Reis

Kan jy dié padteken lees?

Stel jou voor jy ry langpad op 'n onbekende plek en jy gaan staan sonder brandstof, die kar gee probleme, jy's dalk in 'n ongeluk of erger nog, jy of een van jou passasiers het dringend mediese hulp nodig. Jy gryp jou selfoon om hulp te ontbied en dan moet jy verduidelik presies waar jy is.

Dié soort van gesprekke verloop dan min of meer so: "Uhm... man Frikkie, uhm... ons is hier op die pad tussen Colesberg en Cradock iewers...Ja, ek dink ons is al by Noupoort se afdraai verby, maar ek weet nie hoe ver nie, ek het nou nie so opgelet nie. Aan die linkerkant van die pad ja. Ek meen die kar se neus kyk Cradock se kant toe."

Arme Frikkie gaan lank soek, maar as jy een van hierdie blou bordjies sien, kan jy presies beduie waar jy is, sonder 'n GPS.

Só lees 'n mens dié bordjies:

Dis die pad Die letters en syfers links bo, verwys na die pad waarop jy is. In hierdie geval die N1.

Hierdie deel Die syfers ná die aandagstreep dui die gedeelte van die pad aan waar jy jou bevind. Seksie 23 in hierdie voorbeeld.

Só ver Die onderste syfers dui die afstand in kilometer van waar die seksie begin het.

Dié kant toe Die laaste letter dui die rigting aan waarin jy reis. Suid in hierdie geval.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM