Om 'n vakansie in die Krugerwildtuin te beplan kan nogal oorweldigend wees. Ons klop aan by 'n paar Krugerfoendi's vir hulle gunsteling-doendinge en -plekke sodat jy sommer reguit na al die beste plekke kan ry. Kry daai verlofvorm geteken!
DIE PANEEL
François Haasbroek het die wildtuin drie weke lank platgery terwyl hy navorsing gedoen het vir Weg se Kruger-reiskaart.
Andrea Weiss het al twee Weg Kruger-gidse saamgestel, en in die proses by bykans elke liewe kampplek tent opgeslaan.
Villiers Steyn hou al byna sy hele lewe lank elke jaar in die wildtuin vakansie. Hy het 5 jaar gelede vir 80 dae aaneen (!) die park verken.
Pietman Muller boer sowat 100 km van die Punda Maria-hek af, en gaan al meer as 30 jaar lank minstens een naweek per maand wildtuin toe.
Abri Venter, Nardi van Rooyen, Rikus de Jager, en Andrew Buitendach is van Weg se Facebook-vriende wat gereeld in die wildtuin kuier.
BESPREKINGS
Skakel die SANParke se nasionale besprekingslyn (tensy anders vermeld) *012 428 9111; * sanparks.org/tourism/bookings
Klik op die prentjies vir meer inligting oor die doendinge en plekke.
BOSKAMPE
Die Kruger het geen tekort aan slaapplek nie, maar van die groter hoofkampe kan goed bedrywig raak. Dis lekker gesellig, maar oorweeg een van die kleiner boskampe as jy 'n ware Bosveld-ervaring soek met 'n sonbesiesimfonie as agtergrondmusiek.
Wat kan ek verwag? Die boskampe is meer afgeleë en verder van die hoofroetes af. Slegs gaste wat bespreek het, mag inry. Die meeste kampe het 'n wildskuiling, maar geen winkel of vulstasie nie. Blyplek wissel van jou eie tent tot 'n safaritent en selfsorghuisie. Van die boskampe het DStv, maar ander het nie eens krag nie.
Waar? Regoor die park.
Koste Kamp vanaf R265 per staanplek p.n.; hut vanaf R385 p.n.; safaritente vanaf R540 p.n.; kothuise vanaf R1 120 p.n.
VOëLSKUILINGS
Die beste manier om die park se 507 voëlspesies te sien is uit die 11 voëlskuilings wat oor die park versprei is. Dis waar die ouens met Job se geduld en gróót verkykers deur die dag uithang. By Sabledam en Shipandani kan jy ook vir een nag oorslaap.
Wat kan ek verwag? Die twee oornagskuilings het nie krag nie, maar wel toilette - dis die enigste skuilings met toilette. Hier is opvoubeddens en matrasse (kry beddegoed by die Mopani-kamp of die Phalaborwa-hek) en bring alles wat jy nodig het om kos te maak (hier is net 'n braaiplek). Die skuiling is omhein, maar moenie ná donker goed in jou kar gaan haal nie... jou braaivleis ruik nie net vir jou lekker nie.
Waar? Shipandani is 5 km van Mopani-kamp af, en Sabledam 11 km van die Phalaborwa-hek af.
Koste R620 p.n. vir 2 mense, R310 p.p. wat bykom. Tot 9 mense kan oorbly by Sable-dam, en 6 mense by Shipandani.
PIEKNIEKPLEKKE
Die wildtuin is wyd, en vanweë die park se spoedbeperking sit jy lank in die kar om van een plek tot by 'n ander te kom. Pak 'n mandjie en rek bene by een van 15 piekniekplekke regoor die park. In die middel van die dag kruip die meeste diere in elk geval in die skaduwees weg.
Wat kan ek verwag? Van die piekniekplekke is net bedoel as 'n vinnige stilhouplek, maar by ander kan jy omtrent heeldag vertoef - die een by Skukuza het selfs 'n swembad. Skukuza, Afsaal, Nkuhlu en Thsokwane het winkeltjies as jy vergeet het om kos in te pak. Jy mag ongelukkig by geen van die piekniekplekke 'n oop vuur maak nie, maar jy kan wel 'n gasskottelbraai huur vir 'n lekker roerbraai.
DRINKPLEKKE
Watergate, damme, rivierkuile... Jy sien veral die diere by die drinkplekke as water in die veld min raak.
Wat kan ek verwag? Of jy nou 'n hoofroete of 'n kleiner paadjie ry - jy vorder selde meer as 10 km sonder om 'n watergat teë te kom. Onthou: Water kan ook krokodille en seekoeie beteken - jy mag dus nie uitklim nie.
UITKYKPUNTE
Die wêreld in die wildtuin is maar plat en asemrowende uitsigte skaars. Tog het van die groter riviere wel op plekke ravyne uitgekerf, wat vir goeie uitkykplekke sorg. Rondom Pretoriuskop in die suide en Punda Maria in die noorde is daar 'n paar heuwels wat jou 'n bietjie hoogte gee vir uitkyk oor die landskap.
Wat kan ek verwag? By die meeste hoë uitkykpunte, soos by Mathekanyane, Engelhardtdam en die rivieruitkykpunt naby Olifantskamp, mag jy uitklim. Dis nie omhein nie, dus moet jy altyd eers goed rondkyk voor jy uitklim. Jy kan ook op sommige brûe oor van die groot riviere soos die Letaba of Olifants uitklim en die rivierlewe van bo bekyk.
WILDRITTE
Die meeste van die kampe bied wildritte aan (vroegoggend en teen sononder), maar jy wil nie agter op 'n oop trok sit en bewe onder 'n ou Parkeraad-kombers met 'n Duitse toeris langs jou wat aanhou vra "Ver are ze lions?" terwyl die veldwagter net rooibokke en miskruiers uitwys nie. Doen een by Satara of Onder-Sabie, waar daar volop roofdiere is.
Wat kan ek verwag? Dieregedrag kan ongelukkig nie voorspel word nie, maar dalk sien jy hoe 'n luiperd 'n bok vang. Pak in elk geval altyd 'n warm ding in. Dit duur gewoonlik sowat drie uur.
Koste Dit wissel van kamp tot kamp, maar kos gemiddeld R300 p.p.


STAPROETES
Die Kruger het twee soorte veeldagstaproetes: Rugsakroetes (jy dra álles self vir 3 nagte - kos, tent, slaapsak, 'n knertsie...) of 'n slenterroete van 'n basiskamp af. Laasgenoemde is baie gemakliker - jy slaap elke aand in 'n regte bed en jy hoef nie 'n swaar sak te dra nie - dit is dus veel makliker om jou vriende te oortuig om saam te kom.
Wat kan ek verwag? Die basiskamp het slaapplek vir 8 mense, 'n eetkamer en ablusies, en 'n groot braaiplek vir laataandkuiers. Elke oggend gaan stap julle saam met twee gewapende gidse in die veld, terwyl die kampkok 'n laatontbyt aanmekaarslaan sodat julle net kan aansit wanneer julle terug is. In die hitte van die dag lees jy, speel skaak, of lê net rond, en in die middag stap julle weer - gewoonlik na 'n uitkykpunt - waar 'n koue Castle en 'n sonsondergang 'n standaard-instelling is.
Waar? Hier is 7 slenterroetes en 3 rugsakroetes in verskillende dele van die park. Bespreek die Sweniroete as jy leeus te voet wil sien.
Koste Slenterroetes: R4150 p.p. vir 3 nagte (sluit alles in, behalwe drankies). Rugsakroete: R2450 p.p. vir 3 nagte. Roetes begin op 'n Sondag of 'n Woensdag.
* As jy nie geld of die fiksheidsvlakke vir 'n veeldagroete het nie, gaan stap gerus vroegoggend saam met 'n gewapende gids. Dis koel, die lug ruik na aartappelbos en jy sien hoe die Bosveld geleidelik ontwaak. Al die kampe bied dit aan. Dit kos R500 p.p. (sluit peuselhappies en 'n koeldrank in)
Lees hier meer oor die Mathikithi-staproete.
BERGFIETSRY
Die tradisionele maniere van wildkyk in die Kruger het hulle tekortkominge: In 'n voertuig voel 'n mens effens verwyderd van die wild en te voet kan jy nie verskriklik ver stap nie. By Olifantskamp is daar nou 'n derde opsie: 'n bergfiets!
Wat kan ek verwag? Jy kan vroegoggend of laatmiddag saam met 'n gids op drie verskillende roetes kom ry. Die Hardekooldraai-roete (21,4 km) is die maklikste, terwyl die Klipkoppies-Mosambiekgrens-roete (24,8 km) die langste is. Die Olifants/Letaba-samevloeiings-roete (12 km) is moeiliker en net vir gesoute bergfietsryers. Jy kry 'n fiets, valhelm, padkos en 'n waterbottel. Ritte duur tussen 3 en 4 uur.
Waar? Tans word bergfietesroetes net by Olifants aangebied, maar daar is planne om roetes rondom Skukuza oop te maak.
Koste R375 p.p. vir 'n oggendrit en R210 p.p. vir 'n laatmiddagrit.
Kontak Olifantskamp *013 735 6606/7; *021 428 9111 (Bespreek minstens twee dae vooruit).
ARGEOLOGIE
Sowat 450 jaar gelede was hier 'n bedrywige gemeenskap in die noorde van die wildtuin wat handel gedryf het met Zimbabwe en tot sover as Indië en China! Al wat vandag van dié Thulamela-nedersetting oor is, is 'n netwerk indrukwekkende klipruïnes tussen die kremetartbome. Selfs al is jy nie een vir 'n geskiedenisles nie, maak die uitsig van dié heuwelkoninkryk af oor die Luvuvhurivier die uitstappie die moeite werd.
Wat kan ek verwag? Jy kan Thulamela net saam met 'n gids besoek. Jy vertrek kort ná sonsopkoms van Punda Maria af. Gewoonlik sien 'n mens buffels, olifante en njalas op pad. Voor julle terugkeer kamp toe, maak julle 'n draai by die Pafuri-piekniekplek, waar jy skaars voëls soos gevlekte- en witpensstekelsterte, beloogbosbontrokkies en kroonarende op jou lysie kan afmerk. Nóg 'n puik dag in die Kruger!
Waar? Ongeveer 50 km noord van Punda Maria-ruskamp op die S64 Njala-omrit.
Koste R240 p.p. (minimum 2 mense; maksimum 8) betaalbaar by Punda Maria se ontvangskantoor. Geen kinders jonger as 12 jaar nie. Dit duur tussen 5 en 6 uur. Bring 'n kamera, waterbottel, hoed en dra stapskoene. Pak ook vir jou 'n piesang en 'n paar toebies in. Lees ook vooraf Prime Origins se Guide to Exploring Kruger deur Brett Hilton-Barber en Lee Berger.













