Faan het al byna die hele Suider-Afrika platgereis, maar hy't veral 'n sagte plekke vir Namibië se duine. Hierdie verhaal oor sy Patrol het in Mei 2017 in WegRy verskyn.
Waarheen reis jy graag? En wat is jou volgende bestemming?
Die Patrol was al by 'n menigte plekke in Suid-Afrika, Mosambiek, Lesotho en Botwana, maar my gunsteling-bestemming is Namibië. Ek het die Namib-woestyn al 16 keer aangepak en al 11 keer van Lüderitz tot in Walvisbaai gery. Ons het ook al verder gery tot by Kunenemond.
Hoekom het jy 'n Nissan Patrol bo 'n ander handelsmerk gekies?
Die Patrol is na my mening die mees onderskatte voertuig in sy klas. Ek kan net aflei dat daar verkeerdelik 'n stigma van "swaar op petrol" aan die Patrol kleef. Dit is natuurlik nie waar nie. Sy petrolverbruik is baie naby aan, indien nie dieselfde nie, as verskeie ander fabrikate in sy klas.
Wat die Patrol besonders maak, is die feit dat dit 'n ontsettende sterk voertuig is. Ek het hom al tot die uiterste beproef en dinge gedoen wat ander voertuie nie sou oorleef as 'n mens dit met hulle waag nie. So het ek al 'n paar duinspronge met die voertuig gedoen.

Het jy al soortgelyke gemodifiseerde 4x4's besit?
Ek het 'n hele paar 4x4's van verskeie fabrikate gery, totdat ek in 2004 Nissan Patrols ontdek het.
Wanneer het jy die Patrol gekoop, en vir hoeveel?
Hierdie Patrol is een van drie 4.8 GRX'e wat ek oor die jare gery het. Die eerste twee was splinternuut en die laaste een het ek 'n aantal jaar gelede aangeskaf. Dit is 'n 2011-model en het slegs 50 000 km op die klok gehad toe ek hom vir R440 000 gekoop het.
Hoe lank het dit gevat om die ombouings op die Patrol te doen?
Die meeste van die ombouings is van die een Patrol net so op die volgende een oorgebou en het oor 'n hele paar jaar gestrek.
Hierdie een is egter die enigste een wat 'n drukaanjaer (supercharger) bygekry het.
Wat is jou gunsteling-ding op jou voertuig?
Dis moeilik om te sê, maar as ek moet kies, sal dit die Hannibal Impi-daktent wees. Dit is 'n absolute plesier om die twee knippe los te maak, die dak op te stoot en daar is jou bed klaar opgemaak en reg vir die aand. Dit werk veral goed in die woestyn wanneer die wind waai.

Wat is uniek op jou voertuig?
Dié Patrol het 'n paar unieke dinge wat jy nie sommer by ander soortgelyke voertuie sal vind nie. Ek het 'n uitlaatstelsel ontwerp wat in vier pype uit die agterste buffer uitsteek. Die motivering was nie net kosmeties nie - dit verhoed dat die uitlaatpyp in die sand druk as jy vinnig teen 'n duin agteruit moet ry.
Verder is daar 'n dubbele lugtoeterstelsel op die dak met 'n ingeboude luidsprekerstelsel onder die voorste modderskerms. In die woestyn kommunikeer toerlede met mekaar deur middel van ingeboude tweerigtingradio's.
Wanneer die mense egter hulle voertuie verlaat en die voertuie staan wydverspreid, kom die toeters en luidspreker goed te pas om aandag te trek en te kommunikeer terwyl almal weg is van hulle radio's. Ek vind dit ook veral bruikbaar om my kinders te roep wanneer hulle tussen die duine verdwyn.
Die twee hoë-definisie- onafhanklike grootskerm-DVD-spelers teen die agterkant van die voorste sitplekke vir die einste kroos was ook 'n wyse besluit.
Watter advies het jy vir iemand wat ook sy voertuig wil opbou?
My raad is: Hou dinge funksioneel. As jy hoofsaaklik moeilike terrein met baie hindernisse aanpak, berei jou voertuig spesifiek daarvoor voor. Dit sal byvoorbeeld 'n verkwisting van geld wees om 'n drukaanjaer of turbo-aanjaer vir normale ekspedisiereise te installeer. Die meeste voertuie is sterk genoeg daarvoor.
Omdat ek meestal sand ry en hoë duine aanvat, kom die ekstra krag van die drukaanjaer goed te pas. Aan die ander kant is duur ekstras, soos 'n staalbuffer met 'n wenas, nie noodsaaklik in die woestyn nie. Verder sal ek ook aanbeveel om nie jou voertuig só in te rig dat jy veelsydigheid heeltemal inboet nie.
Hierdie artikel het oorspronklik in Wegry # 93 (Mei 2017) verskyn. Ons probeer nuwe inligting bywerk, maar feite en geite kon intussen verander het - laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy so iets raaksien.












