die rivierloop af tot net anderkant Homeb. Hier draai ons suid en 'n paar kilometer verder begin ons spoor wes krul, see se kant toe. Tussen ons en die kus lê daar egter 'n formidabele klomp duinstrate - kolossale sandriwwe met lang, plat sandstroke tussen-in wat die landskap in noord-suid-lyne verdeel.
Simon lei ons met meesterlike vernuf deur elke rif se sandbranders. Eers vleg hy 'n spoor heen en weer teen een kant van 'n rif op, deur diep gate met skerp draaitjies onder en steil bulte met skerp draaitjies bo-op. Ek weet nie hoe hy die duine lees nie, vir my is dit 'n gesukkel om die regte lyn in die sand raak te sien, want alles lyk dieselfde. Daar is geen skaduwees wat diepte aandui nie en dis asof jou oë jou die heeltyd bedrieg.
Ondervinding is die geheim, hoor ek by Simon, en so verregaande as wat dit vir my klink, kan hy vorms in die duine herken. "Ons hou so ver moontlik in die spore," verduidelik Simon, "maar op plekke waai dit toe of die landskap verander. Dan is dit soos om 'n legkaart te ontsyfer."
Ons kampplek vir die aand is in een van die duinstrate. Gelukkig het ons 'n toilettent, want dis so plat hier dat jy 'n bitter wye draai sal moet loop om 'n groot genoeg bossie te kry. Dis egter een van die mooiste plekke waar ek al ooit gekamp het, veral wanneer die wêreld om jou teen sononder in 'n kaleidoskoop van pienk, wynrooi en donkergoud verander. En later, wanneer 'n goudgeel maan oor 'n duin kop uitsteek, is jy in jou eie sprokieswêreld.

Versteende duine en slipfaces
Die volgende oggend word ons wakker met 'n miskombers wat die duine rondom ons in 'n wit wasigheid wegsteek. Ons vertrek in die vars lug, wat 'n effense see-reukie dra, weer die sand-dieptes in. Gister was die groep se vuurdoop in die duine gewees, maar van hier af word die sandryery ernstig en dis heeldag net duine. Dis immers van die hoogste duine in die wêreld dié.
Ons steek 'n dosyn wye duinstrate, met duin-legkaarte tussen-in, oor.
Skuins voor middagete begin die bestuurders gekonfyt raak met die duinry en ons vorder flink tot by 'n interessante verskynsel. Op die bodem van 'n diep kom in die sand staan sandsteenformasies soos abstrakte standbeelde in 'n amfiteater. "Versteende duine," verduidelik Simon. In 'n stadium het die sand wat die lae sandsteen bedek het, weggewaai en kon die wind sy beeldhouwerk begin doen.
Ná middagete ry ons vir net lank genoeg vir ons kos om af te sak voor Simon ons by 'n "speelplek" laat stilhou. Later sou sommige in die groep na hierdie diep komme in die sand verwys as "gaatjies" en die kinders dit "rollercoasters" noem.

Voor ons val die sand vir omtrent 200 meter weg, en aan die anderkant klim die sand selfs skerper na bo. Simon vlieg weg van bo af en uit die hoek van my oog sien ek die spoedmeter se naald raak-raak aan 100 km/h. Onder in die gat voel ek hoe die bloed uit my gesig dreineer en my maag my derms platdruk. Dan begin die bakkie se neus na bo klim en ek sien net blou lug. Op die regte oomblik los Simon die versneller en maak 'n skerp draai na regs op die kruin van die duin. "Daarsy, so doen julle dit," sê hy op die radio toe ons stilhou. Een vir een volg die ander voertuie en met 'n "hou in die spore!" en "draai regs, régs!" elke nou en dan, kom almal veilig bo. Teen die tyd dat Johnny-hulle deur is, bewonder die res van die groep die uitsig met wye glimlagte en effe sweterige hande.
Tot dusver was die glyhellings, oftewel slipfaces, waarmee ons te doen gekry het, relatief mak. Maar daai namiddag hou Simon stil op die kruin van 'n duin waar ek net blou lug voor ons kan sien. Hy gee 'n glimlag voor hy op die radio sê: "Oukei dames en here, hier is ons nou by 'n lekker ou slipfacie." Ek klim uit en kyk af. Onder die bakkie se neus lê en wag 'n meneer van 'n slipface maklik langer as 100 meter.

