Reis

Tuis tussen die klippe

(Albie venter)

Dié beskeie bokkie is een van die mees fassinerende bokkies op die vasteland. Hulle is op verskeie maniere spesiaal aangepas vir hulle lewe tussen die rotse.

Elke individuele haar is hol en byna soos 'n ystervarkpen. Hierdie dik mat hare beskerm hulle glo as hulle sou val en bied uiters doeltreffende isolasie in die dier se koue, bergagtige habitat. Die vroeë setlaars het gou die unieke "kussing"-effek van klipspringerhare besef en dit gebruik om saals op te stop.

Klipspringers se hoewe is só gevorm dat die bokkies op die puntjies van hulle hoewe loop. Soos die hoewe verweer vorm dit 'n silindervormige buis wat nog meer houvas op die klipperige terrein bied.

Klipspringers hou gewoonlik in pare of in klein familiegroepies, en hulle is toegewyde maats, hoor - soveel so dat hulle baie min ver weg van mekaar loop. Hierdie paarband duur vir 'n leeftyd, totdat die een doodgaan. Dit is maklik om die geslag te bepaal, want net die rammetjies het twee kort, reguit horings.

Soos baie ander klein bokkies is klipspringers baie territoriaal. Hulle merk die grense van hulle gebied met groot mishope. Een van die redes hiervoor is dat hulle kos verkies wat baie energie gee, soos nuwe grasspriete en blare, en blomme en vrugte. Hierdie kossoorte is skaars in enige gebied. Daarom sal hulle 'n gebied afbaken en dit verdedig teen ander bokkies.

Albie Venter

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM