Reis

Van kurkdroog tot vol lewe: Elandsbaai se herlewing

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister

Onder ons lê Elandsbaai uitgestrek soos 'n vriendelike glimlag wat al wyer wegkrul na die noorde, waar dit vervaag in 'n waas van seesproei en laatmiddaglig. Ek is saam met Chantal Isaac, eienaar van die Wit Mossel Pot-restaurant op die dorp, en Gerrit Jonker, die plaaslike polisiekaptein.

Chantal Isaac van die Wit Mossel Pot. Foto: Toast Coetzer
Chantal Isaac van die Wit Mossel Pot. Foto: Toast Coetzer

Van die Bobbejaansberg (dié mees westelike deel word genoem Bobbejaanspunt) af kan jy die hele Elandsbaai, wat deur Verlorenvlei in twee gedeel word, mooi sien. Reg onder ons, ingedruk tussen die sandpad en die see, staan 'n paar meestal ongebruikte geboue wat eens die dorp se kreeffabriek was.

Elandsbaai-Suid staan duideliker uit omdat dit nader is. Nuwe strandhuise op 'n klossie, en 'n paar ander geboue aan die suidelike oewer van Verlorenvlei. Behalwe vir die treinbrug is daar net een padbrug wat Elandsbaai-Suid met Elandsbaai-Noord verbind, waar die grootste deel van die dorp lê - die hotel, Chantal se restaurant en 'n paar winkeltjies.

Surfers van reg oor die wêreld maak pelgrimstogte na Elandsbaai om die peeling left-hand point break te ry.

Vanmiddag is die golwe surfer-loos, maar ek het op 'n ander dag na een staan en kyk wat brander na brander tot amper op die strand gery het, elke slag met 'n sielstevrede uitdrukking op die gesig (in surfer-taal noem hulle dit stoke).

Die kuslyn lok al van die vroegste tye mense. Bobbejaanspunt is 'n rotsoorhang waarheen jy maklik van onder af kan stap. Hier het ons voorsate reeds in die Middel-Steentydperk gewoon (sien Doendinge).

Verder binneland toe, sowat 15km suidoos van waar ons nou staan, is Diepkloof. Hier het argeloë bewyse gevind van menslike bewoning meer as 100000 jaar gelede.

Behalwe vir skulpe (en selfs pikkewynbeendere!), wat wys dat dié vroeë mense die see as voedselbron ontgin het, is Diepkloof veral bekend onder argeloë omdat dit van die vroegste bewyse wêreldwyd bevat dat mense hulle gebruiksartikels (in hierdie geval volstruiseierdoppe) met kunstige patroontjies versier het.

Diepkloof het in 2024 Wêreld-erfenisstatus verwerf omdat dit die mens se voorgeskiedenis in soveel besonderhede verteenwoordig. (Reël 'n besoek by die Elandsbaai-museum)

Verlorenvlei was 'n betroubare bron van vars water, en vis kon in die vlak water gevang word.

Vir eeu na eeu moet tyd hier stilgestaan het, behalwe vir die ritmes van die natuur. Daar was die getye van die see. Die winterreën wat in die opvangsgebied geval het, die riviere wat afgekom het, die vlei wat gestyg en dan deurgebreek het see toe.

Daar sou ook droogtes gewees het, en moeilike tye.

Elandsbaai is pas deur só 'n moeilike tyd. Van 2017 (party sê 2015) tot die winter van 2023 was Verlorenvlei basies kurkdroog. Vis het gevrek, en watervoëls het weggetrek. Geen flaminke, geen pelikane, geen bleshoenders. Iets wat vir selfs gebore Elandsbaaiers ongekend was.

Ben Kotzé op die stoep van sy huis op Elandsbaai. Foto: Toast Coetzer
Ben Kotzé op die stoep van sy huis op Elandsbaai. Foto: Toast Coetzer

Ben Kotzé, gebore in 1944, se kinderjare is vervleg met Verlorenvlei. Hy het grootgeword in een van die ou langhuise, 'n tradisionele bouvorm kenmerkend van die vlei. Die huisie was in 'n gebied genaamd Daniëlsdrift, suid van die vlei na die mond se kant toe.

"My oupa, gebore in 1873, het vertel dat die vlei die laaste keer in 1888 droog was, soveel so dat jy met waens daardeur kon ry," vertel oom Ben die volgende oggend wanneer ons sit en gesels by die Wit Mossel Pot (dié ontmoetingsplek op Elandsbaai).

"Met die onlangse droogte kon jy weer met voertuie deurry, so êrens moes iets verkeerd geloop het. In my kinderjare het dit nooit gebeur nie. Die reënval, as ek dit reg vertolk, het nie eintlik minder geword nie, maar besproeiing het wel geweldig uitgebrei."

Verlorenvlei se opvangsgebied lê grotendeels suidoos van hier in die rigting van Moutonshoek, Piketberg, Eendekuil (die noordelike deel van die Swartland) en die Piekenierskloofpas. Dit is koring- en aartappelwêreld, en meer en meer druiwe en sitrus word ook verbou.

Sy belangrikste voedingsriviere is die Kruismans-, Krom-Antonies-, Bergvallei- en Holrivier. Verlorenvlei is 'n beskermde gebied met Ramsar-status (wat dit erken as belangrike vleiland veral vir migrerende waadvoëls) en boere mag nie water direk uit die vlei pomp nie.

Maar soos riviere wêreldwyd moet Verlorenvlei ook meeding met 'n groeiende bevolking wat drinkwater en kos nodig het. Selfs mynbou bedreig die voortbestaan van die vlei, met 'n beplande wolframmyn in Moutonshoek (die belangrikste deel van die opvangsgebied).

Om Verlorenvlei dus droog te sien is 'n waarskuwing.

Vir die mense hier - die boere, en die inwoners van Elandsbaai en Redelinghuys (aan die bopunt van die vlei), is die vlei hulle trots. Dit lok toeriste na die omgewing, voëlkykers is dol daarop, en die vlei verteenwoordig iets van die erfenis van die streek.

Dis 'n plek waar geslag na geslag kom visvang het - vir die pret óf om brood op die tafel te sit.

"Ons het ons voete elke oggend in die vlei gesit, want dit was vyf of ses treë van die stoep af," vertel oom Ben. "Jou lewe was verweef met die vlei. Vir maande lank was dit ons drinkwater."

Dit was lank voor die jare van krane en munisipaliteite en gesinne soos die Kotzés moes self sien kom klaar om water aan huis te kry.

Wanneer die vlei vars was, het hulle direk daaruit geskep. In die winter het hulle reënwater versamel en dan het hulle ook sogenaamde fonteinkiste aan die noordekant van die vlei gebou. (Soos jy Elandsbaai-Noord binnery en die eerste Stop-teken bereik - kyk links van jou, dis hier waar die fonteinkiste was.)

Blykbaar was die syferwater daar in die droë seisoen vars, maar souterig aan die suidekant van die vlei.

"Jy het 'n gat gegrawe tot so diep as wat jy die syferwater begin kry het," verduidelik oom Ben. "Dan het jy die kante met planke stabiel gemaak en dit bo die grond uitgebou en 'n deksel bo-op gesit. Dié deksel was dan gesluit gehou sodat net jy en jou mense uit julle fonteinkis vars water kon skep."

Lea Witbooi werk as huiskok op die plaas Wadrif, net noord van Elandsbaai langs die R365-teerpad na Lambertsbaai.

Andries Smit en Lea Witbooi op haar grootwordplaas. Foto: Toast Coetzer
Andries Smit en Lea Witbooi op haar grootwordplaas. Foto: Toast Coetzer

Ek tel haar laatmiddag by Wadrif op en ons ry gesels-gesels terug Elandsbaai toe. Sy wil my voorstel aan haar pa, Andries Smit, wat nog woon op die plaas Verlorenvlei, waar Lea grootgeword het.

"Die mense op die plaas noem hom sommer ‘Ou Klippe'," vertel sy. "My regte pa is oorlede toe ek baie klein was, en my ma moes op Citrusdal gaan bly vir werk, so my oupa Andries en ouma Sophia, oftewel Fytjie, het vir my en 'n paar van my niggies en een nefie grootgemaak daar op die plaas.

"Ons het in 'n soort stoor gebly, daar was nie krag nie en ons moes elke dag afstap vlei toe om water vir die huis te gaan skep. Die vis was volop in die vlei daai jare, en in die vlak water kon jy hulle met 'n skerp stok steek en vang.

"Ek het net st.8 klaargemaak op skool - dit was moeilik om by die hoërskool uit te kom, want vervoer was duur. Elandsbaai het net 'n laerskool gehad. Daarom moes ek vroeg begin werk.

"Op 18 jaar het ek in die landerye op 'n aartappelplaas gewerk. Maar my ouma het my leer kos maak, en hoe om met my hande te werk. Ek het nie iewers gaan leer hoe om kos te maak nie, my ouma het my geleer dat as iets uit jou binneste kom, as jy lief is daarvoor, dan sal dit goedgaan.

"Daai grootwordjare op die plaas was lekker. Die eienaar van die plaas was oom Theunis ‘Klokkies' Smit, hy is nou al oorlede. Dan was daar Kapenaars wat vakansiehuise op dieselfde nedersetting gehad het.

"Die pad na dié huise het langs my oupa-hulle se plek verbygeloop en ek en my niggies het altyd die hek beman tydens vakansietyd, dan maak ons dit oop en weer toe vir 'n geldjie of lekkertjie!"

Die teerpad loop met 'n steil afdraande na die Vensterklip-gasteplaas toe. Van hierdie hoë uitkykpunt lê Verlorenvlei silwerblink in die laatmiddaglig. 'n Groot, duidelike teenwoordigheid in die landskap. Aan die voet van die bult draai ek regs na Elandsbaai, en dan weer links om oor die bruggie te ry na die suidekant van die vlei.

"Hier het ons met 'n voetpad langs laerskool toe gestap al teen die soom van die vlei," vertel Lea. "Soms was die water dieper en het jy sopnat by die skool aangekom! Naweke het ons ook van die plaas af dorp toe gestap om kruideniersware te gaan koop.

"Een middag stap ek en my niggie Susan met die grocery-sakke toe sien ons hier kom 'n koei na ons toe aangehardloop. Ek sê toe vir Susan: ‘Wag, dis nie 'n koei nie, dis 'n bul!' Ons moes inderhaas op 'n groot rots - daai een wat dáár lê - klouter om nie onder die voete van die bul te beland nie!"

Kort daarna hou ons stil by Lea se oupa Andries se huisie. Hy groet, en verdwyn in die skemerhuis in om sy kitaar te gaan haal, en sit dan op die stoep om 'n paar liedjies te speel.

Die son sak oor Verlorenvlei en iets omtrent die toneel is tegelykertyd hartseer maar ook deernisvol. Hierdie oom met sy kitaar en sy plooie en sy lewe langs die vlei se waters. Hoeveel oggende hoor hy 'n visarend roep, en kyk op daarna teen die skerp son?

Lea met haar glimlag en die trots in haar oë - hierdie is haar plek, hier lê haar wortels.

Monique Vlok, aartappelboer. Foto: Toast Coetzer
Monique Vlok, aartappelboer. Foto: Toast Coetzer

Monique Vlok en haar pa, Frans, boer saam op 'n aartappelplaas op die Goergap-pad, daar waar die Kruismans-, Krom-Antonies- en Holrivier bymekaarkom om die Verlorenvleirivier te vorm. Dis stroomop van Redelinghuys, en sowat 50km van Elandsbaai.

"Van 2015 reeds het dit minder begin reën," vertel sy wanneer ons ontmoet by die Wit Mossel Pot (natuurlik!). "Die gemiddelde reënval moet sowat 240mm per jaar wees, maar baie jare het net die helfte daarvan geval. Dit wissel egter baie tussen Elandsbaai en in die opvangsgebied. Op die plaas kan ons byvoorbeeld 7mm kry, dan het daar in Moutonshoek sommer 89mm geval!"

Monique is lief vir die veldblomme van die streek, en bring ure op haar knieë deur om foto's te neem van blomme en plantjies.

"Van hulle is so klein jy moet onder die bosse inkruip om hulle raak te sien. Elke deel is anders. Aan die seekant van die berge kry jy varings en bolplante, en aan die ander kant weer aalwyne, want dis die warm helling."

Sy is besorg oor die welstand van die vlei, en sy en haar pa probeer hulle boerdery-aktiwiteite só beplan om water so spaarsamig moontlik te gebruik. Sy vertel dat hulle net in die winter aartappels plant (ander boere plant heeljaar, en moet dus meer besproei).

"Ek wil nie hê die ou wat ná my met die boerdery aangaan moet sonder water sit nie. Ek het 'n probleem met diegene wat net dink oor nou. Ons plant ook net in die winter om krag te spaar, want jy hoef minder te pomp omdat dit dan reën, byvoorbeeld.

"Ons meet die water wat ons gebruik. Ons kan teen die einde van die seisoen uitwerk wat ons besproei het, en wat ons toekenning van water was. Die uitdaging is om so min as moontlik te gebruik vir so veel as moontlik aartappels."

Monique dien op 'n bewaringskomitee wat met die departement van landbou, natuurbewaringsmense en grondwater-kenners saamwerk om Verlorenvlei se uitdagings te identifiseer.

Daar is eintlik twee bewaringskomitees in die wyer streek - een dek die Sandveld en die ander die Weskus, maar dit betrek gemeenskappe so ver binneland toe as Wuppertal in die Sederberg. Dan is daar ook Friends of Verlorenvlei, 'n belangegroep van plaaslike inwoners.

Felicity Strange, 'n afgetrede binnenshuise ontwerper, en haar lewensmaat, die oudmusikant Nick Taylor, het in die vroeë 2000's Elandsbaai toe getrek nadat hulle verlief geraak het op Verlorenvlei.

Om hulle huis te bereik, ry ek verby oom Andries se huisie. Daar word nog op 'n deel van die Verlorenvlei-plaas geboer, maar in 2014 is die Verlorenvlei Heritage Settlement gestig en 'n handvol mense - soos Nick en Felicity - het intussen hier erwe gekoop en huisies in die outydse langhuisstyl gebou.

In die beginjare was die lewe langs die vlei vir Felicity en Nick idillies, maar soos die vlei uitgedroog het, het hulle besef dat hulle sal moet inspring om te help. Daarom het Felicity in 2019 Friends of Verlorenvlei gestig vir wyer bewusmaking van die vlei se oorlewingstryd.

"Die beste deel van my dag is wanneer ek na ontbyt teen die vlei gaan stap," vertel Felicity.

Felicity Strange en Nick Taylor stap met hulle katte. Foto: Toast Coetzer
Felicity Strange en Nick Taylor stap met hulle katte. Foto: Toast Coetzer

Ons staan voor hulle huis op die oewer van die vlei, met hulle twee katte, Smidgen en Smudge, wat tussen die bossies rondspeel. Felicity beduie na die katte.

"Dié twee is grapjasse, en jy sal nie glo hoe hulle ook die stappies langs die vlei geniet nie!

"Soos ek stap, kyk ek uit oor die nedersetting en die vlei, met Vensterklip sigbaar aan die oorkantste oewer."

"Een ding waarop ek altyd let, is die spore van diere," sê Felicity, terwyl een van die katte teen haar been kom aanstryk.

"Ek sien steenbok, duiker, skilpad, kleinkolmuskeljaatkat, erdvark, ystervark, ratel en een of ander wildekat, ek weet nie watter spesie nie. Dit wys jou wat snags langs die vlei aan die beweeg is, selfs al sien jy die diere min."

"Ek het 'n paar byekorwe en die ratels kom pla soms," vertel Nick. "Hulle is só slim - hulle weet presies wanneer die heuning reg is om uitgehaal te word!"

Soos vir die ander inwoners was die herlewing van Verlorenvlei vir Nick en Felicity 'n riem onder die hart.

Verlorenvlei. Foto: Toast Coetzer
Verlorenvlei. Foto: Toast Coetzer

"Ons kan van ons huis af ver stroomop sien," vertel Felicity. "Ons is deel van 'n WhatsApp-groep, dus het ons geweet die water was op pad. Iemand het 'n foto geplaas van die Krom-Antoniesrivier in vloed. Later het iemand 'n lugfoto bo Redelinghuys geneem om te wys die water trek nou al daar.

"En toe, een oggend in Julie 2023 tydens my stappie, sien ek hoe blink die water in die verte!

"Die vlei is soos 'n spons. En dit was só droog dat dit baie stadig opgevul het, want die droë modderbodem moes eers weer gevoed word. Daarom was vreeslik baie water nodig vir die watervlak om te herstel. Ek het elke oggend 'n stokkie teen die oewer ingesteek om te merk hoe die watervlak gestyg het."

"Dit was eenvoudig magical," sê Nick. "Selfs die droë veld om ons huis het groen geword, en daar het plante gebot wat ek nog nooit vantevore gesien het nie."

"Verlorenvlei het 'n sielvolheid," sê Felicity, en die trane lê vlak in haar oë. "Dit spreek tot jou hart - die rivier, die vlei, die water. Ek dink ons taal het nie altyd die woorde om só 'n band met die natuur te verwoord nie."

Daarom was dit verskriklik daardie eerste jaar toe die vlei kurkdroog was toe iemand gesien het hoe die vlei se broeipaar visarende hulle nes uitmekaarbreek en wegvlieg.

"Ek het net vanoggend weer die visarende hoor roep," sê Nick met 'n glimlag. "Die mense wat hier grootgeword het, vertel as jy visarende hoor roep terwyl hulle oor die vlei vlieg, dan gaan dit reën."

Lank mag Verlorenvlei se visarende roep, en lank mag die reën kom soos dit moet.

LEER MEER

Op Facebook Sluit aan by die groep "Friends of Verlorenvlei" vir bewaringsnuus en "Ons mooi Elandsbaai" vir dorpsnuus.

Doen dié 4 dinge

1 Kry 'n stywe skoot geskiedenis

Die rotsoorhang by Bobbejaanspunt. Foto: Jac Kritzinger
Die rotsoorhang by Bobbejaanspunt. Foto: Jac Kritzinger

Hoog teen Bobbejaanspunt staan 'n radarstasie en murasies van buitegeboue wat deur Suid-Afrikaanse vrouesoldate tydens die Tweede Wêreldoorlog beman - of bevrou - is om vyandige skeep- en lugvaart te monitor (sien Weg #213 vir meer oor die vegtervroue).

Skuins bo dié ou gebou is 'n oorhang waar jy San-rotstekeninge teen die wande kan sien. Die oorhang is na beraming sowat 80000 jaar gelede reeds deur mense bewoon, en is maar 'n klein deeltjie van die omgewing se ryk San-erfenis.

As jy mooi kyk, kan jy elande, riffelpatrone en die afdrukke van menshandjies teen die klip uitmaak. En die uitsig oor die see is besonders. Elders teen die berg se kranse het 'n SAL Lodestar Lockheed op 'n mistige dag in Maart 1941 teen die berg vasgevlieg. Tien passasiers het omgekom.

Waar? As jy die dorp op die R366 inkom, swaai links op die Elandsbaai-Suid-pad. Hou regs by die Velddrif-T-aansluiting en hou aan tot dit grondpad word, verby die ou kreeffabriek en hawe tot jy die radarstasie links teen die hang sien. Parkeer padlangs en vat die paadjie na bo.

Oop? Permanent, toegang word nie beheer nie.

Koste? Gratis.

Kontak Elandsbaai-museum/Toerismeburo by 060 925 7476

2 Slenter op die strand

Elandsbaai. Foto: Jac Kritzinger
Elandsbaai. Foto: Jac Kritzinger

As jy nie 'n branderryer is of eenvoudig nie kans sien vir die leeukoue water nie, kan jy darem op die ellelange strand afkoel. Die hoofstrand met sy sonsondergange is die gewildste.

Jy kan ure lank leeglê, kaalvoet skulpe optel of noordweswaarts aanstoot na die duine in Lambertsbaai se rigting met die goederetreine op die Sishen-Saldanha-spoorlyn wat veraf deur die sand verbyrammel. Elandsbaai-Suid se strandjie krul digby die huise verby tot teenaan die rotse by die ou kreeffabriek.

As jy lus is vir behóórlik sandtrap, kan jy Silent Steps se slenterstaproete kuswaarts aanpak. Dis 'n vyf dae lange kusroete van 50km en strek van Elandsbaai af tot op Strandfontein; dit sluit etes en verblyf in.

KontakSilent Steps

3 Parkeer by 'n padstal langs 'n vlei

Die Rooi Stoor-padstal. Foto: Jac Kritzinger
Die Rooi Stoor-padstal. Foto: Jac Kritzinger

Die Rooi Stoor-padstal by Vensterklip net buite die dorp is 'n oulike aftrekplek waar jy kan snuffel en skoene uitskop. Dié winkel is teenaan Verlorenvlei met 'n agterstoep wat oor die fluitjiesriet uitkyk. Hier kry jy onder meer tuisgemaakte pruimkonfyt, klere, speelgoed, koekies en ja, bokkoms, te koop.

Jy kan ook peusel aan quiche, 'n jaffel of 'n pastei en die koffie is uit die boonste rakke. Hier is 'n verskeidenheid rooibosteeprodukte - wees op die uitkyk vir die perskegegeurde rooibos-en-kankerbossietee.

Voëlkykers, onthou jou verkyker en kamera en stap die paadjie na die vlei toe. As jy gelukkig is, kan jy pelikane, geelbeksterretjies, flaminke en visarende sien. Doen gerus navraag by die toonbank oor verblyf op die perseel; kampplek en selfsorghuise is beskikbaar as jy langer wil kuier.

Waar? Sowat 5km voor Elandsbaai op die R366.

Oop? Maandag tot Vrydag van 8vm.- 5nm. en tot 3nm. oor naweke.

Kontak 022 972 1339 | vensterklip.co.za

4 Bekyk die museum

Elandsbaai-museum. Foto: Jac Kritzinger
Elandsbaai-museum. Foto: Jac Kritzinger

Teen die hoofstrand kry jy die klein Elandsbaai-museum, waar jy meer oor die geskiedenis, argeologiese erfenis (ook Diepkloof!) en die ekologie van die omgewing kan leer.

Die plekkie is netjies en propvol inligting, met lewensgroot foto's teen die mure wat meer vertel oor die dorp, en 'n vertoonkas met ou pylpunte en klipgereedskap uit die omgewing.

Op die agterstoepie hang kleurfoto's van huidige Elandsbaaiers wat hulle lewensverhale deel. Die museum dien ook as inligtingsburo. Bespreek vooraf indien jy Diepkloof wil besoek.

Diepkloof-toere Elke Woensdag tot Sondag om 9.30vm. Dit kos R120p.p.

Waar? Op die hoek van Strand- en Duinestraat, langs die Blue Bottle-drankwinkel.

Oop? Dinsdag tot Vrydag van 9vm.- 4nm.; Saterdag van 10vm.- 3nm. Sondag en openbare vakansiedae tot 2 nm. Maandag gesluit.

Koste? 'n Skenking

Kontak 060 925 7476 (Tania) | 072 447 4936

EET HIER

Wit Mossel Pot

Foto: Toast Coetzer
Foto: Toast Coetzer

Dié gesellige eetplek dien ook as surf shop en snuisterywinkel - hier is onder meer hoede, kuns, donkerbrille, stewige vellies en oulike plaaslike klerereekse (soos Kaalvoet en Soekie C) te koop.

Foto: Toast Coetzer
Foto: Toast Coetzer

Op die spyskaart kry jy ontbyt, stewige burgers, biefstuk en natuurlik vars seekos. Jy kan ook aan 'n bier of glas wyn teug met die brandergeluide in jou ore, en vegetariese opsies is beskikbaar. Hartlike porsies teen billike pryse.

Waar? Op die hoek van Duinestraat, skuins oorkant die museum.

Oop? Maandag tot Saterdag 9vm.- 5nm. (soms ook op 'n Sondag, as die surf reg breek). Dis oop vir aandete ook, mits jy vooraf bespreek.

Kontak 082 496 8931

Elandsbaai Hotel

Foto: Jac Kritzinger
Foto: Jac Kritzinger

Die plaaslike hotel is 'n ou gunsteling onder dorpenaars én reisigers wat 'n hol kol wil volmaak (of opvang met die nuutse skindernuus in die ladies bar).

In die restaurant kan jy weglê aan 'n stewige ontbyt, pasta, slaai, seekos, burgers, toebroodjies, biefstuk en yslike melkskommels. Die eetsaal is ruim met 'n uitsig oor die branders, en jy kan buite ook by tafels op die grasperk sit waar die seeluggie jou aptyt sal aanwakker.

Dis 'n ongekunstelde plek met kos én diens uit die boonste rakke. Kampplek en kamers beskikbaar.

Waar? Hunterstraat 1

Oop? Maandag tot Sondag van 9vm.- 9nm.

Kontak 022 972 1640 | elandsbayhotel.co.za

BLY HIER

Oceanic

Oceanic. Foto: Jac Kritzinger
Oceanic. Foto: Jac Kritzinger

Dié netjies gerestoureerde self-sorgplek was een van die eerste vissermanshuisies op die dorp. Dis teen die hoofstrand, skaars 'n paar honderd meter van die Wit Mossel Pot en hotel.

Die huis het drie slaapkamers en kan ses mense huisves. Daar's 'n groot buitestoep met 'n see-uitsig en inheemse tuin, en hier's 'n volle DStv-pakket en Wi-Fi. Hier's 'n binne- én buitebraai (agter die huis, sonder 'n see-uitsig), en saans sus die branders jou aan die slaap. Troeteldiere word nie toegelaat nie.

Waar? Strandstraat 14

Koste? Buite seisoen: vanaf R1500p.n. vir een tot twee gaste. Skoolvakansies: R1800 p.n. vir tot twee gaste, R2300p.n. vir drie tot ses gaste. Minimum twee nagte. Desember tot Januarie: R3000p.n., ongeag die aantal gaste.

Minimum vyf nagte.

Kontak 082 605 1001 | visit-oceanic.co.za

Straw House

Hierdie selfsorghuis, wat agt mense kan huisves, is met strooibale gebou en het 'n interessante uitleg. Die kombuis en leefarea is eenkant - jy stap deur 'n skuifdeur vir 'n paar meter oor 'n binneplein om by die drie slaapkamers uit te kom, wat apart langs mekaar ingeryg sit. Elkeen het sy eie deur.

Een slaapkamer het sy eie badkamer met 'n tweede badkamer apart om die hoek. Jy's nie teenaan die see nie, maar hier's 'n groot erf met 'n stookbad en troeteldiere is welkom. Hier's 'n buitebraai op wieletjies en Wi-Fi.

Waar? Boomstraat 1

Koste? Vanaf R1500 p.n. Minimum twee nagte.

Kontak 072 541 2936 | strawrevolution.co.za

White House

White House. Foto: Jac Kritzinger
White House. Foto: Jac Kritzinger

Hierdie ruim selfsorghuis is reg teen die hoofstrand en het slaapplek vir agt mense. Dis keurig gemeubileer met alles wat jy benodig en die see-uitsig oor die groot agterstoep is besonders, waar jy selfs in 'n stookbad kan lawe. Hier's braaiplek binne en buite, asook Wi-Fi. Troeteldiere is welkom.

Waar? Keeromstraat 9

Koste? Vanaf R3500 p.n. (R4200 oor naweke) Minimum twee nagte.

Kontak 072 541 2936 | White House

Elands Bay Guesthouse

Vir 'n groot groep vriende of 'n familiebyeenkoms is hierdie tamaai selfsorghuis op Elandsbaai-Suid nét die plek.

Die eiendom is in drie verdeel - hier's 'n dubbelverdiepinghoofhuis en 'n grondvloer en eerste-verdiepinganneks langsaan, elk met sy eie slaapkamers, kombuise en badkamers; dit voel dus privaat en nie beknop nie. Hier kan altesaam 24 mense slaap, en Wagter is welkom in die ruim tuin - dis stapafstand van die see af. Hier is ook 'n swembad en 'n speletjieskamer (tafeltennis, snoeker), en 'n braaiplek op die hoofhuis se dek met 'n see-uitsig.

'n Volle DStv-pakket en Wi-Fi is ingesluit. Gooi mielies!

Waar? Kreefstraat 184

Koste? R7850p.n.

Kontak 072 541 2936 | elandsbayguesthouse.co.za

Point Garden Cottage

Dié knus tuinwoonstel sit net 'n entjie weg van die Elands Bay Guesthouse. Dit het 'n aparte ingang en is heeltemal privaat. Hier kan twee mense slaap, en die plekkie is gemaklik en goed toegerus. Hier is DStv en Wi-Fi, en 'n Weber op die buitestoepie. Jy het nou wel nie 'n see-uitsig nie, maar dis naby die strand en die prys is billik. Geen troeteldiere.

Waar? Kreefstraat 24

Koste? R1150p.n.

Kontak 072 541 2936

Planet Xancara

Planet Xancara. Foto: Jac Kritzinger
Planet Xancara. Foto: Jac Kritzinger

As jy lus is vir glamping en 'n groot bederf, sal dié kamp jou nie teleurstel nie. Planet Xancara is tussen die berge langs die R366, digby die Unesco-erfenisgebied Diepkloof se kruin. Al is die ongerepte natuur die grootste trekpleister, het die plek ook 'n geestelike inslag - hier word gereeld joga- en meditasiekursusse gehou - en is die saligheid self.

Verblyf is in verskeie luukse tenteenhede tussen rotsformasies en struike wat elk twee mense kan huisves.

Hier is ook 'n gemeenskaplike kuierarea waar 'n mens kan ontspan en drie keurige etes per dag geniet (alkohol is egter nie beskikbaar nie, maar jy is welkom om jou eie te bring). Hier is 'n swembad met 'n uitsig oor Diepkloof.

Die argeologiese terrein kan slegs per begeleide toer met die museum besoek word, maar jy kan wel saam met iemand van Planet Xancara stap tot aan die voet van die berg waar Diepkloof lê.

Wi-Fi is beskikbaar.

Waar? Dis sowat 20km buite Elandsbaai - jy draai af van die R366. Die laaste entjie sandpad na bo is rof; as jy nie 'n 4x4 het nie, sal iemand jou onder kom haal. Sodra jy 'n bespreking gemaak het, sal jy gedetailleerde aanwysings ontvang.

Koste? Pryse wissel tussen R1850p.p. tot R2200 p.p. buite seisoen (Augustus tot Oktober, April en Mei) en R2250p.p. tot R2750p.p. binne seisoen (November tot Maart). Drie etes per dag is ingesluit.

Kontak 072 292 6264 | planetxancara.com

Uithoek Farm

Uithoek Farm. Foto: Jac Kritzinger
Uithoek Farm. Foto: Jac Kritzinger

Dié gasteplaas buite die dorp teenaan Verlorenvlei is, wel, pure plaas. Hier is drie selfsorghuise waarin daar altesaam 17 mense kan oornag. Al die huise het outydse hortjievensters en slegs die kombuise het elektrisiteit, met paraffienlampe wat die leefareas en slaap- en badkamers verlig.

Die Langhuis, 'n ellelange grasdakgebou, is die grootste en het vier slaapkamers. Die kamers is twee-twee aanmekaar gelas: As jy van die een stel kamers na die volgende twee wil gaan, moet jy buite-om stap. Een kamer het sy eie badkamer terwyl die ander drie 'n buitebadkamer deel.

Tin Cottage is 'n knus kothuis waar twee mense kan slaap, en Kent's Cottage het plek vir vier mense. Die eenhede is ver genoeg van mekaar om steeds privaat te wees. Tin Cottage is egter die enigste een met Wi-Fi, dus mag gaste uit ander eenhede dalk om die huisie kom aas vir opvangs.

Hier's 'n ou sementdam, asook 'n stookbad, en kajakke op die vlei-oewer - 'n kort stappie weg deur die riete. Troeteldiere is welkom.

Waar? Sowat 12km buite Elands-baai langs die R366. Kyk fyn vir die ou geverfde boomstomp by die hek.

Koste? Langhuis R4650p.n., Kent's Cottage R2000p.n., Tin Cottage R1200p.n. Minimum twee nagte.

Kontak 082 295 3694 | Uithoek Farm Elands Bay

Wild West Coast

Hierdie plek is nou wel nie op Elandsbaai nie - dis net buite Redelinghuys - maar as jy 'n hardebaard kampeerder is, is dit die plek vir jou.

Die kampplek sit hoog in die berge op Rehan van Lill se plaas, en tesame met die ruwe natuurskoon het jy 'n panoramiese uitsig oor Dwarskersbos tot by St. Helenabaai.

Die staanplekke het nie krag nie (hier's wel Wi-Fi), maar hier's 'n toegeruste kombuis (met sonkrag) en ablusie. Hier's ook 'n swembad, grot en 'n 4x4-roete van sowat 15km. Jy gaan dit nie met 'n gewone kar tot bo maak nie, maar Rehan sal jou neem indien nodig. Hou jou oë oop vir elande en swartwitpense en vra Rehan oor die "eggo-hoek" waar jou stem teen die kranse vasslaan.

Waar? Die ingang is aan die bopunt van Voortrekkerstraat, Redelinghuys.

Koste? Dis die soort plek wat oor naweke meer geskik is vir 'n groot groep vriende. Hier kan 'n maksimum van 40 mense in basiese selfsorgkamers en kamppplekke bly. Kamp kos R150p.p. (minimum 15 kampeerders as julle die plek privaat wil bespreek. Basiese selfsorgkamers (minimum 6 en maksimum 14 mense) teen R350p.p. R250 per voertuig vir die 4x4-roete.

Kontak 083 567 0265 | wildwestcoast.co.za

Weet voor jy waai

  • Selfoonopvangs hier is op sy beste gebrekkig. As jy in verbinding met die buitewêreld wil bly, soek liefs vir jou 'n blyplek met betroubare internet.
  • Die petrolstasie op die dorp was met ons besoek nog onder konstruksie. Die enigste ander plek in die omgewing waar jy brandstof kan kry, is 30km verder op Redelinghuys by Sandveld Oase.
  • Hier is net een pomp en die openingsure wissel. Kontak hulle vooraf op 022 296 2192 om seker te maak daar is juice.
Storie: Toast Coetzer | Gidsdeel: Jac Kritzinger

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM