Reis

Doendinge in die Waterberg: Daar’s iets vir almal!

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Foto: Mia Louw
Foto: Mia Louw

"Wanneer iemand vra hoe lank dit hier neem om iewers heen te ry, het ons al 'n standaard-antwoord in die Waterberg," skerts Jessica Babich, 'n omgewingsantropoloog.

"Die antwoord is altyd: ‘Ag, seker sowat 'n halfuur.'"

En sy's nie verkeerd nie! Om van een wildplaas na die volgende te ry, neem telkens tussen 30 en 45 minute - hoofsaaklik omdat die Waterberg 'n enorme bergagtige biosfeer is, met groot plase en reservate.

Die dorpie Vaalwater lê in die middel van alles en is ook "sowat 'n halfuur" se ry van Jessica se huis af. Ons het afgespreek om mekaar vir middagete by die Seringa Café te ontmoet, en sy moet kort-kort eers haar storie staak om iemand te groet.

"Ons is 'n groot gemeenskap wat op klein plekkies saamtrek," sê sy laggend.

"Vaalwater is 'n mooi voorbeeld van een van dié kolle waar Waterbergers se paaie gereeld kruis. Want, dit maak nie saak waar jy woon nie, almal moet een of ander tyd kom melk koop!"

Die Waterberg se wildehonde is anders. Hulle behoort nie tot 'n spesifieke reservaat of wildplaas nie en kom en gaan al vir honderde jare nes hulle wil.

Unesco het die Waterberg in 2001 tot 'n biosfeerreservaat verklaar.

"Ons is 'n belangrike opvangsgebied vir die Limpoporivier," verduidelik sy. "En die Waterberg is ook die tuiste van Suid-Afrika se laaste trop wildehonde wat nog vryelik rondloop."

Van dié wildehonde hoor 'n mens by al wat 'n local is. Die spesie is bedreig en die paartjies wat nog in Suid-Afrika oor is, hou meestal binne die amptelike beskermde gebiede.

"Maar die Waterberg se wildehonde is anders. Hulle behoort nie tot 'n spesifieke reservaat of wildplaas nie en kom en gaan al vir honderde jare nes hulle wil. Jy sien selfs in die omgewing se rotskuns uitbeeldings van wildehonde."

Die trop se dinamika het oor die jare verander soos splintergroepe weggebreek het. Tans is hier twee stabiele troppe en een verspreide groep in die Groter-Waterberg-gebied.

Een van die troppe swerf iewers rond in die stuk of 1250km² tussen Vaalwater en Lephalale. Dit strek oor 55 private wildplase, veeplase, natuurreservate en landbougebiede.

Die honde is maar altyd in gevaar… nie alle boere is te vinde vir rondloper-roofdiere wat dalk hulle vee kan vang nie. In Desember 2023 is daar hoeka ses van dié trop se diere in die middel van hulle tuisgebied vergiftig.

Later die dag ontmoet ek vir Tom Nevin, Lindani Lodges se bestuurder. En ook hy het iets te vertelle oor hoe 'n paar drosters van die ánder stabiele trop soms oor hulle grond trek.

"Dis maar moeilik vir die wildehonde om hier te oorleef. Hier's paaie wat hulle moet kruis, en mense stel steeds strikke in die veld of skiet sommer op die honde. Hulle is nie oral ewe welkom nie.

"Maar op Lindani is dit altyd 'n hoogtepunt as die honde kom kuier, want ons besef hoe min mense hulle ooit te sien kry."

In die verlede was beesboerderye wel baie groter, maar deesdae is daar net 'n handjievol van dié plase oor. Die meeste grondeienaars het reeds oorgeslaan na wildplase toe.

Bewaringskwessies lê Jessica na aan die hart. Sy's betrokke by verskeie groepe, insluitend die Rhisotope Project wat die gebruik van kernkragtegnologie in renosterhoring wil bevorder - om nasporing te verskerp en sodoende stroping te bekamp.

"Die Waterberg het die naasgrootste oorblywende renosterbevolking op aarde. En dis die rede waarom ek hier is," sê sy.

Die omgewing se biodiversiteit was ook 'n trekpleister.

"In die valleie sal jy lappies gesaaides sien, maar omdat die grondlaag hier so vlak is en jy ook boonop met suurveld te make het, is dit nie so gunstig vir landbou nie. In die verlede was beesboerderye wel baie groter, maar deesdae is daar net 'n handjievol van dié plase oor. Die meeste grondeienaars het reeds oorgeslaan na wildplase toe."

Dis die helder naghemel en die gebrek aan ligbesoedeling wat vir dr. Philip Calcott, 'n fisikus en sterrekundige, die Waterberg spesiaal maak. Hy neem die voortou by Waterberg Cottages se Night Sky Safaris (begeleide sterrekyksessies).

Philip het aan die universiteite van Oxford en Sheffield fisika studeer en 13 jaar lank as 'n navorsingswetenskaplike in die Verenigde Koninkryk gewerk. Toe ontmoet hy sy Suid-Afrikaanse vrou, Juliet, terwyl hulle albei vir 'n Christelike sendingsorganisasie gewerk het, en die twee is in 1997 getroud.

"Ons het toe op 'n klein dorpie genaamd Kempsey in Worcestershire gaan woon, met 'n uitsig oor die Severnrivier se vloedvlakte," vertel Philip.

"Ek het regtig gedink dat Juliet van die landelike bestaan sou hou. Dit het nogal soos hierdie omgewing gelyk. Maar nee - daar was vier ander huise binne sigafstand en dit was net te veel mense vir haar!"

Juliet, Philip en hulle hondjie, Maxi (kort vir Maximus Cuticus Naughticus). Foto: Mia Louw
Juliet, Philip en hulle hondjie, Maxi (kort vir Maximus Cuticus Naughticus). Foto: Mia Louw

Eintlik het Juliet na haar familie, die Waterberg en sy mense verlang (sy het ook grond hier besit). Ná ses jaar oor die waters het Philip ingestem om te trek.

"Ek het haar skoppend en skreeuend soontoe gesleep, maar my glimlag was groot die dag toe Juliet my terugbring Waterberg toe."

Na 'n naweek hier sal jy sommer gou verstaan hoekom Philip so lief is vir hierdie wilde hoek van Limpopo. En moenie dink jy gaan verveeld rondsit nie - hier's byna te veel doendinge en blyplekke om van te kies!

Toemaar, die dinkwerk is reeds gedoen, en hier's 'n lys van die mooiste en beste... almal so 'n halfuur se ry van mekaar af.

Vir sterrekykers en geskiedenisliefhebbers

Waterberg Cottages en AfriCamps

Tydens Philip se Night Sky Safaris dui hy sterre en planete met 'n laser aan. Foto: Mia Louw
Tydens Philip se Night Sky Safaris dui hy sterre en planete met 'n laser aan. Foto: Mia Louw

'n Entjie van die hoofgebou af lê 'n paar mense op matrasse onder komberse. Hulle wag gretig dat dr. Philip Calcott se praatjie begin.

"Ek gaan julle aan die ruimte se hooftrekke bekend stel - van die naaste tot die verste dinge wat ons hier van die Aarde af kan waarneem," begin hy.

"Sou 'n mens van hier af 'n entjie die ruimte in reis, is die eerste hemelligaam waarmee jy paaie kruis, die Maan. Nou, 384000 km klink dalk báie ver hiervandaan, maar dink gou oor hierdie som: Charles Baber, my skoonpa, het eers hier geboer.

"Hy't met 'n Mercedes op die plaas rondgery en daai kar het op die ou einde 1,2 miljoen kilometer op die klok gehad. Skoonpa kon dus Maan toe, terug, en nóg 'n keer Maan toe gery het."

Philip weet nie net baie oor die hemelruim nie, maar oor die diere in die 25km²-wildreservaat ook.

"Ons sien van tyd tot tyd 'n luiperd, hier's 'n trop buffels en jy kan ook die meeste soorte vlaktewild te wagte wees, soos bastergemsbok, swartwitpens, eland, tsessebe en rooihartebees."

Maxi ry graag saam met Philip op wildritte. Foto: Mia Louw
Maxi ry graag saam met Philip op wildritte. Foto: Mia Louw

Afgesien van sterpraatjies en wildritte bied Waterberg Cottages ook perderitte, staptogte en donkiekarritte vir die kleingoed.

As jy in geskiedenis belang stel, laat Juliet jou vertel van haar oumagrootjie se oom en tante wat reeds in die vroeë 1890's in die Waterberg aangekom en regdeur die Anglo-Boereoorlog hier gewoon het.

Die oorspronklike opstal is net ná die oorlog, in 1910, op die aangrensende plaas genaamd 24 Riviere gebou. En dit lyk vandag nog so na as kan aan die ware jakob.

Jy kan dié ou gebou, asook 'n klein Anglikaanse kerkie - deur sir Herbert Baker ontwerp en in 1914 voltooi - saam met Juliet besoek.

Kuiergaste kan sebras en ander vlaktewild op die 25 km²-wildreservaat verwag. Foto: Mia Louw
Kuiergaste kan sebras en ander vlaktewild op die 25 km²-wildreservaat verwag. Foto: Mia Louw

Die geboue op die plaas Boschdraai (waar Waterberg Cottages staan) het ook 'n ryk verlede. Windsong Cottage dateer uit die 1920's en hoewel dit opgeknap is in 'n selfsorghuis vir 11, het die karakter van doeriejare behoue gebly.

Op die werf staan ook drie kothuise 'n klein entjie uitmekaar, met 'n swembad, klimraam en vlugbalbaan naby.

Volstruise loop verby Waterberg Cottages se AfriCamps-tente. Foto: Mia Louw
Volstruise loop verby Waterberg Cottages se AfriCamps-tente. Foto: Mia Louw

Die tien AfriCamps-tente kyk oor 'n grasland uit. Terwyl 'n mens hier in jou stoombad sit, kan jy dophou hoe 'n paar volstruise verbyslenter.

Waar? 33km noordoos van Vaalwater op die Melkrivierpad. Die laaste 9km van die afdraai af is grondpad.

Koste? Vanaf R1300p.n. vir 2 in Butterfly Cottage (slaapplek vir 4). AfriCamps (elke met plek vir vyf) kos vanaf R1990p.n. vir 2. Alle verblyf is troeteldiervriendelik.

Kontak 078 207 8570 | waterbergcottages.co.za

Vir bergfietsryers

Summerplace-wildreservaat

Josh Baber. Foto: Mia Louw
Josh Baber. Foto: Mia Louw

"My oupa het grootgeword waar die Waterberg Cottages vandag is," vertel Josh Baber. "En hy't hierdie stuk grond omtrent 'n eeu gelede ontwikkel."

Josh se pa, David, het die boerdery sowat 35 jaar gelede by sy pa oorgeneem en hy fokus deesdae op varke en bonsmaras. Josh se ma, Simone, het 'n houtwerkfabriek op die plaas. Hulle het eers sowat vyf jaar gelede die toerismemark betree.

"Ons wou nie soos élke liewe ander wildplaas net die gewone goed soos wildritte aanbied nie," vertel hy.

"Ek en my broer, Ben, en suster, Lilly, is almal beroepsbergfietsryers en het toe besluit om dié kennis by die besigheid in te sluit. Buitendien was hier reeds 'n klomp roetes op die plaas."

Summerplace-wildreservaat. Foto: Mia Louw
Summerplace-wildreservaat. Foto: Mia Louw

David het destyds 'n stuk of 40km se fietspaadjies uitgelê waarop sy kinders kon oefen. Sedertdien het die afstand tot 160km gegroei, en hier's iets vir almal, ongeag ervaringsvlak.

Summerplace se 22 verblyfeenhede lê 'n goeie entjie uitmekaar.

Summerplace-wildreservaat. Foto: Mia Louw
Summerplace-wildreservaat. Foto: Mia Louw

Hiervan is 10 luukse Hideout-tente, elk met sy eie stookbad. Die ander opsies wissel van groot huise met slaapplek vir 10, bondeltjies kothuise vir 'n groep van tot 12 gaste en losstaande eenhede vir 2 of 4 mense.

