Reis

Leser vertel: Afrika se oudste veerboot

Sou jy op 'n boot klim wat meer as 100 jaar oud is én vir agt jaar in 'n watergraf gelê het? Tanzanië se MV Liemba-veerboot is in 1913 in Duitsland gebou as 'n oorlogskip (toe genaamd die Graf Götzen), en stuk-stuk per boot tot by Dar es Salaam en toe per trein vervoer tot by die Tanganjikameer.

Dit was tydens die Eerste Wêreldoorlog en die Britte was glad nie beindruk met dié Duitse boot op die meer nie en stuur toe ook twee bote (Mimi en Toutou) soontoe, via Suid-Afrika. Ná verskeie skermutselings het die Duitsers besluit om in 1916 hulle boot self te sink.

Agt jaar later is die Graf Götzen weer na die oppervlak gebring en hernoem na die MV Liemba. Deesdae vervoer sy mense en goedere al langs die Tanganjikameer.

Barend la Grange van Roodepoort en sy swaer Cobus Rossouw het in Julie 2013 vir twee dae op die geskiedkundige veerboot gevaar - van die dorpie Kasanga tot by Kigoma. Die veerboot het daai jaar 100 jaar oud geword!

Hulle moes eenvoudig dié ervaring deel en het vanjaar weer soontoe gereis saam met vriende, met openbare vervoer nogal.

Toe hulle op die dorpie Mpulungu aankom, waar die veerboot, nou al 104 jaar oud, gewoonlik vertrek, hoor hulle dit kom eers oor 'n week. Hulle reis toe padlangs tot by Kigoma, maar tref vooraf per telefoon reëlings met die kaptein dat hulle daar sal opklim.

Op Kigoma kom haal kaptein Titus Mnyanyi hulle by die taxi-staanplek, en nooi hulle om vir die twee dae wat die veerboot nog in die hawe lê daarop oor te bly. Hier is net 10 kajuite en elkeen kry sy eie kajuit. Dis die eerste keer dat slegs een groep die hele veerboot vir hulleself het.

Die sekerheid in die hawe is streng - hulle word selfs deur 'n beampte van die immigrasiedepartement besoek.

Die MV Liemba is die oudste vrag- en passasierskip in die wêreld wat steeds operasioneel is. Afrika se ou dame word tans opgeknap, maar skryf solank dié lewende museum op jou wenslysie.

Ek wil ook gaan

'n Eersteklaskaartjie van suid na noord (Mpulungu in Zambië tot Kigoma in Tanzanië) kos sowat R1 350 p.p. in 'n eersteklaskajuit met slaapplek vir twee mense. Die rit duur twee dae (as alles volgens plan verloop). Heerlike etes word bedien teen sowat R60 p.p.

Kontak Die beste persoon om die kontak is kaptein Titus Mnyanyi op 00255 752 504 177. Hy is al baie jare die kaptein en sal weet of die MV Liemba operasioneel is - die ander bronne is nie te betroubaar nie. Anders kan jy ook dié kontakbesonderhede probeer: Anthony Stephen by astem33@gmail.com en www.mscl.go.tz

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM