Reis

Kry jou seebene in Turkye

’n Stil oggend in Camli Koyu-baai. Vat ’n vroegoggendswem, geniet ontbyt op die dek en verken die baai.
’n Stil oggend in Camli Koyu-baai. Vat ’n vroegoggendswem, geniet ontbyt op die dek en verken die baai.

Het jy al ooit gewens jy kan teen 'n mooi kuslyn seil en weggesteekte baaitjies, dorpe en strande aandoen, maar gewonder wie die seilwerk gaan doen? En jy het seker al iewers gelees hoe duur dit is om een van daai blink jagte te huur wat op die Middellandse See gly…

Hou moed. Jy kan 'n wonderlike vakansie saam met vriende en familie hê en langs Turkye se Turkooiskus seil teen sowat R10 000 per persoon vir 'n volle week. Dit sluit in die huur van jou gulet ('n tradisionele Turkse seilboot), die diens van 'n kaptein, matroos en 'n persoonlike kok. Hulle sorg vir alles en jy kry drie lekker Turkse maaltye per dag. Kry nou 'n gehuurde jag wat hiermee kan meeding en ek eet 'n bolseil op! Ons was al drie keer op 'n gulet-vakansie in Turkye. Kom ek verduidelik hoekom dit een van die beste vakansies is wat jy kan hê.

Wat om te verwag

'n Gulet is 'n ruim houtboot wat tradisioneel aan die suidwestelike kus van Turkye gebou word. Die gemiddelde lengte strek van sowat 18 m tot 26 m (yslik groot in seiljagterme) en dit het gewoonlik 4 tot 8 kajuite. Die kajuite is groot, elkeen met 'n en suite-badkamer.

'n Gulet is nie so beknop soos 'n gewone eenrompseiljag nie. Dit het houtdekke voor en agter waar jy kan sonbaai, en matrasse onder 'n afdakkie op die kajuitdak - ideaal vir dut of boeklees. Maaltye word bedien by 'n tafel met sitplek vir tien mense.

Die lekker van 'n gulet-vakansie is dat jy 'n groot deel van die kuslyn in 'n kort tyd kan sien. Pleks daarvan om jou op land te baseer en per motor van een punt af te verken kan jy ontspan terwyl die kaptein jou van plek tot plek vat.

'n Stil oggend in Camli Koyu-baai.
'n Stil oggend in Camli Koyu-baai.

Dis 'n taai lewe aan boord van 'n gulet: Op 'n tipiese dag word jy wakker in 'n mooi baaitjie met net een of twee ander bote vir geselskap.

'n Snorkelduik- of swemsessie in die warm water is verpligtend voor ontbyt, waarna die bemanning die anker lig en jy 'n leeskolletjie kies. Julle vaar 'n uur of twee tot by die volgende bestemming, wat nog 'n baai, strand, eiland of dorpie kan wees. Jy sien wat daar te siene is, swem weer, eet middagete en kies koers na die volgende bestemming.

Party aande meer julle vas in 'n dorpie se hawe, ander kere in afgesonderde inhamme. Die meeste aande ontpop in 'n aandetepartytjie, met die sjef wat nog 'n lekker ete onder die sterre bedien terwyl jy aan jou wyn teug en luister hoe die see teen die boot klots. Dié soort vakansie is 'n gawe manier om 'n bietjie son te vang, in helder water te swem, baie te lees, baie te gesels en saans partytjie te hou. (En langs die pad van Turkye se hoogtepunte te siene te kry…)

Op 'n tipiese dag word jy wakker in 'n mooi baaitjie met net een of twee ander bote vir geselskap.

Kry 'n groep bymekaar, of bespreek 'n kajuit

Gulet-vakansies is gewild in Turkye. Daar is baie agente, maatskappye en bote om van te kies. Sedert 'n staatsgreeppoging drie jaar gelede het toerisme in die land 'n knou gekry en die meeste maatskappye is bereid om te onderhandel. Doen jou navorsing en soek vir die beste aanbod. Daar is twee maniere om 'n gulet-reis te bespreek. Die eerste opsie is om 'n groep vriende of familie bymekaar te kry en die boot vir julle te huur. Die seilseisoen loop van Mei (effe koel) tot middel Oktober. Die spitsseisoen (duurder) is in Julie en Augustus. Ons dink die weer is wonderlik vroeg in September.

Besprekings werk gewoonlik op 'n weeklikse basis, van Saterdag tot Saterdag. As jy die hele boot huur, kan jy soek vir 'n gulet wat aan julle behoeftes voldoen wat betref grootte, koste, roete, en die kos wat julle verkies.

Jy kan ook vir jou kaptein sê wat julle voorkeur-oornagplekke en ander stilhouplekke is - solank dit redelik is en die weer dit toelaat - maar die kapteins ken die waters goed en jy kan vertrou dat hulle die beste plekke sal kies om anker te gooi.

Byvoorbeeld: Op ons mees onlangse vakansie in September 2018 het ons net meer as R10 000 per persoon betaal vir 'n 23 m-boot met die naam Kaptan Selim 2 en in Gocekbaai gevaar. Die Kaptan was gemaklik, goed in stand gehou, en onder bestuur van 'n streng kaptein met 'n droë sin vir humor, sy vrou en 'n jong matroos. Ons het mooi baaie besoek en heerlik geëet.

Nog 'n pluspunt was dat ons ons eie drankies kon koop en dit aan boord kon bring. (Ons was 'n groep joernaliste en daar het dus verskeie kiste wyn saam gereis…)

Party huurmaatskappye dring daarop aan om hulle eie drank te bedien waarvoor jy dan moet betaal. Maak vooraf seker wat die beleid is, want dít kan duur word.

'n Mens het elke dag ure lank tyd om in die koel water van die Fethiyebaai deur te bring.
'n Mens het elke dag ure lank tyd om in die koel water van die Fethiyebaai deur te bring.

Jou tweede opsie is om 'n kajuit te huur. Op ons eerste reis tien jaar gelede het ons in Mei gegaan en by 'n groep onbekende medereisigers aangesluit. Jy huur 'n kajuit en deel die gulet met ander. Dit is 'n effense waagstuk om saam met vreemdelinge te vaar, maar jy kry dieselfde ervaring goedkoper. Ons het egter gevind dat die mense wat 'n mens hier ontmoet, gewoonlik oop en avontuurlustig is. Goeie geselskap. Ons het saam met 'n groep Amerikaners gereis en goeie vriende geword.

Beplan jou vakansie

Ons het ons vorige gulet-vakansie deur ECE Yachting (eceyachting.net) bespreek. Die besprekingsagent Helen Cetin het vir ons 'n lys van tien bote gestuur waaruit ons kon kies en het ons goeie afslag gegee omdat ons tien maande vooruit bespreek het. Sy het ook ons lughawependeldiens gereël en ons gehelp om wynvoorraad in Fethiye aan te koop.

Gulet-huurvaarte volg gewoonlik vasgestelde roetes langs die Turkse kus of tussen Griekse eilande. Ná drie sulke reise en heelwat navorsing kan ons dié roetes aanbeveel: Deur Fethiye- (of Gocek-) baai, asook die roete wat die Golf van Hiaronu met die eilande Rhodos en Symi (Griekeland) kombineer.

Gocekbaai is beskut en kalm. Die baai het 12 eilande en 'n verskeidenheid inhamme waar jy kan anker gooi. Fethiye is waarskynlik waar julle reis sal begin en eindig. Dis 'n bedrywige dorp met 'n doolhof van voetganger-vriendelike strate vol winkels en 'n marina. 'n Verlate ou fort troon bo die dorp uit en daar is Liciese grafkelders in 'n nabygeleë krans.

Elke gulet is gemaklik ingerig met lêplek vir lees, soos Wicus Pretorius kan getuig.
Elke gulet is gemaklik ingerig met lêplek vir lees, soos Wicus Pretorius kan getuig.

Gemilereiland lê in die baai. Dis vandag verlate en stil, maar daar is oorblyfsels van verskeie kerke wat tussen die vierde en sesde eeu n.C. gebou is, tussen die ruïnes van 'n vroeë nedersetting. 'n Sukkelende Christengemeenskap het op die klein, rotsagtige eiland gebly en argeoloë glo dis die ligging van die oorspronklike grafkelder van Sint Nicholas, wat die gemeenskap gelei het. Daarom het die eiland die bynaam Kersvadereiland gekry.

Nog 'n lekker plek om aan te doen is Hamambaai, wat sy naam kry by 'n antieke hamam (of badhuis) waar Cleopatra en haar minnaar Mark Antony na bewering weggekruip het. Die hamam het sedertdien onder die water weggesink en 'n mens kan bo-oor snorkelduik.

Hier is ook 'n strand en goeie restaurant aan wal. 'n Langerige stap deur heuwels bedek met dennebome bring jou by die oorblyfsels van die antieke stad Lydae.

As jy besluit om 'n roete te bespreek wat Griekse eilande insluit, moet jy bereid wees om meer te betaal - die Griekse hawetariewe is duurder as Turkye s'n. Die berugte Meltemi-wind kan ook dalk dan sake moeiliker maak - dié loei oor die Egeïese See. 'n Goeie middeweg is om die Golf van Hisaronu (Turkse gebied) te doen en die Griekse eilande Rhodos en Symi in te sluit.

Bozburun is 'n Turkse dorpie in die Golf - van hier af kan jy Knidos, 'n belangrike argeologiese terrein, besoek.

Rhodos se manjifieke hawe is ryk aan geskiedenis en word oorheers deur die yslike klipkasteel wat die Kruistogridders hier gebou het. Die ou dorp is 'n rooster van klipstraatjies. Die eilandjie Symi is 'n eg Griekse eiland, met 'n klein U-vormige hawe onder pastelkleurige huise wat aan die wande van die omliggende heuwels vasklou.

Foto: Adelle Horler
Foto: Adelle Horler

Ek sou aanbeveel dat jy ook minstens vier of vyf dae in Istanbul deurbring. Dis 'n wonderlike stad. Airbnb-woonstelle is beskikbaar teen 'n bietjie meer as R1 000 per dag, in buurte met 'n goeie ligging, soos Karakoy en Beyoglu.

Baie reisigers las ook 'n besoek aan Kappadosië aan, 'n halfwoestyngebied in Sentraal-Turkye, vol asembenemende landskappe en historiese wonders. 'n Warmlug-ballonvaart oor Kappadosië is iets wat jy nooit sal vergeet nie.

In kort: Turkye is wonderlik, toeganklik en verbasend bekostigbaar. Dis beslis 'n bestemming wat op jou lysie hoort.

Vertel ons van jou avontuur!

Was jy op 'n vakansie wat jy dink ander Weg-lesers ook sal geniet? Skryf oor die ervaring en ons publiseer dalk jou storie. Hou dit asseblief kort (maksimum 1 500 woorde) en stuur 'n paar voorbeeldfoto's.

As ons wel besluit om die storie te gebruik, gaan ons oorspronklike hoëresolusie-foto's nodig hê; maak dus seker jou kamera is op die regte verstelling.

Stuur jou storie na redakteur@weg.co.za. Ons behou die reg voor om jou foto's elders in die tydskrif, op ons webblad of in bemarkingsmateriaal te gebruik. Lees die bepalings en voorwaardes by weg.co.za

Sybrand Mostert

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM