Die prototipes is gebou met die hulp van Mopar, 'n onderdelevervaardiger wat hulle op Jeep-produkte toespits.
Die Jeep 4SPEED is klein, rats en vinnig.

Hy is op die Wrangler gebaseer, maar van alle onnodige onderdele gestroop om gewig te bespaar. Dit word aangedryf deur 'n splinternuwe 2 liter, turboaangejaagde I-4-enjin.
Die enjinkap en modderskerms is uit koolstofvesel gemaak terwyl die laaibak uit aluminium is. Die bakwerk is 56 cm korter gemaak om die nader- en vertrekhoeke te verbeter. Die enorme wiele pronk met 35"-BF Goodrich Mud Terrain-bande.
Die Jeep Sandstorm is 'n tydrenmotor wat ontwerp is om aan die Baja 1000-tydren in Mexiko deel te neem.

Sy modderskerms is uitermatig hoog om ekstreme wielbeweging toe te laat en die laaibak se klap is verwyder om maklike toegang tot die noodwiel te gee.
'n Ingeboude kompressor hou die druk in die 39.5"-BF Goodrich Krawler-bande konstant en die wielspoor is verleng deur die voorste as met 'n paar sentimeter vorentoe te skuif, en die agteras terug te skuif. Dit sorg vir 'n stabiele rit teen hoë snelhede deur die woestynlandskap. Die Sandstorm word aangedryf deur 'n 6.4 liter V8 en 'n 6-spoed handrat.
Die Jeep B-Ute is 'n ougat gesinsvoertuig met houding.

Dié Jeep spog met 17"-BF Goodrich T/S Baja Champion-bande en allerlei amptelike Jeep-bakstelonderdele. Die modderskerms is breër, daar is luginlate op die enjinkap en 'n bul van 'n dakrak vir al jou kampgoed. Die B-Ute word aangedryf deur 'n 2.4 liter Tigershark-enjin met 'n 9-spoed outomatiese ratkas.
Die Jeep Wagoneer Roadtrip is 'n luukse sportnutsvoertuig uit toentertyd se dae.

Hoewel dit soos 'n veteraanmotor lyk, is al die onderdele splinternuut. Dis slegs die bak wat 'n nostalgiese blik op die verlede gee.
Die Wagoneer is veldryvermoë is aansienlik beter as die oorspronklike 1963-model en die onderstel is ook versterk. Albei aste het ewenaarslotte en hy's geskoei in 17"-BF Goodrich-modderbande.
Die binneruim is identies as die oorspronklike model en daar is 'n gereedskapkis waarvan die deksel soos die oorspronklike 230 Tornado OHC-6-enjin se dop lyk Onder die enjinkap sal jy 'n 5.7-liter V8 vind wat aan 'n 4-spoed outomatiese ratkas gekoppel is.
Die Nacho Jeep is basies 'n standaard-Wrangler Rubicon met ál die onderdele en bakstel in Jeep se Porformance Parts-katalogus.

Ondanks sy formidabele voorkoms word dit aangedryf deur 'n beskeie 2 liter turboaangejaagde I-4-enjin. Die bak is met twee duim gelig sodat die 37"-bande kan pas.
Jeep Jeepster is dalk 'n koddige naam, maar hierdie meneer is nét so bekwaam as 'n moderne Wrangler Rubicon.

Die stilering is geïnspireer deur die veldryers van die 1960's. Die voorruit is skuinser as 'n standaard-Rubicon en die dak is ook effens laer. LED-kolligte met 'n helderheid van 8 000 lumens sal die nag na dag verander en daar is ook mislampe in die staalbuffer.
Die bakwerk is met twee duim gelig sodat die 37"-BF Goodrich KO2-bande kan pas en die noodwiel is in die kajuit agter die voorste sitplekke sodat daar plek gemaak kon word vir ekstra brandstoftenks op die agterdeur.
Die Jeep J-Wagon is 'n spoggerige veldryer vir iemand want nie 'n behoefte het om die stad te verlaat nie, maar wil lyk asof hy 'n avonturier is.

Dis eintlik 'n Wrangler Sahara wat verskeie onderdele en katoeters ontvang het. Hier gaan dit uitsluitlik oor die voorkoms en die snorkel en groot bande is daar om lekker te lyk eerder as om met modder besmeer te word.
Geen van die Jeep word tans te koop aangebied nie, maar soos ons die Amerikaners ken sal hulle nie huiwer om enige van die voertuie grootskaals te vervaardig as daar genoeg belangstelling is nie.












