Reis

Lesers vertel: Op toer met my hond

rhdr
rhdr

Yair Schkolne

Konsultant, Gqeberha

Instagram @yaya_goes_places

Ek was voorheen 'n aktuaris in Kaapstad, maar deesdae werk ek en my vrou, Debbie, albei van die huis af as konsultante sodat ons gesin 'n meer buigsame leefstyl kan hê.

Ons wou ons dogtertjies graag beter aan die Xhosa-kultuur blootstel sodat hulle ook isiXhosa kon leer praat.

Ons het in 2021 vir 'n jaar Oos-Kaap toe getrek en op Hamburg gaan woon.

Dis 'n afgeleë plattelandse kusdorpie suid van Oos-Londen. (Ons het sedertdien 'n entjie teen die kus afgeskuif na Gqeberha.)

Van ons huis op Hamburg het 'n mens 'n onbelemmerde uitsig oor die Keiskammarivier. Die natuur is omtrent op ons drumpel met koeie, bokke, skape en donkies wat los in die heuwels loop.

Dit is 'n eiesoortige ervaring om hier te woon met die geknars van seeskulpies onder jou voete, die seesand wat jou enkels piets en die wind wat in jou ore fluit.

Dit was 'n idilliese blyplek vir ons twee poolhonde, Phoebe en Cooper (hooffoto). Ongelukkig moes ons Phoebe laasjaar in September groet.

Ek en Debbie het albei met honde grootgeword en het dié twee agt jaar gelede gekry. Die honde was groot vriende en deel van ons gesin.

Saam het Cooper se kalm, stil persoonlikheid en Phoebe se wilde energie en guitige gewoontes - sy was pal aan die "praat"! - 'n goeie balans gevorm.

Albei was spelerig, liefdevol en gaande oor die buitelewe. En móói! Verbygangers was altyd vol komplimente wanneer ons met die honde stap.

Dit is noodsaaklik dat poolhonde gereeld oefening kry en ons daaglikse stappies het ons geleer om teen 'n ander tempo deur ons omgewing te beweeg en dit te waardeer.

Ek het die honde bykans elke oggend vir 'n draffie na die riviermonding toe en terug geneem.

Dan sou hulle mekaar deur die vlak water jaag en 'n halfhartige poging aanwend om reiers te vang.

Op koeler dae het ons deur die duine gaan stap en daar sou hulle keer op keer skielik vooruitsnel en vir 'n rukkie helemal verdwyn - tipies poolhond!

Wanneer die honde gelukkig was, was ons ook gelukkig.

Dit was ongelooflik om te sien hoe tevrede hulle in dié nuwe omgewing is - die twee sou die beeste sit en dophou, vir die hadidas blaf, in die groot tuin ronddraf en buite onder die sterre slaap.

Phoebe se dood was 'n groot skok. Haar lewe was 'n grootse avontuur, altyd vol opwinding.

Die heuwels het skielik leeg gevoel sonder haar, maar dis vertroostend om te weet dat sy haar laaste jaar in só 'n ongelooflike tuiste kon deurbring.

Waldo & Vanessa Swiegelaar

Grafiese ontwerper en tegniese bestuurder, Stellenberg

Instagram @roadtonowheresa en @bella.the.dane

Ek het Bella, 'n Deense hond, twee jaar gelede vir my vrou, Vanessa, as verjaardaggeskenk gegee. Sy is nou 18 maande oud en weeg reeds meer as 50kg!

Deense honde lyk dalk intimiderend, maar hulle is inderwaarheid baie vriendelik.

Sy's mal daaroor om saam in die kar rond te ry.

Dit het begin toe sy nog 'n baba was en ons haar in Gqeberha gaan haal het. Die pad terug Kaapstad toe was lank, maar sy het geen probleme gehad of naar geword nie en bykans al die pad na haar nuwe huis gelê en slaap.

Wanneer sy deesdae die Jeep se sleutels hoor klingel, is daar chaos!

Maar sodra die wiele rol, kom sy tot bedaring en lê dan rustig by die venster en uitstaar.

Die Jeep is nie danig groot nie; sy beset die hele agtersitplek!

Al ons toerusting én die kampyskassie moet maar in die bagasie-ruim inpas.

Ons het haar laasjaar na die Beaverlac-kampterrein buite Porterville (https://www.beaverlac.co.za/beaverlac.co.za) geneem as 'n toetslopie om te sien hoe sy sou optree wanneer sy nie die heeltyd 'n halsband dra nie.

Bella het haar beste voetjie voorgesit en sonder probleme saamgestap na die watervalle toe hoewel haar gehoor soms "selektief" was.

Laasjaar het ons vir die somervakansie wyd getoer.

Die grootste uitdaging was om troetel-diervriendelike kampterreine op te spoor. Een van die lekkerstes was Khomeesdrif naby Riviersonderend (http://khomeesdrif.co.za/khomeesdrif.co.za).

Bella kon vryelik rondhardloop en ander honde en mense in 'n veilige omgewing leer ken.

Wanneer ons op 'n afgeleë plek kamp, moet ons altyd baie water saamneem.

Bella drink soos 'n mens. Om van eet nie eens te praat nie... op daardie somervakansie het ons 'n hele ammokis nét vol hondekos saamgery!

Ons het vir haar 'n kampbed aangeskaf.

Dit klink dalk buitensporig, maar Deense honde het baiekeer swak heupe.

Wanneer sy op 'n bed slaap, is die opstaan makliker.

As 'n mens met só 'n groot honderas wil reis, is dit noodsaaklik dat jy vooraf jou huiswerk doen.

Byvoorbeeld: Party blyplekke laat slegs 'n skoothondjie toe.

Wat ons betref, is Bella net 'n báie groot skoothond!

Ons wil meer gereeld en vir langer tye met haar te reis en dié ervarings dan op Bella se Instagram-blad dokumenteer.

Die plan is om sover ons gaan al die troeteldiervriendelike plekkewat ons teëkom te deel, want dit lyk asof honde-eienaars nogal sukkel om dié soort blyplek te vind.

Thomas & Addie Izko

Boere, Helmeringhausen, Namibië

Instagram @izkophoto

Ons woon in die suide van Namibië op 'n familieplaas, Landsberg.

Ons daaglikse pligte wissel van 'n kampterrein bestuur tot 'n jojobaplantasie, beeste en skape versorg.

Ons het tans drie honde: Kimba is 'n sewejarige kruis tussen 'n rifrug en 'n Australiese beeshond.

Sy's atleties, intelligent en lojaal en wil net wérk. Maar Kimmy (soos ons haar noem) staan ook al aftrede se kant toe en slaap deesdae meestal die dae om op haar bedjie in ons huis.

As sy egter 'n motorfiets hoor, vlieg sy op om die ding te jaag!

Kimmy is ons hondetrop se alfa en sy hou die twee reuns op hulle plek.

Chupacabra, of Chubby, is drie jaar oud en 'n mengsel van Australiese skaaphond, labrador en borderkollie.

Chubby is op 'n ander skaapplaas in die veld gebore en spruit uit 'n stam van meestal wilde skaaphonde wat voltyds by skaap in die veld woon.

Hoewel sy ouers indrukwekkende werkshonde is, verkies Chubby 'n gemakliker leefstyl. Hy's nie die slimste hond nie, maar neem sy taak as verwelkomingskomitee by die kampterrein baie ernstig op.

Ons het vir Flapjack, alias Flappy, die beagle, aangeneem nadat sy oorspronklike gesin nie genoeg tyd aan die hond kon afstaan nie. Nou is hy die baba en word vreeslik bederf!

Flappy kan lekker stout wees, maar sy humoristiese persoonlikheid sorg dat ons hom keer op keer vergewe.

Hy is vas aan sy mensma se rokspante en gaan dikwels saam met vakansie of wanneer ons kamp.

Die honde vorm 'n groot deel van ons bestaan. Só ver van die stad af is húlle ons daaglikse geselskap en vermaak.

Ons het nog nie kinders nie en dus vervul hulle ook op die oomblik dié rol!

Kimmy is van kleintyd af opgelei om met beeste te werk.

Hoewel sy nie meer voltyds in diens is nie, help dit tog om 'n hond met 'n kop vir veewerk op die plaas te hê.

Chubby het homself aangestel oor die hoenders en tarentale. Hy skaar hulle bymekaar - g'n voël mag 'n veer verkeerd sit nie!

Hy is ook 'n wakker waghond en dis gerusstellend om hom op die werf te hê.

Hier waar ons woon, is 'n mens altyd besorgd dat jou honde met giftige slange of skerpioene slaags raak.

Genadiglik het diere 'n sterk aanvoeling vir wanneer 'n vreemde kreatuur gevaarlik kan wees, en hou dan liefs op 'n afstand.

Steeds moet 'n mens maar te alle tye weet waar jou honde is om seker te maak hulle maak nie moeilikheid nie.

Dit help beslis ook om 'n ouer, ervare hond op die plaas te hê wat vir die jonges die moets en moenies van die veld kan leer.

Hein Neil

Motorbedryf, Gqeberha

Instagram @___hein___

Rossie is my kind! Sy is 'n steekhaarfoxterriër en ek het haar in 2013 gekry toe sy net sewe weke oud was.

My hond is my beste vriend. Waar sy nie welkom is nie, gaan ek ook nie.

Rossie is veral goed met kinders. Sy kan stout wees, maar haar saggeaardheid stel mense gou op hulle gemak.

'n Hond is 'n terapeut in 'n pelsjas. Rossie kan my selfs op die dae wanneer ek die slegste voel, opbeur.

Daar is min dinge so lekker as om te sien hoe sy sit en wag wanneer ek by die huis kom en dan uit blydskap blaf.

Die foto is op 'n plaas in die Steytlerville-distrik geneem.

Die eienaar is afgetree en bly in die Paarl; ek en twee vriende sien om na die eiendom.

Ons maak seker die wildsuipings het water en dus kom ek en Rossie gereeld daar.

'n Mens kan baie by 'n hond leer. Hulle staan nooit in 'n slegte bui op nie.

Sodra hulle wakker word, is hulle reg vir die dag.

Rossie motiveer my. Soms is ek nie lus om te gaan stap nie, maar ek weet sy sal dit geniet, en dan is dit altyd die moeite werd om tóg te gaan stap.

Wanneer ons veld toe gaan, stap sy omtrent 20 keer verder as ek, en waar sy snuffel of krap, gaan kyk ek, want sy sien soveel goed raak wat ek sou miskyk.

Honde se sintuie is soveel skerper as die mens s'n.

As sy skielik in 'n rigting grom, gee ek dadelik aandag, want die kans is goed daar's 'n dier naby.

Eenkeer het ek en Rossie 'n vlakvark bekruip. Die volgende oomblik hardloop die vark reg tussen ons deur - ek weet nie wie van ons drie daai dag die grootste geskrik het nie!

Ek droom daarvan om eendag my eie plaas te besit waar agt steekhaarfoxterriërs jou by die hek sal kom groet!

Hein se gunsteling- hondvriendelike plekke in en om Gqeberha

  • Ons koop gereeld peuselgoed by Bloo's Buffet (bloosbuffet.co.za).
  • Die Sacramento.1918-restaurant (vind dit op Facebook) is 'n wonderlike eetplek. Daar's 'n spesiale spyskaart vir troeteldiere en 'n staproete naby.
  • Die Grass Roof-restaurant (grassroof.co.za) is troeteldiervriendelik, ook met 'nstaproete.
  • Norm Hudlin Trails (loer op Facebook) het roetes vir fietsryers, drawwers, en honde en hulle base.
  • Nina's Real Food (ninas.co.za) op Jeffreysbaai het Rossie nog altyd met ope arms ontvang.

Juanre Bean

Boer, Kimberley

Ek boer in die Niekerkshoop-distrik en verken graag Suid-Afrika in my 1988-model Suzuki SJ413. Hoewel ek soms alleen reis, kom my meisie, Simoné de Beer, gereeld saam.

Die nuutste toevoeging tot ons reisgesin is Willow, 'n miniatuur-schnauzer wat tans nie veel hoër as 'n baksteen staan nie!

Op die foto's was sy 15 weke oud, maar het toe reeds al 'n paar keer saam met ons buite Douglas langs die Vaalrivier, of by Barkly-Wes, gaan kamp.

Sy kom ook saam plaas toe.

Ek wil haar van kleins af gewoond maak aan die ryery en om in 'n tent te slaap sodat sy vertroud is met alles wanneer ons haar later op langer reise begin saamneem.

Vir die eerste kwartier in die kar is sy gewoonlik vreeslik opgewonde en kyk heeltyd by die venster uit.

Daarna is sy rustig en gaan lê op haar kussing by Renoster, haar gunsteling-speelding, en raak dan gou aan die slaap.

Dis natuurlik tot sy skielik wakker skrik met 'n groot nood en ons dadelik moet stilhou!

Sodra ons kampgoed opgeslaan is, gaan stap ek eers met Willow deur die terrein sodat sy haar nuwe speelplek kan verken.

Hierna vermaak sy haarself.

Jy moet ekstra tyd inreken wanneer jy met 'n hond reis, want daar moet soms onverwags draai geloop word of water gedrink word.

Begin met kort trippies, en kamp by plekke waar jy die mense ken.

Jy moet ook beplan wat jy met jou hond gaan maak indien jy byvoorbeeld aan 'n aktiwiteit deelneem (soos kwadfiets ry), waar hy nie kan saamkom nie.

Dis lekker om te weet dat selfs die kere dat Simoné nie kan saamkom nie, ek Willow as geselskap sal hê!

Dieter Pey

Inhoudskepper, Kaapstad

Instagram @dieterpey

Ons gesin het 'n Amerikaanse staffordshireterriër genaamd Captain. Hy's nou ongeveer vier jaar oud en het 'n klein hartjie.

Wanneer Captain by is, voel dit kompleet asof daar nog 'n mens in die geselskap is: Hy kerm as hy koudkry, gaan aan die nies van allergieë en is mal oor enige aandag.

Ek geniet dit om te bestuur.

Ek luister musiek terwyl die kilometers verbyswiep tot by 'n mooi kol waar ek kan foto's neem.

Vir sulke uitstappies is 'n hond die ideale reismaat - hy is doodtevrede solank hy 'n warm bedjie en kos het.

Ongelukkig reis ek nie so gereeld met Captain as wat ek graag wil nie.

Nie alle blyplekke laat troeteldiere toe nie, en selfs ander honde kan soms 'n probleem wees.

Captain bly op die familieplaas en het nooit geleer hoe om tussen ander troeteldiere op te tree nie.

Gelukkig geniet hy die vryheid van die plaaslewe terdeë.

Ons het hom een jaar Matroosberg toe geneem om te gaan sneeukyk en het op pad soontoe afgetrek waar daar nie baie ander mense naby was nie.

Hy het 20 minute lank aan dié vreemde wit goed gesnuffel en elke bossie verken.

Toe hy egter van die koue begin bibber, het ons hom in 'n kombersie toegedraai en die kar se verwarmer aangeskakel.

Hy het doodtevrede en stertswaaiend sit en toekyk hoe ons nog 'n rukkie in die sneeu speel.

Conor Thompson

Teenstropingsagent, Oos-Kaap

Instagram @conor_rtct

Ek werk vir Veterans Empowered To Protect African Wildlife (Vetpaw). Die meerderheid van die personeel is oudsoldate wat ná die 9/11-aanval in Irak of Afganistan diens gedoen het.

Deesdae werk ons op private reservate in Suid-Afrika om renosters teen stropers te beskerm.

Ons voorsien die plaaslike sekerheids- en teenstropingseenhede van raad en staan hulle by met die vaardighede wat ons in die weermag geleer het.

In Julie 2018 was 'n paar van ons spanlede op Musina besig om kruideniersware te koop.

'n Klein swart hondjie het in die rommel buite die winkel rondgegrawe.

Verbygangers het die hond hardhandig hanteer en die ouens het besef: dié brakkie kort 'n huis.

Hy't saam met hulle teruggekom en is sedertdien deel van die Vetpaw-span. Sy naam is Toko, kort vir Tokoloshe.

Ek het eers in Augustus 2018 in Suid-Afrika geland en Toko kort daarna ontmoet.

Voordat ek by Vetpaw aangesluit het, het ek by die Charleston-dierevereniging in Suid-Carolina in die VSA gewerk - 'n organisasie wat troeteldiereienaars help om hulle diere te laat steriliseer, inent en dies meer.

Ek het dus nog altyd 'n sterk band met honde gehad en was daarom alte bly om 'n hond by die Vetpaw-kwartiere aan te tref.

Toko weeg skaars 15kg, maar hy's taai. Ons skat hy's nou sowat vyf jaar oud.

Die hondjie was aanvanklik 'n bietjie wild en ons kon maar net raai wat hy al alles as straathond op Musina deurgemaak het.

Hy het groot respek vir die "groot gryses", soos ons die renosters noem.

Hy ry graag saam in die vragmotor wanneer van die spanlede op patrollie gaan, en ek neem hom ook saam wanneer ek gaan draf.

Toko sien gevaar lank voor my raak en het al meer as een keer verhoed dat ek my in 'n trop buffels vasloop.

Die foto van Toko en 'n renoster is by die spanhuis geneem.

Die renoster het naby staan en wei en Toko het nuuskierig nadergedraf.

Hy het 'n kort blaffie gegee en dis toe dat die renoster hom met 'n fopstormloop verras.

Maar dit was net speletjies - daarna het die twee weer hulle gang gegaan.

Toko het al met swart- en witrenosters te doen gehad en weet om sy afstand te hou.

Ek wil glo hy kan aanvoel dat dié diere spesiaal is.

Gaan na https://vetpaw.org/vetpaw.org en @vetpaw op Instagram vir meer oor die organisasie se werksaamhede.

Jaco Pelser

Digitale bemarker, Kaapstad

Instagram @jaco_pelser en @curious.leila

Leila is 'n Africanis en ek het haar net voor 2020 se inperking aangeneem nadat die mense van Rescue is Life haar buite Gordonsbaai langs die pad opgetel het.

Dit was 'n maklike besluit om Leila aan te neem, want ek het kort voor dit my 12-jarige labrador verloor.

Leila het baie gou my hart se punt geword. Wanneer ons op 'n grondpad kom, moet ek dadelik die ruit vir haar afdraai sodat sy met haar gesig in die wind kan sit.

By 'n kampterrein sal sy oral ronddraf om maats te maak en dan weer gou kom inloer om te sien of daar iets te ete is - nes 'n kind!

Die geselskap en plesier wat sy elke dag vir my gee, is onvoorwaardelik.

Dit maak nie saak wat die vorige dag gebeurhet nie, elke dag is nuut en van voor af vol liefde.

Sy hetdie mooiste oë en glimlag wat my groet die oomblik wanneer ek opstaan.

My raad aan mense wat saam met hulle honde wil kamp, sal wees om by 'n stiller kampplek te begin.

Daar kan jy die hond se leiband afhaal - en dis iets wat die hond én jy eers aan gewoond moet raak.

My eerste fout was om óral agter Leila aan te hardloop sodra ek die leiband afgehaal het.

Ek het gevoel ek moet haar strykdeur dophou en sien wat sy doen.

Maar ek het besef ek kan met 'n geruste hart my eie roetine volg, sy het my nie heeltyd nodig nie.

Dis ook beter om saam met 'n groep vriende te kamp, want dan is die hond meer gemaklik en daar is meer mense om te help kyk waar sy rondhardloop.

Skakel vooraf om seker te maak 'n kampplek is troeteldiervriendelik, en weet dan dat jy ander honde daar te wagte kan wees.

Laat jou hond saam met die ander rondhol en speel.

Jou hond weet wie haar eienaar is en sal na jou toe terugkom vir kos en aandag.

Honde speel nie te veel in die donker nie. Inteendeel, teen slaaptyd klim Leila self in my VW Caddy. Wintertyd is sy sommer al 6nm. in die bed!

Rescue is Life is 'n organisasie wat mishandelde troeteldiere red en dan nuwe huise vir hulle soek. Lees meer by https://rescueislife.co.za/rescueislife.co.za.

Jaco se gunsteling- troeteldiervriendelike kampe in die Wes-Kaap

  • Balie's Gat, Sederberg (baliesgat.co.za): Hier is pragtige natuurskoon!
  • Kleine Eike, Greyton (kleineeike.com): Dis omtrent altyd volbespreek, maar as jy plek kan kry, is dit hemels.
  • Tankwa Tented Camp (tankwa.net): Hierdie plek is nie vir almal nie, want dis droog en hier is min koelte, maar dis lekker ver weg van alles en almal.

Kathy Leverton

Avontuur- en kultuurgids, Kaapstad

Instagram @cape_hike_and_climb en @pondo.puppy

Pondo is in Langa, Kaapstad, as deel van 'n werpsel van agt gebore. Hulle ma is skaars drie weke later in 'n groot storm dood, waarna Pondo en haar boeties en sussies by my suster se veeartspraktyk beland het.

Die hondjie het dadelik in my skoot aan die slaap geraak en my hart vermurwe!

Ek het haar 'n maand later huis toe geneem en was aanvanklik effe gespanne vanweë die Amerikaanse veghondbloed in haar are.

Veghonde het nie altyd 'n goeie reputasie nie, maar die gevaarlikste ding omtrent Pondo was die winde wat sy gelaat het!

Sy is die ougatste, liefdevolste en gehoorsaamste hond met die mooiste geaardheid wat ek al ooit geken het.

Sy mag dalk 'n hondjie wees wat kleintyd gered is, maar ek kan eerlik sê dat Pondo ook tot my redding gekom het.

Ek stoei met depressie en sy is my terapie. Sy's mal daaroor om by my in die bed te kom inkruip en lê dan altyd bo-op my, so asof sy so na as moontlik aan jou wil wees.

Danksy haar gaan stap ek meer gereeld in die berge en ontdek nuwe roetes rondom die stad.

Saam het ons ook al ander stappers met honde ontmoet - mense met wie ek sedertdien goed bevriend geraak het.

Sy verryk my lewe en is 'n bron van vreugde - Pondo is regtig soos my kind!

Ek het haar genoem na Pondoland aan die Wildekus, een van my gunstelingplekke op aarde.

Oor die laaste vier jaar was ons al ses keer saam daar en op pad soontoe probeer ek altyd by troeteldiervriendelike plekke stilhou. Soos byvoorbeeld die Shell-vulstasie op Queenstown, waar 'n hondeparkie is.

Saam het ons al op en af langs die Wildekus gestap.

Ek sal altyd die dag onthou toe ek en Pondo van my familie se kothuis by Msikaba tot by Waterfall Bluff en terug gestap het - 26km in totaal.

Pondo is net so lief vir daardie wêreld soos ek, en wanneer ons van daar af terugkom in die Kaap, is sy sommer vir 'n paar daeteneergedruk.

As jy jou hond met jou wil saamneem oral waar jy gaan, moet die dier opgelei wees. (Pondo was vir 'n paar jaar by gehoorsaamheidsklasse.)

Hulle moet ook ander mense en honde gewoond wees, kom wanneer jy roep en weet wat "los" beteken wanneer hulle vreemde kos of ander diere soos bobbejane of slangeteëkom.

'n Hond se eienaar moet weet om skoon te maak wanneer hulle mors.

As jy tussen ander mense woon, is dit beter om die uitgangspunt te hê dat hulle waarskynlik nie van honde hou nie.

Moet dus nie jou hond toelaat om na hulle toe te hardloop, vir kos te bedel of sonder toestemming hulle eiendom te betree nie.

Kathy se gunsteling-staproetes in die Kaapse Skiereiland

  • Cecilia-waterval: Die voetpad soontoe loop meestal deur die skadu van die woud, en daar's genoeg water vir jou hond.
  • Kontoerpad: Ek hou veral van die deel tussen die Platteklipravyn en Kloof Corner. Dit is 'n maklike stappie om honde aan roetes gewoond te maak. Onthou om tydens die droër somermaande water saam te neem.
  • Pyplynroete: As jy in die oggend gaan, is dié roete meestal in die koelte. Begin by Theresa-laan in Kampsbaai indien jy die gedrang by Kloofnek se parkeerterrein wil vermy.
  • Die laer hellings van Leeukop: 'n Ou staatmaker! Nie alle honde kan by die leertjies hoër op teen die berg opklim nie, maar die laerliggende roetes is perfek.
  • Muizenberg en St. Jamespiek: Dié twee pieke staan langs mekaar. Dit neem sowat drie ure indien jy albei stap.
Toast Coetzer (Saamgestel)

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM