Die plan is om eers net deur Suid-Afrika te reis, vertel Vorster. Want hoe kan 'n mens die grens oorsteek as jy nog nie jou eie land verken het nie? Waar moet 'n mens begin? Watter roete moet jy ry?
Dis onmoontlik om te beplan, want daar is te veel mooi plekke om te sien. Daarom besluit ons om te toer soos die wind ons waai. Ons doen geen beplanning nie, en bespreek nét by ons eerste bestemming plek.
Ons besluit om see toe te mik. En omdat ons nie van skares hou nie, moet dit 'n stil plek wees. Ons bespreek by die Mabibi Beach-kamp in die Wildekus en begin ons avontuur.
Ons het geen huis om na terug te keer nie. Al ons goed word gestoor. Daar is niks agter ons nie, net die ooppad voor ons met al die afdraaie wat roep.

Ons ry in 'n 1984-model Toyota Land Cruiser. Hy heet "Die Bus" en ons het alles vir ons reis binne-in gelaai. Hier is nie 'n dakrak in sig nie. Omdat hy so oud is, het Die Bus ook nie lugreëling of ander luukses nie.
Mabibi Beach is wonderlik. Die see se warm blou water en die bloublasies en krappies is heerlik om te beleef. Die kampplek is ongelooflik mooi en ons maak gawe vriende - en besef opnuut ons land is 'n goeie plek, want ons mense het harte van goud.
Ná 'n week is ons daar weg - met geen idee waarheen ons op pad is nie. Slegs 'n gevoel dat die berge ons roep. Die Drakensberg was vir ons nog altyd 'n bekoring en ons ry op die hoofweg Durban toe - en bespreek sommer so in die ry ons kampplek in die Hermits Wood-kampterrein naby Underberg.
Ons verkyk ons aan die berge en stop met 'n lied in die hart by ons kampplek. Hier is pragtige grasperke met die berge wat om ons verrys. Ons voel sommer tuis in die koel lug. Dit is vroeg Vrydagmiddag en hier is net een ander groep mense wat naby ons kamp.
Alles is rustig en stil, maar teen vyfuur die middag is die staanplekke almal vol en dis 'n miernes van bedrywigheid. Motors ry heen en weer, mense lag en skree, en ons gesin voel dinge raak net te besig vir ons. Dit verg baie geduld om jou beurt by die ablusieblok af te wag.

Teen Sondagmiddag het almal opgepak en daar daal 'n diepe rustigheid oor die kamp neer. Nou is ons weer alleen. Dinge lyk beter. Van Hermits Wood af vertrek ons om by die Dargle Forest Lodge-gasteplaas te oornag. Dit lê tussen Underberg en Howick in die berge en word omring deur lieflike natuurskoon.
Ons is aangenaam verras. Die plaas behoort aan 'n jong egpaar wat die potensiaal van die plek raakgesien en dit deur harde werk ontwikkel het. Hulle het omtrent alles self gebou - met hulle talent of hartstog skort net mooi niks nie.
Op soek na 'n nuwe tent
Ons volgende bestemming is Maclear in die Oos-Kaap. Net buite die dorp, op pad na Ugie, is die Tortoni-kampterrein op 'n pragtige plaas. Ons ontmoet die vriendelike eienaars en geniet 'n rustige tyd langs 'n klein dam. Hier kan 'n mens nie anders nie as om deel te voel van die plaaslewe, en jy kan skaars verder verwyder voel van die gejaag van ons menslike bestaan.
Op die laaste aand van ons besoek word ons wakker van 'n storm wat om ons woed. Dit reën ou tannies met knopkieries en die rukwinde pluk aan ons tent - só erg dat hy daarmee heen is toe die storm uiteindelik bedaar. Dis dan dat jy wens jy het geluister na waarskuwings teen goedkoop supermarktente.
Dis Saterdag en ons ry Aliwal-Noord toe met die hoop dat ons daar geholpe sal raak met 'n nuwe tent. Ons kom egter nie reg nie en slaap die nag in 'n gastehuis. Die volgende dag volg ons Google se raad en ry Bloemfontein toe.
Die aand kamp ons in ons nuwe tent by Tom's Place. Van Bloemfontein af reis ons na Kimberley om vir ons seun, Orrin (10), die groot gat te gaan wys, maar die strate is afgesper weens 'n optog, en ons kan nie daar uitkom nie.
Ons besluit toe om maar die McGregor-hotelmuseum te besoek. Ons ry later terug na die gat, en dié slag is die strate weer oop. Die groot gat het 'n reuseverandering ondergaan vandat ons laas daar was.
Dis teleurstellend om te sien hoe die plek nou net 'n siellose dop is teenoor wat dit eens was. Waar 'n mens jou voorheen kon inleef in hoe die lewe destyds was, is dit nou soos 'n rou graf wat oop lê.

Ons vertrek die volgende oggend na Douglas om by die Broad Water-rivierlandgoed te kamp. Dit is 'n aangename plek met netjiese en groot ablusiegeriewe en groen grasperke. Hier is ook 'n restaurant waar 'n mens jou 'n bietjie kan bederf.
Met al die aktiwiteite op die rivier word dit oor naweke heel bedrywig, en ons is eintlik verlig toe ons Saterdag oppak om na ons volgende bestemming te vertrek. Die plan is om by die Boegoebergdam te kamp.
Ons ry deur Douglas na Prieska, waar ons eers by familie inloer wat langs die Oranjerivier boer. Van Prieska af ry ons Marydale toe en draai dan af op 'n grondpad na die dam.
Ons word meegedeel dat ons bespreking nie by hulle uitgekom het nie - gelukkig het hulle nog plek en beduie vir ons waar ons kan kamp opslaan. Ons maak vriende met Piet Bezuidenhout en Jandre Smith van Upington. Dis asof ons bedoel was om by mekaar uit te kom, want danksy oom Piet se kennis van die Kalahari - wat hy graag met ons gedeel het - kyk ons met ander oë na dié besonderse deel van die wêreld.
Van hier af mik ons Upington toe, bloot op aanbeveling van dié interessante mense. Dít is dalk hoekom dit so 'n ongelooflike ervaring is om sonder 'n plan te reis: Deur jou oop te stel vir die invloed van kultuur en die geskiedenis sien 'n mens nie net plekke wat jy beplan het om op jou lysie af te merk nie.
Jy sien iemand anders se wêreld, soos hulle dit elke dag sien. En jy hoor daardie een se stories, jy leef sy wêreld. En dít maak die reis iets diepers as om bloot net te kan sê "ek was daar".

Augrabies toe!
Ons slaap een aand op Upington en ry die volgende dag na die Augrabies-waterval toe om dié natuurwonder te aanskou. Die rivier vloei in dié stadium nie so sterk nie en is daarom dalk nie so mooi soos 'n mens soms op foto's sien nie. Nogtans is dit vir ons 'n belewenis.
Die aand kamp ons by die Kalahari Monate-lodge en slaap twee aande hier oor. Hier ontmoet ons vir Vincent Parker, wat besig is met navorsing oor die voëllewe in die Kalahari. Die kampplek is goed ingerig met mooi ablusiegeriewe en plek om jou klere te was. Hier is ook 'n mooi swembad wat welkome verligting bring in die versengende middaghitte. Ons is bevoorreg om 'n groot skilpad as buurman te hê.
Hulle kom uit die veld om op die grasperke te wei omdat dit so droog is. Ons buurman het egter ons appels geruik en hy weier om te loop voor sy lus geblus is. 'n Hele appel later moet ek hom huis toe dra. Ons kom beslis weer hier kamp. Mét genoeg appels!
Ná ons kuier hier beweeg ons weer aan, altyd nuuskierig om te sien wat om die volgende draai op ons wag. Dié slag mik ons op aanbeveling van oom Piet na die Kalahari Molopo-lodge. Dit is 'n pragtige plek naby Witdraai, anderkant Askham.
Hier word ons die eerste aand bederf met 'n komplimentêre tuisgebakte brood en ek kry die kans om my vrou te verras met 'n Griekse slaai uit hulle kombuis. Hier is ook 'n swembad.

Drie wonderlike dae later pak ons op om tussen Van Zylsrus en Black Rock te gaan kamp. Met ons bespreking agter die blad vertrek ons die Maandagoggend en besluit om grondpad langs te ry.
Eers gaan kyk ons na die graf van Dawid Kruiper, koning van die Khoisan, en daarna na die aasvoëlneste by Bokspits. Dit is so mooi om die aasvoëlkuikens in die neste bo-op groot kameeldoringbome te sien sit.
Die grondpaaie in dié deel van die land wissel van gangbaar tot hindernisbaan, en jy kan nie bekostig om jou oë van die pad af te haal nie. Dit help darem dat ek op grondpaaie grootgeword het.
Ons haal Van Zylsrus sonder voorval, maar hou by 'n geslote hek stil. En daar staan ons. Dié omgewing het net 'n MTN-sein, en omdat ons almal by Vodacom is, kan ons nie bel nie. Ons draai maar om en begin soek na 'n alternatiewe slaapplek.
Jy hoor daardie een se stories, jy leef sy wêreld. En dít maak die reis iets diepers as om bloot net te kan sê ‘ek was daar'.
Ons kom by 'n T-aansluiting en besluit om na Mccarthy's Rest toe te draai. Voor ons (oningeligte) geestesoog sien ons 'n klein dorpie soos Van Zylsrus daar by Mccarthy's Rest. Voor ons is een voertuig, maar hy ry baie vinnig.
Seker om die grenspos daar te haal voordat dit toemaak. En dan sien ons dit: Die bordjie langs die pad sê die OppiKnoppi-gasteplaas is naby. Ons vat 'n kans en draai in. Dit is nou al vieruur in die middag en ons hoop op die beste.
'n Welkome Plan B
Ons sien 'n Land Cruiser by die beeskraal. Die man by die kar stap na ons toe. Dit is Pieter Grove, die eienaar, en die nuus is nie goed nie: Sy hele boskamp is volbespreek vir die aand. Hy sien seker die verslae uitdrukking op ons gesig en stel 'n plan B voor: Ons kan in sy pa se huis slaap vir die aand, teen 'n spotgoedkoop tarief.
Sonder om twee keer te dink aanvaar ons sy aanbod. Ons is baie dankbaar vir sy hulp en gasvrye ontvangs. Later bring Pieter vir ons hout en bied aan om ons op 'n gratis wildrit te neem.
Wéér kry ons die geleentheid om nuwe vriende te maak in 'n land wat ons van die begin van ons reis tot reg op die einde elke dag verstom. As 'n mens 'n land se welstand kan meet op grond van sy mense se liefde en gasvrye aanvaarding, dan is ons land seker die rykste ter wêreld.
Nou val ons weer in die pad en mik vir McCarthy's Rest. Eers toe ons daar kom, besef ons hoeveel Pieter ons gehelp het: Wat ons gedink het is 'n klein dorp, is niks anders nie as 'n grenspos.
Ons besluit om langs die Moloporivier te hou Vorstershoop toe. Hier gooi ons diesel in, koop 'n koeldrankie en ry verder langs die Molopo na Bray. Hier geniet ons 'n burger by die Tapama-lodge voor ons weer in die pad val... bestemming steeds onbekend.
Tussen Bray en Senlac ry ons op die slegste grondpaaie wat ek nóg beleef het. Gelukkig is dit nog daglig, en toe ons by Senlac op die teerpad klim, is die verligting groot. Ons het in twee dae net minder as 700 km grondpad gery. Wat egter vir ons uitstaan, is dat die meeste van die grondpaaie waarop ons gery het, nie te sleg was nie.

Sal ek dit weer doen? O ja. Dalk nie presies dieselfde pad nie, maar ons kom gewis terug. Ons slaap die aand op 'n plaas by Ascot, net buite Tosca. Om van die Kalahari te afskeid neem braai ons die aand... en die omgewing groet ons met die mooiste sonsondergang denkbaar.
Later doen ek 'n paar somme. Ek merk ons roete op 'n kaart en bereken met Google ons afstand van dorp tot dorp. Ons het binne 43 dae altesame 4 495 km gery waarvan meer as 700 km grondpad was. Ek het so te sê 53 uur agter die stuur deurgebring teen 'n gemiddelde spoed van 80 km/h.
Ons het net-net minder as 600 l diesel uitgery, wat beteken my getroue ou Land Cruiser het ons 13,3 l/100 km gegee.
Die glimlag op ons gesigte? Ons is weer besig om te pak. Waarheen? Tot waar die wind ons waai...
Hierdie artikel het oorspronklik in Ry & Sleep #18 (Januarie 2019) verskyn. Feite en geite kon intussen verander het - laat weet gerusby digitaal@weg.co.za asjy iets raaksien.












