Ricky en Micaela lo Russo van Johannesburg het 'n paar foto's in die Kruger Wildtuin aan Weg gestuur waar 'n trop leeus in 'n boom klim. Maar het julle geweet leeus in bome is nie so 'n algemene verskynsel nie?
"Op 'n onlangse besoek aan die Kruger het ons afgekom op 'n luiperd wat 'n prooi in 'n boom hou. Ons het hom 'n uur lank dopgehou toe ons in die truspieëltjie 'n paar leeus in die pad sien. 'n Rukkie later het die leeus in die rigting van die boom begin stap en toe een vir een die boom begin klim terwyl die luiperd nog in die boom sit. Nadat hulle wat ook al oor van die prooi was gevreet het, het die leeus met 'n gesukkel afgeklouter."
Die wildlewekenner L.D. VAN ESSEN antwoord: Boomklim is nie algemene gedrag vir leeus nie behalwe vir die twee bekende troppe in Afrika, in die Ishasha-deel van die Queen Elizabeth- nasionale park in Uganda en die Manyara-meer- nasionale park in Tanzanië. Die rede vir die gedrag is onseker, maar kenners meen dis om weg te kom van insekte of dat dit koeler is bo in die bome.
In die Kruger en ander parke is die rede gewoonlik bedreiging of kos, soos hier. Die opklim is nie veel van 'n uitdaging, maar die afklim is, uhm, minder elegant.
Daar is al heelwat gevalle aangeteken van leeus wat bome klim wanneer hulle bedreig word deur 'n trop buffels. Daar was so 'n geval in Kenia in 2015, Google dit gerus.













