Bly só besig
Stap in en om die kloof. Die Magoebaskloofstaproete het van maklike tweedagopsies vir die hele gesin tot 'n vierdagopsie vir die fikses.As jy water op die knieë het, doen die 10 km lange Louis Changuion-staproete rondom Haenertsburg. Dié roete loop onder meer deur die dorpsbegraafplaas, waar die inwoners soms in die maanlig piekniek hou.
Ry deur die kloof. As jy net jou arm 'n bietjie by die venster wil laat uithang, vat die R71 van Haenertsburg af na Tzaneen en ry dan met die R528 terug deur die Georgesvallei.
Op dié sirkelroete van sowat 75 km waaier die woude weerskante van die pad vir kilometers aaneen, en as die mis insweef, kan jy skaars jou kar se neus sien. Dit voel dan amper asof jy op pad is na die hotel in The Shining...
Gly deur die kloof. Foefieslaaid van platform tot platform oor die Groot-Letabarivier in die Georgesvallei met Magoebaskloof Canopy Tours. Voel waarlik vry met jou hare wat in die wind wapper, 'n katrol wat bo jou kop "wwwrrrr", en jy wat soos 'n laerskoolmeisie gil.
Die Haenertsburg- kos- , wyn- en bierfees vind op 28 en 29 April plaas (die Saterdag en Sondag van die langnaweek).
- Kaartjies R20 p.p. As jy wil wynproe, kos dit R50 - dit sluit 'n wynglas in.
- Kontakmara@haenertsburg.co.za; 082 370 8567
Lees ook ons Weg-artikel Hou piekniek in 'n begraafplaas
- Magoebaskloof Canopy Tours www.magoebaskloofcanopytour.co.za
- Tzaneendam www.golimpopo.com
- Magoebaskloof-toerisme www.magoebasklooftourism.co.za













