Kan jy glo dit is alweer tyd om jou blommetoer te beplan? En as jy 'n kranige blomkyker is, wag daar vanjaar 'n ware skouspel, sê die kenners.
Die Swartland, die Weskus-skiereiland, die Bergrivier, die Cederberg en die Namaqua-Weskus is die Kaap se vyf blomstreke. Uit al die streke kry ons vanjaar dieselfde boodskap: Daar het heelwat reën geval, en dit gaan dus dalk 'n langer blomtyd wees.
Jacqulene Melenephy, die toerismebemarkingsbeampte van die Weskus-distriksmunisipaliteit, sê die hele streek het vanjaar goeie reën ontvang, veral gedurende Mei en Junie.
"Dit is baie positief vir die blommeseisoen, want reënval speel 'n sleutelrol in die ontkieming van die sade en die intensiteit van die blomgroei. Ons verwag dus 'n sterk en kleurryke seisoen met goeie blomverspreiding, selfs in areas waar dit laasjaar maar yl geblom het."

Eonie van Schalkwyk, die wynroete-beampte en sosiale mediabestuurder van Namaqua-Weskus Toerisme, en Salome Willemse van Botuin Cottages in Vanrhynsdorp, sê hoewel die Namaqua-Weskus-streek laat reën ontvang het, was dit wel goeie reën en het die blomme al vroeg uitgekom.
"Hopelik is daar nog opvolgreën en geskikte weersomstandighede, maar ons kan 'n lang blomseisoen verwag."
Selfs in Velddrif, wat deel van die Bergrivier-streek is en eintlik 'n droë gebied is, meen Elsje van der Linde die goeie reën beteken hulle kan 'n goeie blomseisoen hê. Sy sê die duur van die seisoen hang af van die weersomstandighede.
Die blomseisoen begin gewoonlik laat in Julie en duur tot vroeg Oktober, met die blomtyd wat in Augustus en September sy hoogtepunt bereik.
Darling is deel van die Swarland-streek. Deon van Eeden, voorsitter van die Darling-veldblomskou, sê hulle het tot dusver goeie reënval gehad, met 89 mm net in Juliemaand. Dit is baie voordelig vir bolplante en jaarplante. "Ons verwag 'n baie mooi seisoen met 'n magdom kleur in van ons gebiede, waar die vroeë blomme reeds uitstaan."
Attie Kleynhans, koördineerder van die Darling-veldblomskou, beaam dat die veldblomme reeds baie mooi is. Hy glo hulle gaan weer 'n blommefees beleef. "Vanjaar se reënval was wel laer as die gemiddeld, maar omdat ons verlede jaar baie winterreën ontvang het, is die grond steeds versadig en dis presies wat ons veldblomme wil hê.
"Tans kry ons bykans elke week 'n bietjie reën, wat verdere ontkieming aanhelp en veroorsaak dat ons reeds aangrypende tonele in ons reservate in en om Darling sien."
In die Cederberg-streek laat weet Alicia Erasmus van die Clanwilliam-veldblomvereniging dat daar genoeg reën in hierdie streek geval het en dit lyk of die blomme vanjaar vroeg begin blom. "Die Biedouwvallei staan reeds mooi in die blom en die oop erwe in Clanwilliam is oortrek van die madeliefies. Die perdebosse en skilpadbessiebosse blom gewoonlik eerste en hulle doen hul naam gestand hierdie jaar."

Dit blyk dus dat die blomme vanjaar lekker vroeg is.
Eonie en Salome beaam dat die blomme ook reeds begin blom het in die Namaqua-Weskus. Die eerstes is op 13 Julie gewaar. "Daar is 'n groot verskeidenheid spesies. Van die vygies, asook Namakwa-madeliefies is reeds uit. So ook pietsnotte. Die meeste blomme in ons streek is die Namakwa-madeliefies."
Jacqulene voorspel dat die eerste tekens van blomme reeds daar is, en dat die hoogtepunt in Augustus en vroeë September sal wees. "Die Weskus-skiereiland-streek is ryk aan 'n verskeidenheid spesies. Die bekendstes sluit in Namakwalandse madeliefies, geel gousblomme, bobbejaantjies, vygies en verskeie soorte sporieblomme."
Elsje voorspel dat die eenjarige veldblomme in die Bergrivier-streek nou gaan begin blom.
"Onder die soort blomme wat in dié streek voorkom, is wit, geel, en oranje gousblomme, wilde kamille, geelsurings, skilpadbessie en duinebessie, strandsalie, viooltjies en kandelaar, asook hanekam, wat in die seesand tussen Velddrif en Dwarskersbos groei."
Soos Attie al genoem het, is daar in die Darling-omgewing heelwat veldblomme te sien, maar die hoogtepunt van hul blomseisoen strek van Augustus tot einde September, hoewel Oktober gereeld verrassings oplewer.
Deon voeg by dat hul streek 'n lang seisoen vanaf Julie tot Oktober het, met heelwat struike wat later in die somer steeds blom. "Darling is bekend vir Renosterveld, met ons vleilande wat talle eiesoortige plante het, waaronder vygies, gladiolus, madeliefies, snotrosies, kalkoentjies, kelkiewyn, skilpadbos, froetang en kapokbos, om maar 'n handjievol te noem."
In die Weskus-skiereiland, sê Jacqulene, word die beste blomme gewoonlik gesien in omgewings soos die Ramskop-natuurreservaat in Clanwilliam, die Posberg-afdeling van die Weskus Nasionale Park, en natuurlik die Blommekloof-roetes naby Nieuwoudtville. "Ook plaaspaaie rondom Vanrhynsdorp en Lambertsbaai is gewild vir voetslaan- en selfry-toere."
Alicia meen blomme kan gesien word op oop erwe in Clanwilliam, in die Ramskop-natuurtuin, by die Clanwilliam-veldblomskou en in die Biedouw-vallei. "As die reën reg geval het, is die hele Olifantsriviervallei eintlik baie mooi."
Elsje sê as jy beplan om blomme in die Bergrivier-, Weskus-skiereiland- en binneland te kyk, kan jy blomme sien op onbeboude erwe, sypaadjies, die gholfbaan, tussen Velddrif en Dwarskersbos, op die Hopefieldpad tussen Velddrif en Hopefield, asook Kruispad-plaas op pad Piketberg toe. "Daar is oral blomme langs die hoofpaaie, maar ons beveel nie aan dat jy aftrek langs paaie waar daar nie 'n aftrekplek is nie."

Besoekers aan die Darling-omgewing sal pragtige veldblomme in al hul reservate sien, sê Attie.
"Die Groenekloof-reservaat het die voordeel dat dit verlede jaar gebrand het en nou is die blomme baie meer sigbaar.
"Besoekers kan die Darling-veldblomskou se webtuiste besoek vir meer inligting en die ligging van ons reservate."
Deon sê die reservate in die Darling-omgewing sluit in die Renosterveld-reservaat, die Groenekloof-reservaat, Waylands, Groote Post, die R27 Rondeberg-reservaat, die Tienie Versfeld-reservaat en Duckit Nurseries Wildflower Reserve.
Vanjaar gaan die blomme letterlik oral mooi wees, want dit het wyd gereën, meen Eonie en Salome. In die Namaqua-Weskus-streek is die Vanrhynsdorp-omgewing jou beste keuse.
"Verken die grondpaaie en roetes van Urionskraal en die Maskam-gasteplaas. Maar wees ook bereid om die omgewing te verken van Strandfontein na Nieuwoudtville, en die N7 noord na Bitterfontein en Garies.
"Beplan jou toer vooruit, en kyk na die weer - dit moet 'n sonskyndag wees vir die blomme om mooi oop te maak. Skakel gerus die plaaslike toerismekantore vir opgedateerde inligting."




















