N6-padstal, Reddersburg
Hier staan Annatjie du Plooy (links), Gerda Kruger, Bernard Rossouw, Tharina Joubert (eienaar), Elna Barnard en Magda Lingerfelder met een van die N6-padstal se smaaklike melkterte.
Langs die N6 wat deur dié klein Vrystaatse dorpie loop, wink 'n helderkleurige windpompwiel jou nader met beloftes van moerkoffie, heuning, naaldwerk, biltong en droëvrugte. Saam met die windpompwiel lê 'n klompie boerpampoene op die padstal se stoepdak.
En by die voordeur groet 'n houtbordjie: " 'n Moerse welkom aan al ons kastemers".
Dis pure plattelandse gasvryheid diékant van die land. Wat jy nie hier verwag nie, is die oulike kwekery.
Tussen die plante en onder die skadunet is tafeltjies met sambrele waar jy kan uitspan en iets kry om te eet of drink. Die personeel spog met hulle sjokolademelkskommel (R25), maar die gemmerbier is ook heerlik.
En dan is die aftrekplek veral bekend vir sy melktert (natuurlik!). Die padstal het eers 'n melktertkompetisie in die kontrei gehou om die beste resep te vind. Die melktert hier by N6 smaak wraggies vorentoe. Jou porsie is nie 'n sny nie, maar 'n mini-melktertjie (R5). Dit smaak presies soos die melktert waarna jy verlang het - 'n stewige en bros kors met die vulsel 100% styf genoeg en smaaklik, en net mooi genoeg kaneel sonder om jou neusgate te kielie.
Vat 'n groot melktert (R45) huis toe.

Honde is welkom en jy kan selfs tuisgemaakte hondekoekies vir Wagter koop. En daai boeke wat jy nie meer wil hê nie, kan jy hier los - die padstal verkoop dit en skenk die geld aan die ouetehuis op die dorp.
Maar wat die N6-padstal regtig 'n plek so na my hart maak, is dat hier altyd iemand is wat pannekoek bak.
Waar? Reg langs die N6 (Van Riebeeckstraat) wat deur Reddersburg loop.
Oop Elke dag van 7.30 vm. tot 5.30 nm. (gesluit op Kersdag en Goeie Vrydag).
Kontak 071 518 3834; N6 Padstal op Facebook.
- Willem van der Berg
DiamondT-koffie-engeskenkwinkel, Askham

Moenie dink hier's net duine, dorpers en droë bossies op die R360 tussen Upington en die Kgalagadi-oorgrenspark nie - klop aan DiamondT se vrolike rooi deur in Askham se hoofstraat vir regte Kalahari-gasvryheid en iets lekkers om te eet (leidraad: Dis melktert!).
Geniet die lafenis van die koel broekieskantstoep en kyk hoe 'n fontein in die tuin spuit, of sit op die agterstoep wat uitkyk oor die droë loop van die Kurumanrivier terwyl die kinders op die klimraam speel.
DiamondT maak hulle melktert volgens 'n familieresep van Cilla, maar met 'n moderne kinkel: Dis 'n yskastert wat voorgesit word met 'n lekker krummelkors en 'n kaneelstokkie (R38 per porsie).
Die winkel se rakke kreun onder tuisgemaakte lekkernye en hier is allerlei konfyte, blatjang en ingelegde olywe te koop. En jy kan nie die Kalahari besoek en nie vleis eet nie: Koop 'n springbok-, lam- of beespastei (R30 bevrore; R38 warm). Dié pasteie het al by die !Naba-voedsel-en-wynfees pryse gewen!
Loer by die badkamer in vir badsout, gemaak van sout wat in die streek ontgin word (R40 vir drie skeppies), koop geskenke vir jou mense by die huis (hier is 'n lappop met jou susterskind se naam op) of besoek die inligtingsentrum op die perseel vir nog doendinge in die gebied.
Waar? Askham is sowat 180 km noord van Upington op die R360. Diamond T is in die hoofstraat.
Oop Maandag tot Vrydag: 8 vm.-5 nm. Saterdag: 8 vm.-12 nm. Gesluit op Sondae.
Kontak 054 511 0025 of soek na DiamondT Coffee Shop op Facebook.
- Martinette Louw
Kambro-padstal, N12
Die N12 is 'n lekker alternatiewe roete tussen Gauteng en die Wes-Kaap. Die pad is mooi en jy gaan baie minder verkeer kry as op die N1. Maar hier is natuurlik ook minder aftrek- en eetplekke.
Op die oop Karoovlakte tussen Strydenburg en Britstown wag die Kambro-padstal egter soos 'n oase.
Groot bome gooi donker skaduwees oor groen gras waar jy 'n bietjie op jou rug kan gaan lê of een van Kambro se pasteie kan eet. Kies tussen lam, springbok of hoender. Maar bestel sommer die Kambro Special en kry klaar: 'n pastei, skyfies én slaai vir R60.
In die padstal se lugverkoelde restaurant is 'n groot verskeidenheid op die spyskaart met goeie Karootreffers soos kaiings op brood (R45 vir 100 g), skaaptjops (R90) en gemmerbier (R18). En wanneer laas het jy 'n float met Coke of Creme Soda (R24) gedrink? As jy joumelktert sonder 'n dik kors verkies, ry Kambro toe.
Hier kry jy hom met die dunste van dun korsies wat sorg dat jou aandag nie van die vulsel afgetrek word nie (R15 vir ‘n sny). 'n Koue bier of wyntjie is ook beskikbaar en 'n nuwe toevoeging tot die padstal is die lapa met sy groot braaiplek.
In die padstal self is hordes selfgemaakte produkte. Soos turksvystroop, kersies-op-witblits, kweperjellie, al wat 'n soort konfyt is, suikerlollies, ingelegde vrugte, kinderspeelgoed en klere. Onthou, jy kan ook by Kambro oorslaap. Hier is selfsorghuisies en kampplek. Maar die heel lekkerste verrassing is die yslike swemdam met sy vars, koel boorgatwater. As jy in die somer hier verbykom, gaan 'n vinnige dip die pad sommer baie korter maak!

Waar? Reg langs die N12, 20 km noord van Britstown.
Oop Daagliks van 7 vm.-5 nm. (gesluit op Kersdag).
Kontak 053 672 0408; kambroaccom.co.za
- Willem van der Berg













