Hoe het dié by in hierdie penarie beland? 'n Kenner verduidelik.
JOHAN COETZER vra: Ek het saam met vriende uitgespan op ons plaas anderkant Klein-Pella in die Noord-Kaap toe ons op hierdie verdorde perdeby afkom wat in die doringdraad vasgevlieg het.
Hy het seker nie gekyk waar hy vlieg nie, en dit het ons laat wonder waaroor die ou so diep gedink het dat hy nie opgelet het 'n groot hoofpyn hom in die gesig staar nie. Was daar huismoles? Dalk gevlieg onder die invloed? Wat ook al die rede, die doringdraad het hom vinnig in sy spore... uhm... vlug gestuit.

Die insekkenner DUNCAN MACFADYEN antwoord: 'n Fiskaallaksman het die by - dis 'n houtkapperby (amegillia atrocinta) en nie 'n perdeby nie - gevang en met die doringdraad deurboor om dit later te vreet. Dis een van die maniere hoe dié voëls kos bêre vir later - 'n uiters doeltreffende manier om te sorg dat die prooi nie wegkom nie, as jy my vra.













