Dié natuurreservaat is seker een van die mees diverse en kosbare botaniese juwele in die land. Dis ook 'n paradys vir die avontuurlustiges, skryf Jacques Marais.
Die teerpad wat doer verby Somerset-Wes en Gordonsbaai slangdraaie gooi, word as een van die planeet se asemrowendste roetes beskou. Dis geen wonder nie, want Valsbaai en omstreke is 'n beeldskone plek.
Diegene wat al deur hierdie stukkie hemel gery het, sal weet dis is poskaartmooi, amper soos 'n stukkie van Kroasië, met wegsteekbaaitjies, ruwe rotspunte en die groot blou wat skitter - al die pad Antarktika toe.
Panoramas wag om elke hoek en draai en 'n mens kan nie anders nie as om stil te hou vir kiekies by plekke soos die Steenbrasrivier, Kogelbaai en Dappat se Gat. Laasgenoemde is alombekend vir sy golwe, en van bo teen die pad kan 'n mens die branderplankryers dophou terwyl die donker skaduwees van haaie die water reg onder hulle patrolleer.
Die R44 is een van die Kaap se gunsteling-koffie-ry-roetes. Daar is relatief min verkeer, veral op weeksdae, en jy is relatief beskut teen die suidooster.
Klein dorpies soos Rooiels, Bettysbaai en Kleinmond het puik deli's, bakkerye en koffiewinkels sommer teenaan die pad waar jy oor 'n stomende koppie boeretroos kan luier.
Een van my gunstelingbestemmings in die gebied is die Harold Porter Nasionale Botaniese Tuin. Uitstekende staproetes sweepslag teen die berghange uit, met tuimelende watervalle, melkhout-woude en proteas so ver as wat die oog kan sien. Dis 'n lushof vir stappers en voëlkykers.
'n Bietjie verder aan wag die Kogelberg-natuurreservaat. Hierdie bestemming, wat deur CapeNature bestuur word, word deur National Geographic gelys as een van die plekke in die wêreld met die grootste biodiversiteit.
Daar is puik verblyf in luukse eko-hutte en 'n mens kan fietsry, draf en stap of aan van die ander avonture in die omgewing deelneem, waaronder witwaterroei, snorkel of kreefduik. Of jy kan sommer net sit en kyk hoe die son agter die ruwe pieke verdwyn.
Besoek www.capenature.co.za vir nog inligting oor die reservaat en www.gravity.co.za vir inligting oor avontuursport in die gebied.
- Marais is 'n avontuurskrywer en bekroonde fotograaf van Kaapstad.
Padlangs
Volg die N2 ooswaarts vanaf Kaapstad. Draai net na Somerset-Wes links met die R44 langs en volg die manjifieke kuspad tot net voor Kleinmond. Die ingang na die natuurreservaat is net voor die brug oor die Palmietrivier. As jy die gebied in die winter besoek, verwag koue dae met reën en yskoue nagte met sneeu op die hoë pieke. (Pak maar 'n goeie bottel rooiwyn of twee in!) Gedurende somermaande is dit warm, droog en soms winderig, maar die seebries hou sake redelik koel.
Kogelberg-omgewing gaan jou asem wegslaan. Hier is my drie foto's:

Wit, wilde water
Die Palmietrivier het 'n paar uitstekende stukke vir witwaterroei en fotograwe kan hulle lekker naby aan die aksie posisioneer. Maak jou lens 'n ekstra stop oop om genoeg detail op die roeier te kry, want die sproei van die water beteken jy sit met heelwat kontras. Jy wil ook teen minstens 1/1000 sek. skiet om die aksie en druppels in die oomblik te vries.
Fotodata:
- Kamera: Nikon D800
- Sluiterspoed: 1/2 500 sek.
- Lensopening: f5.6
- ISO: 200
- Lens: 200 mm

Palmiet per fiets
Die Palmietvallei in die Kogelberg-natuurreservaat het 'n bergfietsroete van formaat. Hier kan jy ure lank trap sonder om 'n ander siel raak te loop terwyl jy deur die dramatiese landskap omring word. Indien jy foto's van goeie gehalte wil neem sonder om te swaar te dra, is 'n goeie waterdigte mik-en-druk-aksiekamera net die ding om te pak.
Fotodata:
- Kamera: Insta360 Ace Pro
- Sluiterspoed: 1/950 sek.
- Lensopening: f2.6
- ISO: 160
- Lens: 16 mm

Vryer as die windjie
Kleinmond se wilde perde is onbeskryflik. Huur 'n kano net bokant die dorpie se hoofstrand en gaan verken die idilliese strandmeer. Vroegoggend of laatmiddag is verreweg die beste tyd (met die beste lig) om die perde raak te loop.
Die ou gesegde, dat die beste kamera die een is wat jy by jou het, was in dié geval ook waar. My Sony Xperia-selfoon se sensor en lens is gelukkig van redelike goeie gehalte. Ek kon tot reg teen die perde roei waar hulle in die vlak water gewei het en het vinnig 'n paar foto's met die foon gekliek. Die wye lens en lae hoek het beteken ek kon die perde en my boot vasvang.
Fotodata:
- Kamera: Sony Xperia Premium
- Sluiterspoed: 1/150 sek.
- Lensopening: f2.6
- ISO: 100
- Lens: 18 mm




















