Reis

Kamp hier: Dolphin-vakansieoord

By die Dolphin-oord voel jy sommer met die aankomslag tuis, amper asof jy by vriende kom kuier.

Jy vleg deur 'n buurt om hier te kom, en oorkant die pad is 'n klein inkopiesentrum. Links van die kantoor is enkelparkeerplekke en regs, langs 'n kiosk, plek waar jy met jou woonwa kan stilhou om die papierwerk af te handel.

Saam met jou kampgeld betaal jy ook 'n R100-deposito vir die skyfie waarmee jy die valboom na die kampplek oopmaak. Die ontvangsdame gee vir jou 'n oordkaart waarop jou staanplek met 'n kruisie gemerk is, maar sy omkring ook 'n paar ander beskikbare plekke en laat jou soontoe stap om te kyk of jy eerder op een van hulle wil staan. Vermy die eerste 20 staanplekke as jy 'n lang sleepkombinasie het - die afdraaipaaie na hulle is skerp en hier is ook 'n doodloopstraat.

Welig en groen

Die plantegroei is welig en jy kan sien dié oord bestaan nie van gister af nie. Die plante smelt met die omgewing saam en jy kan nie sien dis aangeplant nie. 'n Enorme koraalboom met sy dieprooi blomme, 'n klomp palmbome en ander bome sorg dat daar genoeg koelte vir almal is.

Die staanplekke is groot en op die meeste van hulle is genoeg plek vir 'n groot woonwa, sy tent en jou sleepvoertuig langs dit. Van die staanplekke is op welige gras, ander op yler gras en die res op grond. Met die baie bome en struike tussen die staanplekke kamp jy taamlik privaat.

Jy prop jou wa by 'n blou woonwaprop in en het niks meer as 'n standaardverlengkoord nodig as jy op die verste punt van die staanplek staan nie. Die meeste van die staanplekke het 'n TV-antennapunt en jy het toegang tot agt kanale - jy kan onder meer M-Net, Cartoon Network en SuperSport kyk.

Jy deel 'n kraan met die bure, maar dis net so naby soos die kragpunt. Die skoonmakers maak gereeld jou vullisdrom skoon. Hier is nie braaiplek of braaiers op die staanplekke nie en jy moet jou eie een saambring.

Heel bo in die oord is 'n speletjieskamer met onder meer pool-tafels, 'n buitelugskaakstel, twee trampoliens, 'n houtklouterraam en 'n omheinde swembad.

'n Mens kamp lekker by Dolphin, maar oorkant die pad is 'n skoorsteen wat lyk soos 'n restaurantkombuis s'n met 'n lastige en raserige waaier. Jy hoor hom veral saans, maar hy gaan darem laatnag af.

Skropplek

In die linkerkant van die kampplek is twee ablusieblokke en aan die regterkant nog twee. Elkeen het ook 'n waskamer met vier wasmasjiene en drie tuimeldroërs.

Die badkamers is nie meer nuut nie, maar hulle kan nie skoner nie; die vloere word soggens nog voor hanekraai blinkgevryf. Al die badkamers is min of meer dieselfde uitgelê met twee storthokkies, twee toilette, 'n bad en drie wasbakke.

Strand toe

Die strand is skaars 200 m van die hek af en jy stap in 'n steeg daarheen. Buite die hek verkoop smouse enigiets van helderkleurige strandhandoeke en emmertjies tot grafies en sonbrille, en jy weet jy hou vakansie by die see. Ons het in die skoolvakansie hier gekamp en op die strand was nie minder nie as vyf menseredders.

WegSleep sê: Maandae tot Saterdae om 10.30 vm. en weer om 3.30 nm. lui 'n klok wat klink soos 'n ou skoolhandklok. Dan word gratis skons en tee in die saal bedien - vir die kleingoed is daar koekies en koeldrank.

Kortliks | Dolphin-vakansieoord

Kampplek: 99 ruim staanplekke en heelwat koelte, asook 'n badkamer naby.

Ablusiegeriewe: 4 silwerskoon ablusieblokke.

Prys: R255-R820 vir die eerste 2 mense p.n. per staanplek afhangend van die seisoen, en R715-R1 350 vir 6 mense. Nie meer as 6 mense op 'n staanplek nie. Kinders ouer as 2 betaal die volle tarief.

Aankoms- en vertrektyd: 11 vm. en 10 vm. behalwe as jy ander reëlings tref.

Kontak: 032 946 2187; * info@dolphinholidayresort.co.za; dolphinholidayresort.co.za

Hoe ver van Durban af? 54 km.

Hoe lyk die pad? Teer tot hier.

Dis hoe jy ry

• Draai by Ballito van die N2 af en ry 1,4 km in Ballitoweg see se kant toe.

• Draai links in Simbithiweg, en regs in Leonoraweg, 80 m verder.

• Ry 1,5 km en draai regs by die T-aansluiting. Die hek is 450 m verder, links.

GPS: S29.532273 E31.221788

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM