Reis

Ken jy dié parke?

(Willem van der Berg)

Dit is nasionale parkeweek! Besoek hierdie week een van dié ses stiller parke. Dié kleiner parke het nie net interessante inwoners nie, maar ook stiller kampe en paaie. En vandeesweek is toegang gratis!

1. Marakele- nasionale park, Limpopo

Marakele Jon Minster
Marakele Jon Minster

Waarom dié park?

Die Marakele- nasionale park is minder as 2 ure se ry van Pretoria af. Die Groot Vyf is dalk skaars, maar hier is jy lekker na aan die wild. Die park is ideaal vir 'n naweekwegbreek of kort vakansie. Ons wenk: Besoek die park gedurende die week of buite skoolvakansies as jy stilte soek.

Inwoners:

Die park het een van die grootste oorblywende kolonies Kaapse aasvoëls. Die witrenosters is redelik mak en wei sommer tussen die tente deur. Hier is ook olifante, luiperds, leeus en hiënas.

Foto-joernalis, Villiers Steyn sê:

"Wat Marakele spesiaal maak, is sy karakter. As jy hier kom kamp, gaan jy beslis vriende maak - nie net met jou bure in Bontle (die kampterrein) nie, maar ook met die diere wat hulle so vrypostig in die kampterrein kom aanmeld."

Klik hier vir meer inligting oor die Marakele- nasionale park.

https://www.sanparks.org/parks/marakele/

2. Mokala- nasionale park, Noord-Kaap

Foto: Willem van der Berg
Foto: Willem van der Berg

Waarom dié park?

Die Mokala- nasionale park is klein genoeg dat jy hom in 'n langnaweek kan platry. Dis sentraal in die middel van die land (90 km suid van Kimberley), en dus maklik bereikbaar uit verskeie oorde. Die park is baie stil en jy en die gesin kan rustig wildkyk.

Inwoners:

"Mokala" is die Tswana-naam vir kameeldoringboom en dié bome is volop in die park. Hier's ook renosters, buffels, swartwitpense, rooihartbeeste en tsessebes.

Foto-joernalis, Willem van der Berg sê:

"Tussen die kameeldoringbome en die groot ooptes het ek weer kontak gemaak met die rustigheid waarvan 'n mens so gou vervreem raak. Ek en Mokala is nou goeie vriende."

Klik hier vir meer inligting oor die Mokala- nasionale park.

https://www.sanparks.org/parks/mokala/

3. Bergkwagga- nasionale park, Oos-Kaap

Foto: Toast Coetzer
Foto: Toast Coetzer

Waarom dié park?

Net soos die naam aandui, maak die bergkwagga hierdie park besonders. Die park is net buite Cradock, en buiten die diere is hier 'n landskap wat jou asem wegslaan en 'n rustige atmosfeer waarin jy weer asem kan skep.

Inwoners:

Die vernaamste inwoners is die bergkwaggas, maar hier is ook jagluiperds, bloukraanvoëls en buffels.

Weg se Toast Coetzer sê:

"Die Bergkwagga- nasionale park buite Cradock lê na aan my hart: As kind het ons gereeld ná kerk op 'n Sondag 'n draai deur die park gaan ry. Sedertdien het die park baie uitgebrei met nuwe plase wat aangekoop is - behalwe vir die mooi bergveld met sy ikoniese bergkwaggas (wat hier byna 80 jaar gelede van uitsterwing gered is) is daar nou ook vlakteveld waar jy selfs jagluiperds kan sien. Die ruskamp lê in 'n kloof, en dit gee 'n byna intieme gevoel: jy's in die berge, en die res van die wêreld raak, met elke verbygaande uur, van minder en minder belang."

Klik hier vir meer inligting oor die Bergkwagga- nasionale park.

https://www.sanparks.org/parks/mountain_zeb

4. Tankwa- nasionale park, Grens van Wes- en Noord-Kaap

Foto: Charles Thompson
Foto: Charles Thompson

Waarom dié park?

Hoewel die park net vier uur van Kaapstad af is, kan jy hier wegraak en mens raak. In die Tankwa-nasionale park gebeur nie veel nie. Die Groot Vyf, selfoonopvangs en bekende leeus (ons praat van jou, Sylvester) gaan jy nie hier vind nie. Kuier in die Tankwa en waardeer eerder die oop hemel, die stil aande en bokke wat lui-lui op die vlaktes wei. As jy na adrenalien smag, kan jy altyd met jou 4x4 die Leeuberg-roete aanpak. ?Klik hier vir 'n video daarvan.

Inwoners:

Gemsbokke, springbokke, rooihartbeeste, koedoes en 'n paar elande.

WegRy se Charles Thompson sê:

"Langs die woorde ‘stilte' en ‘spasie' in die woordeboek kon daar net sowel Tankwa-Karoo in plaas van 'n verduideliking gestaan het. Jy kan maklik vir 'n dag hier rondry sonder om enige ander lewe as 'n paar bokke en plate madeliefies te sien."

Klik hier vir meer inligting oor die Tankwa- nasionale park.

https://www.sanparks.org/parks/tankwa/

5. Bontebok- nasionale park, Wes-Kaap

Foto: Gretchen Dietz
Foto: Gretchen Dietz

Waarom dié park?

Die Bontebok- nasionale park is die kleinste nasionale park in Suid-Afrika. Dis net buite Swellendam, en vir Kapenaars 'n lekker naweekwegbreek. Hoewel die park dalk nie grootwild en bosveld het nie, is hier 'n verskeidenheid van plant- en voëlspesies, asook 'n paar boksoorte.

Inwoners:

Die Breërivier is dalk nie 'n inwoner nie, maar wel die lewensaar wat deur die park vloei. Hier kan jy en jou gesin piekniek hou en ontspan. Wanneer julle rondry, sal jy bontebok en rooihartbees sien. Hier's ook meer as 200 voëlspesies.

Vryskutskrywer, Gretchen Dietz sê:

"Gooi 'n kombers oop op die gras op die oewer van die Breërivier by Die Stroom-piekniekkol en plas, speel en roei (bring jou eie kano)."

Klik hier vir meer inligting oor die Bontebok- nasionale park.

https://www.sanparks.org/parks/bontebok/

6. Agulhas- nasionale park, Wes-Kaap

Foto: Ruvan Boshoff
Foto: Ruvan Boshoff

Waarom dié park?

Die Agulhas- nasionale park is op die mees suidelike punt van Suid-Afrika. Jy kan die park besoek net vir die laasgenoemde feit, maar hier is ook 'n mooi (yskoue) strandmeer en sirkelstaproetes.

Inwoners:

Hier gaan jy nie die Groot Vyf sien nie - die grootste landdier is 'n vaalribbok. Tussen Augustus en Oktober kan jy wel noorkapperwalvisse en bedreigde voëlspesies soos die swarttobie sien.

Weg se Annemie Lombard sê:

"Jy kom hiernatoe om die klein dingetjies te waardeer. Soos skulpe op die wit strand en unieke voëlspesies. Kom gerus in die lentemaande, nie net gaan jy walvisse sien nie, maar die pad deur die Overberg se canolavelde maak die reis ook mooi."

Klik hier vir meer inligting oor die Agulhas- nasionale park.

Besoek jy vandeesweek een van die bogenoemde parke? Stuur foto's na digitaal@weg.co.za!

Nasionale parkeweek:

Sanparke maak van 12 tot 16 September sy hekke oop vir besoekers. Die veldtog staan bekend as "Ken jou nasionale parke" en geskied tydens nasionale parkeweek. Klik hier vir meer inligting

Annemie Lombard

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM