Babas is 'n geskenk wat emmers vol vreugde besorg aan diegene wat gelukkig genoeg is om hulle te hê. Sommige mense mag egter dalk koue rillings kry oor die vooruitsig van 'n kampvakansie wat hulle bondeltjie vreugde blootstel aan gure weer en 'n onhigiëniese omgewing. Dis egter 'n feit dat dit in die algemeen veilig is om met jou kleintjie te kamp.
Ja, jy voel dalk angstig om die veiligheid van jou huis te verlaat vir die baba se eerste kampnaweek, maar dit hoef nie 'n moeilike storie te wees nie. Solank jy goed voorberei.
Gesondheid in die rondheid
Bepaal eerstens of jou kind gesond genoeg is om 'n paar aande in die buitelewe deur te bring. Selfs by die huis is dit moeilik genoeg met 'n baba wat tande sny of koors het.
As die kleintjie gesond genoeg is om te gaan kamp, stel in elk geval veiligheidshalwe vas waar die naaste dokter of hospitaal is.
As jy iemand is wat graag selfversorgend in die boendoes kamp, is dit belangrik dat jy onthou dit gaan die nooddienste waarskynlik langer vat om by julle uit te kom. Tref in só 'n geval voorsorg en pak jou noodhulptassie met die basiese dinge wat 'n baba of kleuter dalk kan nodig kry.
Onthou die insekweerder en sonroom.

Die oefenlopie
Moenie in die diep kant inspring en alles inpak om vir 14 dae in die berge te gaan kamp nie. Ry vir 'n dag na 'n natuurreservaat toe en hou piekniek onder die bome. Of hou jou lyf dagbesoeker by 'n oord en maak jou kleintjie gewoond daaraan om vir 'n langer tydperk buite te wees.
Jy sal ook 'n beter idee kry van hoe gemaklik jou baba daarmee is om vir 'n lang rit in die karstoeltjie te sit. Wanneer jy besluit die tyd is ryp om te gaan kamp, kies 'n plek naby aan die huis. Só kan jy maklik huiswaarts keer as die weer - of jou kind - nie wil saamspeel nie.

Kyk mooi waar jy kamp
Dis belangrik, want as jy in 'n tent by 'n oord kamp, wil jy so naby as moontlik aan die ablusiegeriewe wees - veral as jy besig is om jou kleuter van die doeke af te kry. Jy sal egter moet spring, want dit is gewoonlik gewilde staanplekke wat 'n mens vooraf moet bespreek.
As jy weet jou kleintjie slaap sleg of hulle het dag en nag omgeruil, mik eerder vir 'n meer afgeleë staanplek sodat jy nie jou kampbure wakker hou nie.
Ry ook jou gazebo saam ingeval julle nie 'n staanplek in die koelte kry nie. Sodoende hoef jou baba nie bedags in 'n warm en benoude tent te slaap nie.
As jy egter met 'n wa kamp en die luukse van 'n kassettoilet het, kan jy nader aan die speelterrein kamp.
Onthou om alles in te pak wat julle nodig gaan kry en vind uit waar die naaste dorp of groot kettingwinkel is as jy dalk iets vergeet het.
Koue voete
Selfs in die somermaande kan dit saans koud raak as jy in 'n vallei of langs die see kamp. Trek jou baba se klere in lae aan sodat jy maklik kan aanpas soos die kwik styg en daal.
Die meeste babaklere word van katoen gemaak, wat nie baie doeltreffend is om die koue weg te hou en hulle liggaamshitte te behou nie. Maak dus seker jy bring ook 'n klompie pluisstofkomberse saam en 'n mussie om daai klein koppie warm te hou.
Onthou ook om die handskoene en sokkies in te pak, want dit is die liggaamsdele wat die heel maklikste koudkry. Met kleuters is 'n lekker warm baadjie nommerpas vir koue temperature. Dit word van sintetiese materiaal of wol gemaak.
Merinowol is die eerste prys, want dit raak vinniger droog as jou kind sy tee daarop uitmors. Jy wil egter nie hê jou kind moet té warm kry nie. Hou hulle fyn dop om te sien wanneer hulle ongemaklik raak.
Die doekklub
Weggooidoeke ken nie hulle gelyke wat gerief betref nie, en as jy dit gebruik, is jy sekerlik ook vertroud met Wet Wipes, daardie weggooibare lappies waarsonder geen kar in elk geval behoort te wees nie.
Wanneer jy gaan kamp, kan jy maar twee keer soveel inpak as wat jy normaalweg by die huis gebruik, want jy gaan soveel meer van hulle gebruik in die kampterrein.
Onthou om die kind se swemdoek in te pak, maar gebruik ook gesonde verstand wat betref jou kind se roetine.
En probeer jou voorberei op wat jy kan verwag wanneer jou kleintjie 'n glipsie in die swembad het. Niemand hou van dié soort verrassing in die swembad nie - probeer dus om nié in die kampterrein te kom kyk of die swemdoek werk nie.
'n Mens kry broekies van plastiek wat oor die doek pas met rekke wat styf om die bene span. Dit sal die lewe vir jou én jou mede-kampeerders aansienlik aangenamer maak.
As jy 'n ouer is wat om welke rede ook al nie in weggooidoeke glo nie, moet jy seker maak jy is naby 'n waterkraan om die lapdoeke skoon te kry. Dit kan vir 'n onsmaaklike affêre sorg as jy elke keer 'n dagreis tot by jou naaste kraan moet aflê.
Kamp dan eerder nader aan die ablusiegeriewe waar jy die doeke maklik kan skoonkry.

Etenstyd
Beplan jou kinders se etes vooruit en hou dit so eenvoudig moontlik sodat jy nie vir 'n halwe dag moet staan en kosmaak nie. Kinders wat nog geborsvoed word, is natuurlik makliker, maar maak seker jy het 'n plek waar jy die ekstra borsmelk kan bêre.
As jy nie jou eie kampyskas het nie, hoor of daar 'n yskas in die kampterrein se kombuis is wat jy kan gebruik. (Merk dit duidelik!) Andersins kan jy dit in 'n koelboks met ys koud hou.
As die baba formulemelk drink, is skoon water noodsaaklik. As jy regtig in die boendoes kamp, is 'n waterfiltreerder ononderhandelbaar. Die water moet ook behandel word om seker te maak dit is sonder patogene. Andersins kan jy mineraalwater kook en weer afkoel.
Draai jou kleuter se groente in foelie toe en braai dit saam met die tjops oor die kole. Jy spaar nie net geld deur nié daardie klaargemaakte kinderetes te koop nie; dis boonop gesonder.

Heeltyd speeltyd
'n Klein baba het nie veel meer as 'n speelmat nodig nie. Maak net seker daar is nie dorings of skerp klippe onder dit nie. 'n Mens kry ook strandmatte waarop sand nie opgaar nie.
Hou die tandespeelgoed eenkant in 'n plastieksak wanneer die kleintjie dit nie gebruik nie. En moenie elke keer hardloop om die ketel te kook wanneer die fopspeen op die grond beland nie. Spoel dit net ordentlik af met die skoon water wat jy vroeër gekook het.
Moenie paniekerig raak oor jou kleuter wat aan alles wil vat nie. Dis normaal en nie naastenby so gevaarlik as wat jy dink nie. Dis niks wat 'n bietjie handeseep en warm water voor etenstyd nie kan regsien nie.
Pak ook jou draharnas in, want as jou seuntjie in die toekoms vir die Bulle op slot gaan uitdraf, gaan jou arms vinnig moeg raak as jy hom oral heen dra.
Dis ook 'n goeie geleentheid om 'n kort staproete aan te durf om die kleintjie te stimuleer. Onthou hulle gunstelingspeelgoed, veral dié wat hulle nodig het om aan die slaap te raak. As die kinders oud genoeg is, laat hulle self die speelgoed kies wat hulle wil saamneem.

Lekker slaap!
Dis eintlik nogal ironies (maar heeltemal verstaanbaar) dat babakampbedjies, of camping cots, so gewild geraak het, selfs vir mense wat nie kamp nie. Dis draagbaar en slaan maklik op, en is verreweg die beste keuse vir jou baba wanneer julle kamp.
Maar dit is nogal groot, veral as julle tent knap is. Hou dit dus in gedagte.
'n Ander opsie is 'n groot opblaasmatras waarop Pa, Ma en die kleinding pas.
Onthou die grondseil onder die tent en gooi sommer ook 'n kombers onder die matras sodat die koue nie van onder af vatplek kan kry nie.
Maak seker jou koplamp is gelaai en dat daar warm water in die fles is vir wanneer julle die formulebottel gereed moet hê.
En, belangrik: Onthou om te ontspan en pret te hê. Dis 'n voorreg om jou kleinding voor te stel aan die wonders van die buitelewe.













