Das Badenhorst is 'n oud-Lambertsbaaier wat in Worcester woon, maar tans blom- en avontuurtoere deur Rolbos-toere in Lambertsbaai aanbied.
Verlede jaar was sy vanaf middel Augustus tot 10 September in dié kusdorp om blomme te kyk. Sy reken die beste blomme wat sy gesien het, was by Malkopbaai. "Hier het die skilpadbosse verskriklik mooi geblom en die surings was ongelooflik!"
Sy sê soos jy uitry na Muisbosskerm se kant toe, veral by Steenbokfontein, was daar die mooiste plate persvygies. "Dit was absoluut mooi. Jy hoef nie eens uit jou kar te geklim het om dit af te neem nie. Naby Elandsbaai was ook baie mooi blomme gewees. En langs die pad van Lambertsbaai na Graafwater, was daar ook volop blomme. Daar was heelwat wit-sôe-blomme en net voor ons Clanwilliam ingery het, was daar baie perdebosse."





















