Hierdie lewe is 'n besige affêre. Daar's net nie meer genoeg ure in die dag of kortpaaie op die roete nie. Ons is gedurig laat vir iets of moet dinge agterweë laat. (Gewoonlik onsself, fluister my ouer, wyser self.)
Dít dink ek anderdag toe 'n N1-spoedkamera langs die Kaapse hawe my wéér teen 80 km/h betrap in 'n 60 km/h-sone. Buiten my senuwees van al die gejaag is my sakgeldjie ook nou daarmee heen. En vir wat?
Dit is ook maar goed ek is eersdaags op pad Namibië toe. Daar dwing die paaie jou om dinge rustiger te vat.
Hel, dit klink darem belowend wanneer jou ryding se bande so van die eentonige teer afsuis na die meer melodieuse geknars van 'n grondpad se loopvlak wat kort-kort met 'n klink of 'n klonk 'n klip teen die onderstel vasslinger. Daar, op die draai, lê die gruis dik - jy vóél sommer die nuwe tekstuur in jou handpalms op die stuurwiel.
Maar byna dadelik word die hardgetrapte spore duidelik: 'n Grondpad wat gereeld gebruik word, het gewoonlik vier bane en almal verkies die middelste twee waar die los klippe en bedrieglike slootjies van die laaste onweer nie die ryvlak bederf nie.
Uitswenk is nie 'n beweging wat jy onnodig op 'n grondpad uitvoer nie.
Slegs wanneer daar iets van voor af aankom, swenk jy oor die gruis-middelmannetjie met so 'n parmantige glytjie van die agterwiele na links. (Moet ons bekommerd raak oor jou renjaertendense, Sophia? - Red.)
Uitswenk is nie 'n beweging wat jy onnodig op 'n grondpad uitvoer nie. 'n Pêl van my se pa het ons altyd voor 'n road trip vermaan: Julle swaai vir niks kleiner as 'n skaap uit nie!
Ek dink 'n mens moet dit net stadiger vat sodat jy vir selfs die kleinste gediertetjie wat oor die pad skiet, veilig kan rem trap. Want road kill is 'n nare gesig.
Dit boei my wel. Oor die jare heen het ek al 'n stewige album foto's van getrapte diere opgebou. Dit klink dalk morbied, maar ek kan verduidelik: Toe dit saak gemaak het, het iemand nie van só 'n diertjie notisie geneem nie; uit respek vir die feit dat dit ook 'n lewe gehad het, dokumenteer ek dit nou.
Het jy al gelet op hoe delikaat die enkelgewrigte van 'n duiker is? Of gesien hoe 'n bakoorjakkalsie etlike grassade in sy welige stert saamgedra het? Laat daardie drama wat laasnag dié ystervark sy penne so oor die hele pad laat verloor het, in jou verbeelding afspeel. Bestudeer die gryspienk snaweltjie van 'n afgestorwe versamelvoël. Voel aan die klossies hare op die rooikat (wat 'n sierlike dier!) se oorpunte, en kyk hoe lê daardie einste kat se wange vol klouhale van 'n leeftyd se onderonsies om gebied, aasding en wyfies.
Die are in die byna deursigtige oorskulpe van 'n steenbok en die snorbaarde van 'n kolhaas is so fyn as wat die pootkussings van 'n rondloperhond skurf is. Onlangs het ek my weer vergaap aan die honderde werwels en ribbetjies van 'n pofadder. Soms sien jy selfs die spore van roofdiere wat die vorige nag aan die karkas kom ruik het, en sleepmerke soos wat een dit probeer wegdra het.
Genoeg oor dooie diere. Wat ek wil sê, is dat 'n mens soveel meer sien wanneer jy grondpad ry. Snelweg langs moet jy jou oë op die pad hou en ook namens al die ander padgebruikers bestuur. Maar op die agterpaaie is jy dikwels vir lang ente op jou eie en 'n mens kan maar jou oë oor die omgewing laat dwaal:
Hier, tussen Queenstown en Cathcart, loop 'n wildheining, aangelas bo-op die bestaande draad. Waarskynlik oorsese beleggers wat 'n ou familieplaas in die droogte uitgekoop het en nou eksotiese kleinwild teel. Jip, doer wei die troppie swartwitpense.
Langs Namibië se C15-woestynpad: 'n Windpomp met 'n dubbele kop, die een langs die ander! Gmf, dís nou nie iets wat jy nie aldag teëkom nie.
