Reservate en bewaringsgebiede is gewilde bestemmings onder kampeerders, maar op 'n manier betaal 'n mens ook dubbel by hierdie plekke. Buiten die kampgelde per nag moet jy ook toegang by die hek betaal om by jou staanplek te kom.

Illustrasie Dominic Wienand
Sanparke het 11 jaar gelede op 'n lidmaatskapstelsel besluit wat jou teen 'n eenmalige bedrag 'n jaar lank toegang gee tot al hulle parke sonder dat jy by die hek hoef op te dok.
Intussen het Sanparke met ander reservate en bewaringsgebiede hande gevat en die lidmaatskap is uitgebrei. Nou kan jy jou toegangskaart nie net by die 19 parke van Sanparke gebruik nie, maar by meer as 80 bestemmings landwyd.
WAAR KAN JY DIE KAART GEBRUIK?
Jy kan jou Wild Card by elke wildtuin en bewaringsgebied van Sanparke gebruik, van die die Krugerwildtuin en Kgalagadi-oorgrenspark tot die Addo-olifantpark en Tafelberg- nasionale park. Daarmee saam is die provinsiale bewaringsowerhede Kaapse Natuurbewaring, Ezemvelo KZN Wildlife en Msinsi (KwaZulu-Natal) asook Swaziland se Big Game Parks ingeskakel by die stelsel.
Onder die 24 reservate van Kaapse Natuurbewaring waar jy die kaart kan gebruik, tel plekke soos Grootvadersbosch, Tweede Tol, Anysberg en Gamkaberg, terwyl die kaart die deure van plekke soos Highmoor en Ithala (Ezemvelo KZN Wildlife) en Albert Falls- en die Inanda-damme (Msinsi-oorde-en-reservate) vir jou oopmaak. In Swaziland kan jy by drie reservate, waaronder Hlane en Mlilwane, gaan draai.
VIR ALLES EN ALMAL
Die lidmaatskap is van die dag waarop jy dit koop geldig vir 'n jaar, waarna jy dit kan hernu. Afhangend van watter lidmaatskap jy kies, kos dit van R370 tot R1 035, en dis net 'n keer of drie se kamp dan begin jy spaar.
Jy kan om jou lidmaatskaap aansoek doen by Sanparke se Groenkloof-kantore in Pretoria of die Kaapstadse kantoor in Tokai, maar dalk is dit die heel maklikste om dit by wildcard.co za te kry. As jy reeds aan die reis is, kan jy 'n kaart by al die bestemmings behalwe by Ezemvelo KZN Wildlife se parke koop.
Die Wild Card word in jou naam uitgereik en jy kan dit nie vir vriende leen nie. Daar is wel drie opsies (of clusters) beskikbaar: 'n Kaart vir een volwassene, 'n paartjie of 'n gesin. Die kaart vir paartjies is vir twee volwassenes óf 'n volwassene en 'n kind. Die gesinskaart is vir tot sewe mense (een volwassene en tot ses kinders of twee volwassenes en vyf kinders). Kinders moet onder 18 wees, maar hoef nie almal lede van die gesin te wees nie - Sussie kan dus een of twee vriendinne saamnooi vir die kamptyd.
Jy kan ook 'n kaart vir een van die vyf spesifieke hoofbestemmings (Sanparke, Kaapse Natuurbewaring, Ezemvelo KZN Wildlife, Msinsi of Big Game Parks) kies óf by die een hou wat jou toegang gee tot al die plekke. As jy die enkelkaart vir een volwassene koop en 'n spesifieke hoofbestemming kies, kos dit jou van R370 tot R500, terwyl die kaart wat jou toegang tot al die parke gee, net R515 kos.
Vir paartjies kos dit R605 tot R815 vir die kaart vir spesifieke bestemmings en R845 vir die kaart wat vir jou toegang tot al die plekke gee. Vir gesinne kos die kaart vir spesifieke bestemmings R735 tot R975 en die algemene toegangskaart R1 035. (Pryse geldig tot Oktober 2017.)
WAT SPAAR 'N MENS REGTIG?
By Sanparke vra hulle jou nie toegangsgeld by die hek nie, maar 'n daaglikse bewaringstarief.
Saam met jou kamp-geld moet jy vir elkeen in jou geselskap die daaglikse bewaringstarief betaal.
As jy 'n Wild Card het, hoef jy nie dié bewaringstarief te betaal nie.
Ons het vir jou 'n paar somme gemaak oor hoeveel jy met jou Wild Card spaar by hoofbestemmings. Dis vir 'n gesin van vier met 'n Wild Card wat jou toegang gee tot al die parke, op 'n staanplek met krag - en buite seisoen.
SANPARKE
Spaarvarkie se vriend
As jy vir 'n week in die Krugerwildtuin kamp en by Onder-Sabie (2 nagte), Satara (3 nagte) en Shingwedzi (2 nagte) oornag, beloop die totale kampkoste saam met die bewaringstarief R3 985. Hiervan is R2 389 kampgeld en 'n goeie 40% van die totaal die bewaringstarief (R1 596). As jy die R1 035 vir die Wild Card aftrek van die R1 596 vir die bewaringstarief, spaar jy reeds R561 met jou kaart. Die gesin van vier bespaar dus dadelik R228 p.n. aan die bewaringstarief én jy het gratis toegang tot al die Sanparke-plekke landwyd. Dié gratis toegang is onbeperk en jy kan in die jaar soveel keer as wat jy wil die Kruger of die Addo-olifantpark en Tafelberg- nasionale park besoek.
'n Gesin van vier wat drie nagte by die Nqweba-kampplek in die Kamdeboonasionale park oornag, betaal R1 233 en bespaar R312 bewaringsgeld.
Vir 'n naweek in die Glen Reenenkamp van die Golden Gate- nasionale park kan jy R176 aftrek van die R810 wat jy sonder die kaart sou moes betaal.
KAAPSE NATUURBEWARING
Geld terug in jou sak
Die bewaringstarief vir kampplekke van Kaapse Natuurbewaring wissel van R40-R60 p.p.p.d. (R20-R35 vir kinders van 3 tot 12 jaar).
By Grootvadersbosch kos dit R300 p.n. vir 'n staanplek vir tot ses mense om te kamp, plus die bewaringstarief van altesame R120.
In die Sederberg-wildernisgebied is die kampgeld dieselfde as by Grootvadersbosch, maar die bewaringstarief is duurder en jy kan R190 per dag spaar met jou Wild Card.
EZEMVELO KZN WILDLIFE
Verskillende reëls
Ezemvelo KZN Wildlife aanvaar nie die Wild Card by al sy bestemmings nie - jou kaart werk nie in die iSimangaliso-vleilandpark nie, wat bestemmings soos Sodwana, Kaap Vidal en Kosibaai insluit.
Daar is wel 25 Ezemvelo-bestemmings waar jou Wild Card geldig is, waaronder die Ndumo-reservaat, die Koninklike Natalse nasionale park en die Midmardam.
Ezemvelo vereis egter saam met jou kaart die lidmaatskapbrief wat Sanparke vir jou stuur as jy jou kaart koop.
As jy by die Mahai-kampplek in die Koninklike Natalse park kamp, kry jy nie met jou Wild Card enige afslag nie, want kampeerders betaal nie toegangsgeld nie.
As jy egter net vir die dag in die omgewing is, kan jy met jou Wild Card die park gratis as dagbesoeker verken.
By Midmar spaar jy wel toegangsgeld van R30 per dag per volwassene en R20 per kind.
MSINSI
Vrypas by die hek
Die Msinsi-oorde-en-reservate is almal rondom Pietermaritzburg en Durban, en hulle hef ook 'n tarief by die hek vir toegang. Met jou Wild Card ry jy egter verniet in.
By die Albert Falls-dam spaar jy R104 vir 'n gesin van vier per dag, en by die Inandadam R136.
BIG GAME PARKS
Spaar 'n derde
Jy kan by twee van die drie Swazilandreservate kamp waar die Wild Card geld.
Hlane en Mlilwane se bewaringstarief en kampgeld is dieselfde - onderskeidelik R50 p.p.p.d en R115 p.p.p.n. Met die Wild Card in jou besit hoef jy egter nie die bewaringstarief te betaal nie en spaar jy 30% terwyl jy hier kamp.
Weg Ry & Sleep sê:Die Wild Card is nie net nuttig wanneer jy 'n aand of twee oorslaap nie. Jy kan as dagbesoeker plekke soos die Kruger en Kaappunt soveel keer gratis besoek as wat jy wil.











