"My ervaring met die Nederlanders is baie positief. Iedereen met wie ek 'n interaksie gehad het, was vriendelik, en hulle het selfs nie kragwoorde gebruik toe ek per ongeluk voor hul fietse ingeloop het nie," vertel Ané van Zyl toe Tasneem van Rooyen met haar gesels oor haar Nederlandse ervaring gesels.
Die Kapenaar Ané van Zyl was in die bevoorregte posisie dat sy vir twee maande Netwerk24 se inwonende joernalis by Zuid-Afrikahuis in Amsterdam was.
Sy het op 8 Januarie 2024 uit Kaapstad vertrek en via Dubai na Schiphol gevlieg.
"Ek was baie gelukkig om vir my tweede vlug vanaf Dubai 'n gratis eersteklas-rit op 'n Airbus A380 los te slaan! Dit was 'n ongelooflike ervaring - 'n heerlike, gemaklike stoel met 'n sagte kombers, lieflike kos, Moët & Chandon-sjampanje en Spaanse wyn.
"Dit was waarlik die kersie op die koek met my eerste reis oorsee."

Gedurende haar tyd in Nederland wou sy graag aan heelwat van die plaaslike lekkernye smul, soos frietjes, stroopwafels, bitterballen, poffertjes, kibbeling en bier.
"Ek is skaam om te erken ek kon myself nie so ver kry om haring te eet nie, maar dalk 'n volgende keer!"
Sy het ook gaan draai in België waar sy 'n heerlike wafel met sjokoladesous geëet het, en natuurlik ook 'n paar plakke sjokolade as geskenke huis toe moes bring.
"Die bier in België was beslis iets om oor huis toe te skryf, en die prys baie billik," sê sy
Ané het vir 50 dae in 'n woonstel in Amsterdam gewoon en weer op 27 Februarie 2025 na Suid-Afrika teruggekeer.
Eerstens 'n verslaggewer
In ruil vir die voorreg, was Ané se pligte vir die tydperk om artikels en berigte uit Amsterdam te skryf vir Suid-Afrikaanse lesers en vir ZA-huis se webblad.
"Een van die belangrikste berigte wat ek kon skryf, was oor die saak in die internasionale geregshof tussen Suid-Afrika en Israel toe Suid-Afrika vir 'n skietstilstand in Gaza gevra het.
"Daar het ek saam met ander wêreldmedia oor die saak geskryf en met betogers buite die hof oor die oorlog gepraat. Onder hulle was 'n man wat in die Israelse weermag gedien het en self deel van die konflik was."
Sy het ook 'n voorlegging by Zuid-Afrikahuis gedoen en gepraat oor die stories waaroor sy in Suid-Afrika verslag doen. Haar onderwerp was geslagsgeweld in SA en sy het dus gepraat oor die stories van vroue soos Hannah Cornelius en Uyinene Mrwetyana.
Van Nederland en België tot Frankryk - soveel om te sien en te doen
Dit was Ané se missie om soveel moontlik van Nederland te sien, maar ook ander lande in Europa.
"In Nederland het ek Amsterdam ontdek en na dorpe soos Den Haag, Rotterdam, Amstelveen, Utrecht, Naarden, Muiden, Haarlem en Zaandam gereis."

Sy het ook byna 30 museums in Nederland besoek. Dit sluit in die stadsaal, talle kerke, die huis van Rembrandt van Rhyn, die Van Gogh- en Rijks-museums (waar sy twee maal was), die Grachten-museum wat sy hoogs aanbeveel, museums by meule in Zaandam, en selfs die Tulpen-museum.
Daar is werklik 'n museum vir elke denkbare ding in Nederland, sê sy, en die inligting word heerlik verstaanbaar verpak en aangebied. "Dit is meer soos inligtingsentrums as oudhede in glaskaste," verduidelik sy.
"Ek het in Amsterdam twee bootvaarte op die kanale geneem, een in die dag en een in die aand. In die aand het ek die liggiefees gaan kyk waar kunstenaars installasies maak met ligte en projektors, alles rondom 'n sentrale tema."
Dan het Ané 'n dag of twee fiets gery deur die stad en was kinderlik gelukkig terwyl sy die stad op dié manier kon inneem. Só het sy onverwags 'n brug met die naam Kaap van Goede Hoop ontdek.
"Verder het ek gemaklik met die Nederlanders gesels en was verbaas oor hul kennis van Suid-Afrika en Afrikaans. Ek sou myself in my beperkte Nederlands voorstel as 'n Suid-Afrikaner, waarna hulle sou sê: ‘Je verstaan dan Nederlands, toch?' Ek het ook gehoor: ‘Van Zyl is een Nederlandse achternaam.'
"Nooit is ek gevra of ek een van die Groot Vyf in my agterplaas het nie. Een man het selfs 'n rits Afrikaanse woorde opgenoem," sê Ané.

Hierna het haar broer, Eben, 'n reis na Frankryk meegemaak waartydens hulle twee dae in Parys deurgebring het.
"In Parys het ons kaartjies vir 'n hop-on/hop-off-boot (Batobus) gekoop en met die Seine-rivier af gevaar. Ons het afgeklim by die Louvre-museum, Place de la Concorde, die Invalides-gebou en die bekende Notre Dame-katedraal waaraan daar toe steeds herstelwerk gedoen is ná 'n katastrofiese brand.
"Ons het soveel moontlik tyd op die water deurgebring en ons laaste stop, toe dit al skemer was, was by die Eiffeltoring. Daar het ons elkeen 'n warm - maar peperduur - koffie gekoop en gewag vir 19:00 toe die liggies van die Eiffel geflikker het. Dit was een van die mooiste gesigte wat ek al in my lewe gesien het. Dit slaan jou asem weg.
"Ons het 'n draai gemaak by die Arc de Triomphe en die Basilique du Sacré-Coeur de Montmartre, waar ons bene lekker gekramp het van trappe klim."
Later het sy 'n solo-uitstappie na België onderneem waar sy een aand in 'n jeughostel in Schaerbeek, Brussel, oornag het. Dit het ongelukkig gereën, maar dit het haar nie gekeer om die Grote Markt te sien waar die onewe stadsaal en gildehuise staan nie. Die koninklike paleis van Brussel en die aangrensende Warandepark (Park van Brussel) het haar ook bekoor.
"In my ervaring was die ou geboue nie so toeganklik in België soos in Nederland nie, maar dit is dalk toe te skryf aan die tyd van die jaar wat ek daar was."
Sy het weer museums besoek in België. Dié keer die Old Masters Museum en die Magritte- museum. Dit het haar opgeval hoe die kuns in die Old Masters Museum grootliks rondom die Christendom draai en daar is talle ou werke wat Bybelverhale en die geboorte en sterfte van Jesus uitbeeld.
Die werke was ook besonders helderkleurig teenoor die donkerder, soms vaal ou kunswerke in Amsterdam. Dalk restoureer die Belge die kunswerke meer gereeld, wonder sy.
"Die Belge was net so gaaf. Omdat Nederlands, naas Frans, 'n amptelike taal is, het ek met Nederlands oor die weg probeer kom. Dan was hulle vinnig baie apologeties en ons het verder Engels gepraat."
Verseker só 'n gemaklik toer
Elkeen se voorkeure is anders wanneer dit by reis kom, sê Ané
"Sommige besluit 'n dag voor die tyd wat hulle gaan doen, ander beplan weke vooruit. Vir my het 'n kombinasie van die twee gewerk omdat ek so gelukkig was om 'n lang tyd daar te kon deurbring."
Aan die begin het sy 'n dokument opgestel waarop sy die datums uitgeskryf het en notas gemaak het van wat sy daardie dag gaan doen, hoe om daar te kom en hoe laat sy daar moet wees. Sy het sowat drie of vier aktiwiteite in 'n dag ingepas.
"Die voordeel van reis in 'n Eerstewêreldland is dat die vervoer maklik is. Een kaart was al wat ek nodig gehad het om op 'n trein, moltrein, bus of trem te spring. Navorsing was wel nodig om die vervoerstelsels en kostes daarvan in Frankryk en België baas te raak."
Sy sê solank sy internettoegang gehad het, was dit maklik om al die landmerke op elke plek te kry en haar pad daarheen te vind met Google Maps.
"Dit is ook nuttig om te weet watter apps in elke land handig te pas sal kom, soos om te navigeer, en toegang en afslag te kry. 'n Lekker rugsak met 'n sambreel, baadjie, ietsie te ete en power bank was gerieflik."
Sy sê dit help geweldig om 'n bietjie van die taal te leer, al is dit net die eenvoudige dinge soos hoe om te groet en dankie te sê.
"In Nederlands was dit baie maklik om eenvoudige gesprekke te voer, maar Frans het my 'n oomblik laat dink voor ek désolé, je ne parle pas Français onder die knie gekry het."





















