Reis

Kom ons kyk kiekies

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Skets: Fred Mouton
Skets: Fred Mouton

Nostalgie is 'n aardige ding: Dis mos 'n soort verlange na dinge waarop 'n mens nie eintlik jou vinger kan lê nie. Jy is nooit seker presies waarna dit is wat jy hunker nie, maar in jou binneste ontstaan so 'n warm gevoel wanneer jy dink aan goeie tye.

Dis eers wanneer iemand iets sê oor die dae toe dubbelkajuitbakkies nog 'n skaars ding was en hoe dit eintlik net boere en bouers was wat 'n Hilux-sleutel in die broeksak gedra het, dat jy onthou van daardie vakansie toe jy saam met jou nefies moes nesskop onder die kappie agterop jou oupa se bakkie terwyl julle op pad is see toe.

Iewers in 'n laai is daar nog foto's van daai trippie en die piekniek wat julle langs die pad gehou het, en die familie wat soos ontdekkingsreisigers op die wal van die Gariepdam (destyds nog die H.F. Verwoerd) voor die kar staan. Jy sien oom Daantjie en neef Stefaans wat met hulle voete wydsbeen bo-oor die denkbeeldige grens tussen die Kaapprovinsie en die Vrystaat geplant staan. Of wag, dalk was dit op die brug by Aliwal-Noord die slag toe julle by Golden Gate gaan kamp het.

As jy eers sien watter wa dit is wat Pa gesleep het, sal jy onthou. As dit die Gypsey Caravette 6 is, was dit die vakansie see toe, maar as dit die Manjefiek B is, was dit Golden Gate.

Dit was nog in die dae toe almal sulke plat mik-en-drukkameratjies gebruik het met 110- of 101-filmrolletjies. 'n Mens het die film by die apteek of by die toonbank by Clicks ingegee en dan 'n week later met 'n teenblaadjie daar gaan staan, angstig om te sien hoeveel foto's onderbelig is of 'n vinger voor die lens het. Die teleurstelling was ewe groot wanneer jy besef die maanhaarleeu wat jy in die wildtuin afgeneem het, was só ver weg hy lyk nou soos 'n verdwaalde veldmuis in jou agterplaas.

So begin die soektog na die ou vakansiefoto's. In derduisende huise lê daar iewers in 'n laai wat selde gebruik word, waarskynlik in 'n kassie wat met 'n mooi geborduurde lappie toegegooi is, stapels en stapels vakansiefoto's wat stof lê en vergaar. Eintlik lê hulle nie in stapels nie; hulle is waarskynlik nog in daardie helderkleurige Kodak- of Agfa-koeverte waarin hulle van die fotoplek af gekom het. Party word met 'n rekkie aanmekaar gehou, en iewers op die koevert het iemand met 'n blou bolpuntpen geskryf: "Stormsrivier - 1979" of "Marietjie se eerste wildtuinvakansie".

Hier en daar is daar dalk selfs 'n boksie skyfies. Vir skyfies moes 'n mens spesiaal die vertrek donker maak en die portrette van die mure afhaal sodat almal mooi kon sien as jy die projektor aansit. Die skroefie of hakie waaraan 'n baie formele foto van Oupa gehang het, het dan altyd gesorg dat iemand op die prentjie 'n aardige moesie of vratjie bykry wanneer dit teen die muur verskyn. Daar was altyd 'n prentjie waarop die mense op hulle kop staan of een waarop almal hulle horlosie skynbaar aan die regterhand het voor 'n bordjie wat lui "tnemunomrekkertrooV."

Vakansiefoto's is die radioaktiewe isotoop in die kernreaktor van nostalgie.

Daar is niks so kragtig soos 'n vakansiefoto om 'n hewige kettingreaksie van "Onthou jy nog," en "waar's die dae?" te begin nie. "Haai kyk, dis nog Oupa se ou Holden - ek het al vergeet van hom!

Hoe byderwetser jy was die dag toe daai foto geneem is, hoe meer belaglik gaan jy waarskynlik nou vir jouself en die res van die wêreld lyk.

Jissie, dit was darem nou vir jou 'n lekker ou kar daai! In daai dae het hulle nog propperse karre gebou."

Dis die een ding van vakansiefoto's: Dit maak nie saak hoeveel tegnologiese vooruitgang daar in die dekades was sedert daai foto geneem is nie; vandag se voertuie steek almal op die een of ander manier af teen dié op die foto. Dit sal die ouens wat verspotte motortjies met verspotte name ontwerp, dalk goed doen om op 'n paar ou vakansiefoto's te gaan kyk na die breë glimlagge van besnorde mans agter die stuur van 'n Opel Rekord. 'n Ford Granada. 'n Datsun Laurel.

Mode-ontwerpers kan ook maar 'n paar Kodak-oomblikke nader trek, want nog 'n ding waarvoor vakansiefoto's uitstekend is, is om te dien as stawende dokumentasie dat daar nie 'n ding soos "tydlose elegansie" bestaan wanneer dit kom by vakansiemodes nie.

Horace Mann, 'n 19de eeuse politikus in Amerika, het glo by geleentheid gesê 'n algemene openbare skoolopvoeding sal dien as die "groot gelykmaker" in die samelewing. Kortom kom dit daarop neer dis onmoontlik om hoogmoedig te wees as jy en jou medemens dieselfde opvoeding gehad het. Sy redenasie is edel en lofwaardig, maar duidelik het Horace Mann nie genoeg vakansiefoto's nie. Vakansiefoto's is die ware "groot gelykmaker".

Kyk, g'n mens wat sy eie figuur al op 'n vakansiefoto gesien het waar dit in 'n helder swembroek ingeprop is, kan hulleself meerderwaardig hou nie.

As ou Horace homself ooit gesien het in daai koddige pajamapak-baaikostuums wat die mans in sy tyd gedra het, het hy wrintiewaar stil-stil uit die politiek bedank en noord gemik om eerder iewers in Alaska te gaan sneeumanne bou.

Hoe byderwetser jy was die dag toe daai foto geneem is, hoe meer belaglik gaan jy waarskynlik nou vir jouself en die res van die wêreld lyk. "Haai, kyk Ma se hare!" "Genade wat het jou besiel om dít aan te trek?!" "Was dit vir 'n fancy dress of iets?"

As jy lank genoeg tussen vakansiefoto's snuffel, sal jy ook altyd 'n foto of drie kry waar minstens een mens heel duidelik nie lus is vir glimlag nie. Dalk is dit tannie Bettie met die stywe lippies op die foto voor die Kangogrotte, omdat sy eerder wou gaan volstruise kyk. Of miskien is dit een van die foto's wat geneem is op daai vakansie toe jou sussie geweier het om te glimlag omdat sy in die laaste week van die kwartaal draadjies gekry het.

Daar's waarskynlik ook 'n foto of twee van 'n glimlaggende gesin saam met 'n laaitie met traanstrepe oor sy vuil wange omdat hy kort tevore sy vierde pakslae van die vakansie gekry het - dis nou ná die grensoorlog op die agtersitplek van die Opel, of omdat die bandspeler met die pap batterye die Carpenters-tape tussen Richmond en Hanover "gesluk" het. Nie een van die twee was natuurlik jou skuld nie.

Dan is daar ook die "Haai foeitog"-foto's. "Haai shame, kyk vir antie Kota - dit was nog voor hulle die siekte by haar gediagnoseer het." "Siestog, hierdie was oom Daantjie se eerste Kersfees sonder die tannie..." "Hier was Ouma ook nog saam..."

Nostalgie is 'n aardige ding. Dis die verlange na mense, dinge en plekke op vakansiefoto's waarop jy nie nou jou hand kan lê nie.

Hierdie artikel het oorspronklik in Wegsleep (Augustus 2013) verskyn.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM