Ná die verpligte familiefoto in die bloedige hitte met die Epupa-valle in die agtergrond, durf ons 'n week voor Kersfees die slegste deel van ons vakansie in die Caprivi in Namibië aan - die rit vanaf Opuwo na die Kunenerivier, 'n kort stukkie grondpad (ongeveer 30 km) wat so sleg is dat dit ons 'n uur vat om te ry na ons kampplek, Camp Cornie.
Die personeel maak korte mette van uitpak terwyl ons die res van die groep groet. Vinnig is die kinders in die swembad en die grootmense kan rustig op die oewer van die Kunenerivier in die skadu van 'n groot wildevyboom sit en 'n welkome lafenis geniet.
Kultuur op jou voorstoep
Op die eerste dag neem ons die kinders na 'n tradisionele Himba-stat in die omgewing waar hulle meer kan leer oor hoe die semi-nomadiese mense van hierdie stam leef. 'n Himba-meisie wat Engels magtig is, vra die hoofman of sy ons 'n toer mag gee. Nadat hy sy toestemming gee, vertel sy ons meer oor dié kultuur wat met so min oor die weg kan kom.

Hulle dieet bestaan hoofsaaklik uit water, pap wat hulle van mahangu ('n graangewas inheems aan Afrika wat veral in die noorde van Namibië verbou word) maak, makalani ('n vrug wat amper soos 'n granadilla lyk, aan 'n makalanipalm groei en ook gebruik word om 'n soort bier mee te maak), vleis en bokmelk. Ons proe die mahangupap wat hul stapelvoedsel is, sien hoe hulle hutte bou, neem foto's saam met die tradisioneel geklede vroue en kinders en word selfs getrakteer op 'n donkieruiter (kompleet met 'n cowboyhoed op die kop) se talentvolle truuks.

Voor ons vertrek sing die vroue en kinders vir ons 'n Himba-liedjie en doen 'n tradisionele dans. Een van die vroue dra 'n rok waarop daar groot op die voorkant Gucci staan. Dié luukse handelsmerk skep 'n skrille kontras met die landskap waarin sy woon. Met ons vertrek merk een van die kinders in ons geselskap op hoe ongelooflik mooi die vroue en kinders met hulle vlekkelose velle en groot bruin oë is.

Waardeer die mooi om jou
Terug by Camp Cornie verkyk ons ons aan verskeie voëlspesies wat kort-kort oor die water swiep en in die boomtakke rondom ons te ruste kom terwyl ons sit en kaart speel. Elke nou en dan word die verkykers uitgehaal en die naslaanboeke nader getrek soos ons redekawel oor wat gesien word.
Die jarelange voëlkykers in die groep is verheug oor die Jameson-vuurvink wat nog net een keer vantevore gesien is. Die kinders stel meer belang in die verskeidenheid kleurvolle koggelmanders en die ape wat elke nou en dan die vrugte van die makalanipalms rondgooi. Hulle speel sokker saam met die personeel se kinders en kom koel dan weer in die swembad af.

Elke aand maak jy maar 'n handdoek nat om oor jou te gooi en gaan lê voor die waaier wat in elke tent aangebring is. Dit help darem dat almal aan die slaap kan raak in die drukkende hitte. Maar vroeg-vroeg sing die sonbesies en die voëls jou wakker en begin die apies in die bome gesels.
Tot die kinders se groot vermaak kom kuier 'n paar varke ook die laaste oggend saam voordat ons weer die grondpad moet aandurf.
Dié keer op pad Ruacana toe om vir die ingenieur in die geselskap die groot wateraanleg naby dié dorp op die grens met Angola te gaan wys.
Die hemel se sluise is oopgetrek
Sedert ons besoek in Desember/Januarie het Kaokoland ongelooflik baie reën gekry. Paaie het verspoel en noodwaarskuwings is uitgestuur, want die Epupa-valle het so gedruis dat die Kunenerivier se oewer oorspoel het.
Paaie in hierdie gebied mag dalk nou selfs slegter wees as toe ons daar was. Doen dus deeglik navorsing en bel eerder kampplekke en toeroperateurs wat die afgelope week of twee in die streek was om te hoor hoe die paaie lyk voordat jy die rit aanpak.
By Ruacana moes hulle die sluise oopmaak, want die waterwerke kon nie al die water hanteer nie. Dit het ook redelik skade in dié gebied, wat nie gewoond is aan so baie reën in so kort tydjie nie, veroorsaak. Wees dus ekstra versigtig en doen jou huiswerk voordat jy en jou gesin in jul motor klim.





