Summerplace-wildreservaat. Foto: Mia Louw
Summerplace-wildreservaat. Foto: Mia Louw

Wanneer 'n mens op Marula, Bushwillow of Saringa se stoep sit, voel dit asof jy vingeralleen op jou eie lappie aarde is. Maar as jy geselskap soek, kan jy net oorry na die restuarant of swembad toe.

Waar? 26km Vaalwater noordwes op die Melkrivierpad.

Koste? Vanaf R660p.p. wat deel (selfsorg). Rosemary, New Wine, Marula, York's View en Summerview is troeteldiervriendelik.

Kontak 083 302 5123 | summerplacegamereserve.com

Wat nog? Sjef Dylan Jonsson, wenner van die 2013-reeks van die TV-program Chopped SA, staan aan stuur van sake by die Summerplace Restaurant.

Dagbesoekers is welkom om hier te kom aansit - besprekings is noodsaaklik. Die Eggs Royal (R110) met 'n Engelse muffin, gerookte salm, geposjeerde eiers, babaspinasie en hollandaisesous sal jou weer woema gee ná 'n strawwe oggend op jou fiets!

Summerplace hou verskeie bergfietsbyeenkomste, soos die Glacier Waterberg Traverse en die Waterberg Biosphere Bundu Bash. Van die Suid-Afrikaanse Enduro-fietsren se skofte word ook hier uitgespook.

Vir die Groot Vyf

Marakele- nasionale park

Foto: Mia Louw
Foto: Mia Louw

In dié reservaat in die westelike uithoek van die Waterberg-biosfeer kan 'n mens nog 'n Groot Vyf-ervaring geniet wat nie jou bankbalans knou nie.

Marakele se bergagtige 700km²-grondgebied is in twee gebiede verdeel: "Die gebied waarin die kampterrein Bontle is, beslaan net 80km². Ons noem dit Kwaggasvlakte, en hier loop geen Groot Vyf-diere nie," verduidelik die reservaatbestuurder, Koketso Kotsoe.

"Dis waarom Bontle nie omhein is nie."

Die wild kan inderdaad tussen die 36 kampstanings kom en gaan soos hulle wil, en dis glad nie vreemd om 'n vlakvark op pad stort toe te sien nie! 'n Troppie rooibokke mag dalk ook net agter jou kampstoel verbydraf.

Dis net jammer die kamp lê so na aan die reservaat se suidelike grens; soms hoor jy die verkeer op die Warmbad-pad.

Foto: Mia Louw
Foto: Mia Louw

Vir stilte en daardie ware veldgevoel moet 'n mens liefs plek in die Tlopi-tentkamp op die rand van die Tlopidam of by die Motswere Guest Cottage bespreek. Albei lê in die Groot Vyf- gedeelte in die noorde van die reservaat.

In die ooste van die park kan 'n mens tot by die indrukwekkende Lenong-uitkykpunt bo-op Kransberg (2088m bo seevlak) ry - dis die hoogste punt in die park.

Foto: Mia Louw
Foto: Mia Louw

Van hier bo af kry 'n mens uiteindelik 'n geheelbeeld van die reservaat en besef jy ook hoe groot Marakele - en die res van die Waterberg-biosfeer - werklik is: die een ry blou berge na die ander, al die pad tot teen die horison.

Wees op die uitkyk vir kransaasvoëls. Die Kransberg-kolonie is sowat 900 broeipare sterk en een van die grootstes in die wêreld.

Waar? Die parkhek is 12km noordoos van Thabazimbi.

Koste? Kamp in Bontle: R374p.n. vir 2 mense, plus R114 per ekstra persoon en R57 per kind (maksimum 6 mense per staanplek). Safaritent: R1682p.n. vir 2, plus R330 per ekstra persoon en R165 per kind. Tlopi-tentkamp: R1957p.n. vir 2. Motswere Guest Cottage (slaapplek vir 6): R3364p.n. vir 2, plus R594 per ekstra persoon en R297 per ekstra kind.