Die geheim is om in eerste rat, laestrek te bly en die enjin se kompressie te gebruik om stadig na onder te ry. Een vir een ry-gly die voertuie teen die lang helling af met sandgolwe wat nes die adrenalien in jou are voor die voertuig uitvloei. Onder gekom moet jy weer vet gee teen 'n steil bult uit. Wat 4x4-ry betref, is daar min ervarings beter as dié.
Vanaand kamp ons by Olifantsbad, 'n semi-permanente kampplek teen die voet van 'n hoë glyhelling. Die Live the Journey-span het hier 'n windskuiling om 'n braaiplek en houthokkies vir twee storte en toilette opgerig. Dis 'n gerieflike slaapplek vir die volgende twee aande.
Geraamtes, skeepswrakke en diamantdorpies
Dag vier van ons reis is 'n sirkelroete wat ons eers reguit strand toe neem en dan suidwaarts verby Conceptionbaai, die Eduard Bohlen-skeepswrak en 'n verlate delwersdorpie voordat ons weer woestynlangs terugdraai na Olifantsbad.
Met ligter voertuie omdat ons weer op dieselfde plek kamp, ry ons vroegoggend nog 'n paar rollercoasters namate ons nader aan die see vorder. Deur een besondere steil gat maak Pieter en Lorainne Prinsloo se Fortuner dit nie aan die anderkant uit nie. Hulle trek agteruit en stoot weer vorentoe, maar sonder sukses. Simon besluit om af te ry en 'n beter lyn te soek, maar sy poging is ook onsuksesvol en ons sit saam met die Fortuner onder in die gat. Wat nou? Nou leer ek 'n les in geduld by Simon. Vorentoe en agtertoe probeer hy uitkom, maar die Hilux maak dit elke keer net-net nie. Simon herhaal eenvoudig sy metode: Druk teen die teenoorgestelde helling uit in trurat tot ek byna regop staan in my sitplek, skakel oor in eerste rat en laat waai.

"Wat sê hulle is die definisie van onnoselheid? Om dieselfde ding oor en oor te doen en 'n ander uitslag verwag!" sê Simon laggend toe hy weer onder stilhou en die duin aankyk soos 'n professor wat na 'n algebra-vergelyking op 'n bord staar. Veertig probeerslae later bedank ek tydelik as co-pilot en klim uit. 'n Man kan ook net soveel keer dieselfde rollercoaster na mekaar ry.
Miskien moet ek op 'n dieet gaan, want met die volgende probeerslag ry Simon uit die gat uit. Volgende is dit die Fortuner se beurt. Pieter neem stelling agter die stuur in en met Johnny wat op die radio beduie, begin hy in trurat teen die helling opry. En toe, onder luide toejuiging van die res van die toergroep, sommer eenklaps tot heel bo.
Hoe nader ons aan die strand vorder, hoe rustiger word die duine en uiteindelik lank en plat. Simon wys kopbene en 'n waterbottel wat eenkant lê. "Dis al 'n hele ruk hier. Niemand weet wat gebeur het nie, maar daai is 'n baie ou soort waterbottel," sê hy met een wenkbrou gelig.

Die plat oppervlak van die strand is 'n welkome blaaskans vir die skerp konsentrasie wat die duine vereis het en ons vorder gou tot by die wrak van die Eduard Bohlen, waar ons uitspan vir middagete. Dié skip was in 1909 onderweg vanaf Swakopmund na Kaapstad, toe dit in dik mis hier gestrand het. Al wat vandag oor is, is 'n verroeste romp en metaal-binnegoed wat uit die sand steek.
Met vol mae stoot ons aan tot by Holsatia, een van drie verlate delwersdorpies wat in die vroeë 1900's hier diamante uit die sand gesif het. 'n Mens wonder watter teëspoed of desperaatheid, miskien selfs gierigheid, werkers na hierdie onherbergsame plek gebring het. Terwyl ons deur die oorblyfsels van die dorpie stap, kry ek 'n idee van hoe moeilik die lewe hier moes gewees het. Die vervalle houthuisies met verweerde meubels in, die siwwe wat eenkant lê en 'n geroeste pypleiding is alles leidrade van 'n storie wat, nes dié van die kopbene en die Edward Bohlen, nog baie gate het wat net met verbeelding toegestop kan word.
Op pad terug na die kampterrein herinner 'n trop elegante gemsbokke teen 'n duin my dat die lewe hier tog ook skouspelagtig mooi kan wees.
Waar die sand die regte see groet

Op ons laaste dag mik ons reguit oos vir die strand. Op pad daarheen maak ons die meeste van die duine en geniet 'n laaste paar maagdraaie in 'n paar gaatjies. Dan is dit strandlangs noordwaarts, verby lui robkolonies wat in die son bak en 'n jakkals of twee wat in die verte wegskarrel en uiteindelik langs die bekende Lange Wand ("Lang Muur" in Duits) tot by die lang blou draai van Sandwich-hawe. Teen die Lange Wand is dit asof die duine die see kom groet, en ons het net 'n dun strokie strand om op te ry. Kort voor lank kry ons die soutpanne net suid van Walvisbaai waar ons die Namib-Naukluft verlaat. Dit is tyd om die woestyn te groet. Hopelik nie vir te lank nie, want soos ek die duine in die truspieëltjie sien verdwyn, is ek reeds lus om nóg 'n hoofstuk by my woestynstorie te voeg.

Wanneer is die beste tyd om te gaan?
Die Namib is heel jaar toeganklik en toere word regdeur die jaar aangebied. Van Januarie tot Mei is die wind rustiger, maar hou die somerhitte in gedagte. In Februarie en Maart is die kans goed om die Kuiseb te sien afkom.
Moet ek sandry-ervaring hê?
Dit is nie noodsaaklik nie. Jou gids sal raad en hulp gee.
Wat van my voertuig?
Jy moet 'n 4x4 met laestrek en goeie grondvryhoogte hê. Maak seker daar is behoorlike herwinningspunte voor en agter op die voertuig. 'n Kompressor is ook 'n goeie idee.
Wat word verskaf?
Ontbyt en aandete, gemeenskaplike kamptoerusting (opwasgeriewe, stort, toilet, ens.) en 'n tweerigtingradio vir elke voertuig.
Wat moet ek saamneem?
Jy moet jou eie tent, beddegoed, eetgerei, drinkgoed, middagetes, versnaperinge en twee sakke hout per voertuig saambring.
Hoeveel brandstof het ek nodig?
Jy moet genoeg saamry vir 550km. Dis feitlik heelpad dik sand, so bereken jou petrolgebruik op 3km/liter en dieselgebruik op 5km/liter. Jerrykanne kan op Solitaire volgemaak word.
En water?
Maak voorsiening vir 5 liter drinkwater per persoon per dag. Op hierdie toer moet jy ook 20 liter water saambring vir die kombuis en nog 40 liter as jy wil stort.
Kan ek op my eie hier gaan ry?
Nee. Hierdie roete val binne die Namib-Naukluft Nasionale Park en loop deur konsessiegebiede waar slegs georganiseerde groepe met die nodige permitte toegelaat word.
Hoe lank duur dit?
Ses nagte in totaal. Dit sluit die eerste nag op die gasteplaas buite Solitaire in asook die laaste nag in Walvisbaai. Die toer word daar afgesluit met 'n aandete wat op die toer ingesluit is.
Waar kan ek bespreek?
Live the Journey is die eksklusiewe konsessiehouers vir hierdie toer en bied 17 sulke toere per jaar aan. Kontak www.livethejourney.co.za, info@livethejourney.co.za,021 863 6400 (Kaapstad). Dit kos R9250 per volwassene in spitsseisoen en R8 750 in nie-spitstye en word jaarliks in Augustus aangepas. Kinders jonger as 17 jaar kry afslag.