En kyk nou dié kraaines op die telefoonpaal noord van Bitterfontein. Kwit, die voëls het tot slierte oranje baaltou en bloudraad gebruik. Kyk ook by só 'n nes af, grond toe: daar lê gewoonlik muisbeentjies en skilpaddoppies - leidrade van wat op die kraaie se spyskaart is.
Anders as op 'n teerpad, kan jy op 'n grondpad in duidelik uitkenbare kleurstroke of growwe klipbankies sien waar die grondsoort verander, en dié lyne dan met die oog veld-in volg tot waar dit in die rotslae van 'n koppie eggo.
Op grondpaaie beweeg jy nader aan die aarde se kontoere: Hier loop 'n lang, slap draai óm 'n kransie, dan daal dit - tot op die laagwaterbruggie van 'n droë rivierloop wat jy teerpad langs nie eens oor die padrelings sou sien nie. Só maak jou agterkop 'n linosnee-afdruk van 'n landskap terwyl jy daardeur beweeg.
Die mense waarmee jy paaie kruis, is ook deur die bank vriendeliker. Die boere van 'n distrik het die gebruik om so met die lig van 'n vinger vir mekaar in die verbygaan te waai. En wanneer jy hulle paaie gebruik, kom dieselfde eer jou toe. Groet terug - ook vir daardie gesin op die donkiekar, die man op sy fiets (kruie stadig verby; hy gaan nou in jou stof met verder trap) en die skaapwagter wat spook om 'n trop merino's van een weikamp na 'n ander te skuif.
Of dalk is dit net 'n voetganger wat teen laatmiddag nog ver het om te gaan - laat jou instink jou lei, maar oorweeg dit tog om 'n lift aan te bied. Die skemerte is vir almal van ons 'n eensame plek.
En ná sononder, wanneer katogies voor in die pad jou motorligte weerkaats, kan jy maar weet: Dis 'n régte kat wat daar sit en motte vang - seker 'n groukat of 'n muskeljaatkat. Maar as die ogies so hoog soos jou dakrak glinster, is dit 'n koedoe!
Op grondpaaie beweeg jy nader aan die aarde se kontoere: Hier loop 'n lang, slap draai óm 'n kransie, dan daal dit - tot op die laagwaterbruggie van 'n droë rivierloop wat jy teerpad langs nie eens oor die padrelings sou sien nie.
Van koedoes gepraat… om saans grondpad te ry is byna soos 'n bonus-wildrit. Die kans is goed dat jy naglewe sal teëkom - dalk 'n springhaas, dikwels 'n wildsbok wat rigtingloos voor jou uit sigsag. As jy baie gelukkig is, 'n erd- of 'n ystervark. Eersgenoemde is so 'n skaars gesig; dis die moeite werd om stil te hou en te kyk wat hy wil aanvang. Laasgenoemde bly een van die eienaardigste, mees selfversekerde skepsels en sal jou net so 'n vuil kyk oor sy skouer gee en dan onverstoord aandraf.
Nog grondpadlekkertes: bleeksingvalke op die uitkyk; die gerammel van 'n motorhek se stawe onder jou bande; die stadig aankruie agter 'n padskraper en dophou hoe dié masjien sy werk doen totdat die bestuurder beduie jy kan maar verbykom; mooi plaasname (Toorwater, Winkelhaak, Gediertesfontein...); ou glasbottels, halflyf vasgesuig in 'n modderkors van laasjaar se reën - gewoonlik drank, gewoonlik goedkoop, gewoonlik hanepoot; die klip-en-kleimurasie van 'n ou opstal in die geselskap van 'n enkele garingboom; en padaanwysers vol gate geskiet.
Daai stofkolke wat met té veel selfvertroue soos tiener-tornado's uit die veld uit op jou voertuig afpyl, net om skaars die kajuit te skud, is net so mooi soos die dralende stofstreep (jou eie) in die truspieël wat jou wys hoe die wind waai.
Só kruie 'n mens aan, teen 'n verslapte pas, maar met verskerpte sintuie. Wanneer jy dan uiteindelik teen koffietyd opdaag waar jy einlik al vir middagete wou wees, het jy nie bloot net jou bestemming bereik nie. Nee, jy het soontoe gereis, en daardie modderspatsels en stofkolle teen jou motordeure getuig van dié tydjie wat jy 'n slag weer in jou eie welstand en sielsverryking belê het.
Laat die wêreld eers wag, sit daai flikkerlig aan en vat die agterpad.
Dié rubriek het oorspronklik in Weg #169 (November 2018) verskyn. Feite en geite kon intussen verander het - laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy iets raaksien.
