Kontak 014 777 6929 | sanparks.org

Wat nog? Jy kan 'n wildrit, begeleide stap of fietsrit by die ontvangskantoor bespreek. Die Marakele-marathon vind elke jaar in Maart plaas. Hier is geen restaurante of winkels in die park nie.

Vir mooi uitsigte

Syringa Sands

Syringa Sands. Foto: Mia Louw
Syringa Sands. Foto: Mia Louw

'n Mens ry die steil en skurwe Jan Trichardt-pas om Syringa Sands te bereik. Alex Soedhoudt, die eienaar, het in 1998 uit Nederland in Johannesburg aangekom en toe op 'n vakansie in Zimbabwe haar toekomstige man, Sean, ontmoet. (Hy was ook van Johannesburg.)

"Ons het na eiendom in die Waterberg begin soek omdat dit naby genoeg is om vir 'n naweek weg te breek," vertel Alex.

"In 2003 het ons toe ons eerste stukkie grond gekoop. In daardie stadium kon nie ek óf Sean eens 'n seringboom van 'n boekenhout onderskei nie! Maar die plek het onder ons vel ingekruip en in 2010 het ons permanent hierheen verhuis.

Syringa Sands. Foto: Mia Louw
Syringa Sands. Foto: Mia Louw

"Sean het 'n ingenieursbrein en wou aanvanklik 'n plaas vestig - iets plat met uitgemerkte landerye en heinings rondom. Maar ná 'n leeftyd in Nederland het ek genoeg van 'n plat landskap gehad - gee vir my berge! Die oplossing was 'n blyplek met albei," vertel sy.

Syringa Sands. Foto: Mia Louw
Syringa Sands. Foto: Mia Louw

As jy - soos Alex - van 'n heuwelagtige landskap hou, bespreek die Mountain Cottage. ('n Mens het wel 'n 4x4 en deeglike ryvernuf nodig om daar uit te kom.)

Die strikkameras op die plaas het al luiperd, rooikat en tierboskat afgeneem, sowel as heelwat vlaktewildspesies.

Syringa Sands. Foto: Mia Louw
Syringa Sands. Foto: Mia Louw

Op pad terug van die Mountain Cottage af wys Alex die Lenong-uitkykpunt doer na die weste in Marakele uit. In 'n oostelike rigting staan die Sewe Susters - wanneer jy Vaalwater uit die suide nader, is dit dié sewe identiese bergspitse wat 'n mens in die Waterberg verwelkom.

Waar? 50km suidwes van Vaalwater

Verblyf? Hier's vier afgeleë selfsorgeenhede: Forest Cottage, Farm House, Mountain Cottage en Otters Edge. Jy kan tentopslaan by Rest Camp. Hier's 'n lapa, klein kombuis en badkamer met warm water en ook twee kamers (bring beddegoed). Rest Camp en Otters Edge het 'n uitsig oor damme (ja, jy mag roei, swem of hengel); Farm House het sy eie sementdam.

Koste? Rest Camp: vanaf R1000p.n. vir 4 mense, plus R150 per ekstra persoon (slaapplek vir 8). Die ander eenhede kos vanaf R1600p.n. vir 2 volwassenes en 'n kind. 'n Minimum bespreking van twee nagte geld vir alle verblyf buiten Rest Camp. By Forest Cottage en Rest Camp is twee klein of mediumgroot honde ook welkom - reël vooraf.

Kontak 083 325 7358 | syringasands.co.za

Vir voëlkykers en hengelaars

Nyl River Bush Camp

Foto: Mia Louw
Foto: Mia Louw

"My skoonpa, Ken, is mal oor kamp. Hy't gereken daar is 'n behoefte aan 'n kampplek teen die water, 'n plek waar mense kan kom visvang en stap en die voëllewe geniet. Toe maak hy dié plek in Januarie 2022 oop," vertel Martmeri Smit.

"Die Nylrivier was van 2015 tot 2022 droog. Maar ek sal dit nooit vergeet nie: op 27 April, Vryheidsdag, daardie laaste jaar, het hier skielik ná sewe jaar se droogte weer water afgekom."

Die Smitte boer al vir vyf generasies (111 jaar!) op die plaas Moorddrift. Martmeri het 13 jaar gelede in dié familie ingetrou.

Hulle besit en bestuur die Moorddrift-melkery, maar boer nie self met melkkoeie nie. Die melk kom van Dullstroom, Ermelo en Amersfoort.

"Dié omgewing is nie geskik vir melkbeeste nie, ons boer met bonsmaras."

Die 20 stanings tussen doring-, maroela-, kanniedood en raasblaar-bome is ietwat klein maar gelyk. Waar die kampterrein uitgelê is, word die rivier deur 'n keerwal opgedam sodat vissermanne kan ingooi vir kurper, karp en baber.

Foto: Mia Louw
Foto: Mia Louw

Enjingedrewe bote word nie toegelaat nie, maar hier is drie kano's vir gaste.

"Mense kom nie hierheen om partytjie te hou nie," sê Martmeri. "Hulle kom vir die vrede. én die voëls."

Nyl River Bush Camp. Foto: Mia Louw
Nyl River Bush Camp. Foto: Mia Louw

Die keerwal is sowat 'n kilometer se stap van die kampplek af, met reiers, duikers en selfs 'n visarend of twee wat op loer sit vir iets te jag.

Waar? 14km suidwes van Mokopane via die N11 en R101.

Blyplek? Elke staning het 'n braaiplek, kragpunt en kraan. Die staanplekke met gelyke nommers is reg teen die water (6, 8 en 10 het die meeste koelte). Die ander stanings lê 'n bietjie dieper in, maar só uiteengesit dat elkeen steeds tussen die waterkantstanings deur 'n uitsig van die rivier het.

Koste? R500 per staning vir 4 mense, plus R50 vir elke ekstra kampeerder (maksimum 6). In die Bush Lapa is 10 chalets (slaapplek vir 2 elk) met gemeenskaplike kookplek en ablusie. Gedurende die week kan 'n mens 'n chalet bespreek, maar oor naweke moet jy die ganse Bush Lapa (met slaapplek vir 20) bespreek: R600p.n. op 'n weeksdag of R5000p.n. oor naweke (minimum 2 nagte).

Kontak 082 923 2949 | nylriverbushcamp.co.za

Wat nog? Die Smit-familie hou bergfietsrenne en avontuurpretlope op die plaas. Die jaarlikse Nylrivier-sportfees vind in November plaas.

"Deelnemers swem 'n myl en draf 4km of 8km voordat hulle 'n vlot moet bou waarmee hulle dan om 'n dooie boom in die middel van die rivier moet vaar," vertel Martmeri.

Vir stap en fietsry

Lindani Lodges

Foto: Mia Louw
Foto: Mia Louw

Op Lindani se embleem pronk 'n kameelperd met 'n buitengewone lang nek. Die inspirasie kom van 'n rotskunspaneel op dié plaas.

"Lindani se uiteenlopende landskappe maak die plek spesiaal," sê Tom Nevin, die bestuurder.

"Ons het riviere, vlakte, bosland, vleiland én kranse. Die fietsryroetes strek oor 350km en vir stappers is hier 50km se voetpaaie uitgemerk. Maar jy kan ook met die fietsroetes langs gaan stap as jy wil. En op die 4,5km al langs die Melkrivier is daar 'n stuk of 16 poele waarin baars te vang is."

Van waar ons op die uitkykdek by die Makgethelo-piekniekplek staan, sien ons hoe twee stappers die Koperspruit kruis en 'n oomblik op die oranje rotse vertoef om asem te skep.

Foto: Mia Louw
Foto: Mia Louw

Dis Dale Towert en Robin Bester, twee gereelde besoekers aan Lindani. Hulle gunsteling-blyplek is die Boskamp-huis met sy verskillende uitsigte oor die oop vlaktes.

Foto: Mia Louw
Foto: Mia Louw

"Ons het tien selfsorgeenhede, elk met 'n swembad en g'n bure in sig nie," sê Tom. "Slegs by Motseng Village sal jy ander besoekers te siene kry, want dié geboue is vir groter groepe ingerig."

Hier's ook 'n kampterrein sowel as die Molope-tentkamp met vier safaritente onder die bome. Elkeen het sy eie toilet en wasbak, met 'n gemeenskaplike ablusieblok, kombuis, braaiplek en swembad.

Die gids Solly Nkhumane. Foto: Mia Louw
Die gids Solly Nkhumane. Foto: Mia Louw

Afgesien van sy pos as lodgebestuurder is Tom ook 'n kranige dokumentêre filmmaker. Om die waarheid te sê, dis eintlik hoe hy hier beland het.

Twee jaar gelede het Tom op 'n dag die dorpie Vaalwater op sy motorfiets binnegery. Hy was op soek na stories om te verfilm en verneem toe Alan van Coller, Lindani se eienaar, bedryf 'n buffelteelprogram. Tom het 'n rukkie hier vertoef om daarmee hand te gee, en hy is steeds vandag hier!

Waar? 38km noordoos van Vaalwater op die Melkrivierpad.

Koste? Kothuise: vanaf R1320p.n. vir 2 (met slaapplek vir 4). Molope-tentkamp: Vanaf R1000p.n. vir 2. Kamp: R220p.p. Die vier stanings het 'n gedeelde braaiplek en ablusie, maar hier's nie kragpunte nie. Alle akkommodasie is troeteldiervriendelik.

Kontak 083 631 5579 | lindani.co.za

Wat nog? Lindani Lodges en Painted Wolf Wines speel in Julie gasheer vir die Wines, Wheels, and Wild Dogs-naweek.

"Dis die tyd van die jaar wanneer wildehonde denne grawe en omtrent vir twee maande in een gebied bly," vertel Tom.

"Die Waterberg Wild Dog Initiative begelei dan fotograwe na dié plekke toe om die honde met hulle welpies af te neem."

Vir winskoopjagters

Groendraai River Cottages

Foto: Mia Louw
Foto: Mia Louw

Waar die ander blyplekke meer die gevoel van 'n wildreservaat het, is Groendraai pure plaas.

Thinus Maritz boer met tabak, aartappels, hennep, saadmielies en bonsmaras. Op die lande wat hy aan ander boere verhuur, staan ook maartlelies helderrooi in blom.

Foto: Mia Louw
Foto: Mia Louw

Maar dit beteken nie dat hier nie wild is nie.

Terwyl 'n mens saans in die boma braai, hoor jy rooijakkalse roep. En soggens is die bome rondom die drie kothuise die ene lewe: langstertlaksmanne waarsku mekaar oor die bruinjakkalsvoël wat verbyswiep, en 'n rooibekneushoringvoël voer sy kuiken in die kanferbos neffens die Stargazer-kothuis.

Foto: Mia Louw
Foto: Mia Louw

"Hier loop baie steenbokkies," vertel Leanda du Toit, die plaas se boekhouer wat ook hier woon, "en ons sien ook heel gereeld saans bakoorjakkalsies."

Foto: Mia Louw
Foto: Mia Louw

Die kothuise staan 'n entjie se stap van die Sterkstroomrivier af. Hier's ook 'n gemeenskaplike piekniekplek met 'n boma en 'n stookbad langs die Mokolorivier en 'n paar plaasdamme vir hengelaars (vang-en-vrylaat).

Waar? 23km noordwes van Vaalwater.

Koste? Die Stargazer- en Sunfish-selfsorgkothuis (elk met slaapplek vir 4): vanaf R540p.p. wat deel. Die Silver Carp-kothuis (ook met plek vir 4) staan nader aan die Sterkstroom, met 'n uitsig oor die rivier: vanaf R790p.p. wat deel.

Elke huis het sy eie stookbad en is toegerus met alles wat jy kan nodig kry en nog wat - hier's tot lugbraaiers, SodaStream-masjiene en bordspeletjies!

Die gebruik van 'n kajak kos R100 per dag en 'n bergfiets R150 per dag. Jy kan 'n piekniekmandjie (R120p.p.) en skoonmaakdienste (R100p.d.) bespreek.

Kontak 082 774 6825

Wat sê die mense?

Jessica Babich (Omgewingsantropoloog)

Jessica Babich. Foto: Mia Louw
Jessica Babich. Foto: Mia Louw

"Besoek gerus die Jugomaro Predator Park (072 912 8483) buite Vaalwater. Hulle rehabiliteer leeus, rooikatte en selfs tiere. Daar's tot 'n wolf te sien! En die restaurant kook heerlike Portugese disse."

James Shute (Gids, Marataba Safari Lodge)

James Shute. Foto: Mia Louw
James Shute. Foto: Mia Louw

"Marataba is deel (sowat 210km²) van die Marakele- nasionale park wat privaat bestuur word. Omdat die gebied so bergagtig is, is daar nie baie toegangspaaie vir wildkyk nie. Maar ek neem ons gaste altyd tot by die Lenong-uitkykpunt.

"Omdat die renosterveld daar bo in die berge soortgelyk is aan die fynbos, is dit 'n uitstekende plek vir voëlkyk. Ja, glo dit of nie, maar jy kan 'n Kaapse suikervoël in Marakele afmerk!"

Jerry-lee Jacobs (Restaurantbestuurder, Summerplace-wildreservaat)

Jerry-lee Jacobs. Foto: Mia Louw
Jerry-lee Jacobs. Foto: Mia Louw

"By ons bure, Lekhalo Safaris (082 4984 8622), kan jy glykabel ry, verfbal speel én na die tyd middagete geniet. Summerplace se gaste kan via ons paaie en hekke direk soontoe ry."

Koketso Kotsoe (Parkbestuurder, Marakele- nasionale park)

Koketso Kotsoe. Foto: Mia Louw
Koketso Kotsoe. Foto: Mia Louw

"Oorweeg gerus die Warmbaths Forever Resort naby Bela-Bela indien jy kinders het. Kleingoed is gaande oor die waterpark!"

Alex Soedhoudt (Syringa Sands)

Alex Soedhoudt. Foto: Mia Louw
Alex Soedhoudt. Foto: Mia Louw

"African Rhythm Adventures (082 820 6857) bied drie staptogte per jaar aan. Die Kransberg-roete strek oor 4 dae en 40km - van die Thani-Zimbi-wildplaas af tot by die Shakawe- private reservaat. Dit kos R5700p.p. en sluit luukse verblyf, etes, die vervoer van jou bagasie en 'n wildrit in Marakele in."

Te eet en te koop

Zeederberg-sentrum

Zeederberg-sentrum. Foto: Mia Louw
Zeederberg-sentrum. Foto: Mia Louw

Buiten 'n Spar vir kruideniersware en 'n Total vir brandstof, is hier ook 'n paar ander ondernemings op die perseel.

Die Seringa Café (082 558 0134) maak heerlike burgers, pizzas en slaaie. Carla's Bakery (082 564 2680) verkoop soetgoed soos kolwyntjies en fudge, en by The Black Mamba (073 152 2082) kan jy geskenke soos juweliersware, mandjies, veldgidsboeke en kunswerke aanskaf.

Maar wees gewaarsku: van die items is vir oorsese besoekers se beursies geprys!

Inligting

Die Waterberg-toerismekantoor (081 026 5859 | waterbergtourism.com) is langs The Black Mamba.

Aftrekplek

Jagveld Brouery

Foto: Mia Louw
Foto: Mia Louw

Hester van der Wath en haar seun, Jaco, brou vier biersoorte: die Draken Amber Ale, Mauser Weiss, Mogol Lager en Tweebuffels-meteenskootmorsdoodgeskiet Donker Lager.

'n Bierproe kos R42p.p. en die amberbier is glo hulle topverkoper.

"Ons gebruik net die beste bestanddele," sê Jaco. "Die drie soorte hops word uit Amerika ingevoer."

Vertoef 'n rukkie en bestel 'n wildsteak (gewoonlik eland of gemsbok) met 'n knoffelbottersous.

Waar? Sowat 2km suid van Vaalwater.

Kontak 072 780 9117

Mia Louw

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM