Nuus

Siya, Pieter-Steph reg om All Blacks te pak

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Siya Kolisi, die Springbok-kaptein, het van ’n kniebesering herstel en is fiks verklaar om die span volgende maand in Nieu-Seeland teen die All Blacks aan te voer.
Siya Kolisi, die Springbok-kaptein, het van ’n kniebesering herstel en is fiks verklaar om die span volgende maand in Nieu-Seeland teen die All Blacks aan te voer. (Foto: Gallo Images)

Die ervare Springbok-losvoorspelers Siya Kolisi en Pieter-Steph du Toit het albei die mediese jawoord gekry om saam met die span na Nieu-Seeland te toer.

Kolisi, die Bok-kaptein, het van ’n kniebesering herstel, terwyl Du Toit onlangs in die eerste van die twee toetse teen Australië op Ellispark harsingskudding opgedoen het.

Altesame 36 spelers is in die groep gekies vir die twee wegtoetse teen die All Blacks in die Rugbykampioenskap op 6 en 13 September.

Die beseerde vleuels Kurt-Lee Arendse en Edwill van der Merwe toer nie saam nie, wat meebring dat die veteraan Makazole Mapimpi een van die 16 agterspelers is.

Met Kolisi en Du Toit weer beskikbaar, is daar nie plek in die groep vir die veelsydige voorspeler Cobus Wiese nie.

Wiese is op bystand geplaas, terwyl Jasper, sy ouer broer, wel ingesluit is. Laasgenoemde dien nog ’n skorsing uit en sal eers vir die tweede toets in Wellington oorweeg kan word.

“Siya, Pieter-Steph, Willie (le Roux) en Jan-Hendrik (Wessels) het almal hulle skete afgeskud en al die spelers wat Saterdag teen Australië in Kaapstad gespeel het, is beseringsvry.

“Dit is goeie nuus voor die taai toer wat ons het,” het die Springbok-afrigter, Rassie Erasmus, in ’n verklaring gesê.

• Die Bok-toergroep:

Agterspelers: Damian de Allende (Wild Knights), André Esterhuizen (Haaie), Aphelele Fassi (Haaie), Sacha Feinberg-Mngomezulu (Stormers), Ethan Hooker (Haaie), Jesse Kriel (Canon Eagles), Cheslin Kolbe (Tokyo Sungoliath), Willie le Roux (Bulle), Manie Libbok (Kintetsu Liners), Makazole Mapimpi (Haaie), Canan Moodie (Bulle), Handré Pollard (Bulle), Cobus Reinach (Stormers), Morné van den Berg (Leeus), Grant Williams (Haaie), Damian Willemse (Stormers).

Voorspelers: Lood de Jager (Wild Knights), Pieter-Steph du Toit (Toyota Verblitz), Thomas du Toit (Bath), Jean-Luc du Preez (Bordeaux Begles), Eben Etzebeth (Haaie), Vincent Koch (Haaie), Siya Kolisi (Haaie, k), Wilco Louw (Bulle), Malcolm Marx (Kubota Spears), Bongi Mbonambi (Haaie), Franco Mostert (Honda Heat), Ox Nche (Haaie), Ruan Nortjé (Bulle), Kwagga Smith (Shizuoka Blue Revs), RG Snyman (Leinster), Marnus van der Merwe (Scarlets), Marco van Staden (Bulle), Boan Venter (Edinburgh), Jan-Hendrik Wessels (Bulle), Jasper Wiese (Urayasu D-Rocks).

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM