Dis ou nuus dat vakansieoorde onder munisipale beheer erg vervalle geraak het. Daar is natuurlik uitsonderings, en dié oorde moet krediet en die betrokke plaaslike owerheid erkenning kry.
'n Bekende munisipale oord in die Vrystaat is byvoorbeeld eens op 'n tyd as een van die bestes in die land bekroon, maar 'n verteenwoordiger het onlangs toegegee dié oord het agteruitgegaan.
Hy skryf dit toe aan te min geld vir instandhouding.
Volgens dié verteenwoordiger het baie dinge die afgelope jaar begin verander by die oord waarvan die publiek nie weet nie - die chalets is opgegradeer en die woonwapark se ablusieblokke verbeter.
Op grond daarvan - en die baie webwerwe wat dié oord ophemel - het ek begin glo die plaaslike owerheid verdien 'n pluimpie.
Toe ek egter op sosiale media gaan loer, sien ek 'n ander storie. Mense kla oor 'n verskeidenheid van dinge - van onbehulpsame personeel en die staanplekke se gras wat heuphoog staan tot die warm swembad wat nie warm is nie.
Mense kla oor 'n verskeidenheid van dinge - van onbehulpsame personeel en die staanplekke se gras wat heuphoog staan tot die warm swembad wat nie warm is nie.
Daar was selfs 'n gesin wat ná twee uur só ongemaklik en onveilig gevoel het dat hulle besluit het om pad te gee.
Ek het 'n nuusberig met foto's raakgeloop oor die vervalle infrastruktuur by die oord, en begin wonder of die plek werklik so blink is as wat die verteenwoordiger en die vakansiewebwerwe probeer voorgee.
Ek lees 'n afvaardiging van die Nasionale Raad van Provinsies het vroeër vanjaar ondersoek ingestel na die skepping van werkgeleenthede en ekonomiese ontwikkeling by dié oord.
Finansiële state wys toe die plek is in Januarie, Februarie en Maart 2017 teen 'n maandelikse verlies van R600 000-R800 000 bedryf.
Volgens die nuusberig jaag die oord die munisipaliteit se belastingbetalers jaarliks sowat R18,5 miljoen uit die sak. Dit kos na raming R10 miljoen om dit te bedryf én dan word daar begroot vir 'n jaarikse verlies van R8,5 miljoen.
In 'n onlangse verslag word gemeld dat toeriste maar traag is om hier te oornag en baie sê reguit hulle sal eerder betaal om nié hier te bly nie.
'n Gemeenskapsleier meen die beste oplossing sal wees om die oord te privatiseer of op langtermyn te verhuur aan iemand wat dit namens die munisipaliteit kan bedryf - teen 'n wins, natuurlik.
Delf 'n mens 'n bietjie dieper, blyk dit 'n groep sakemanne hét aangebied om die oord te koop, maar die munisipale bestuurder wou niks weet nie, want hulle hou feeste daar vir die breë publiek.
En ons almal weet massas dagbesoekers en kampeerders het nié dieselfde behoeftes nie.
Die sakemanne wou die oord tot sy volle glorie herstel, maar sekere politieke individue het meer sin aan feeste. Die feesbeskouing veroorsaak dat die onderhoud van die kampterrein afgeskeep word.
Die dagbesoekers se gebruik van die ablusiegeriewe lei ook tot verdere agteruitgang.
Dit is kommerwekkend dat talle vakansiewebwerwe dié oord nog prys. Hulle vorder plasingstariewe in en aanvaar goedsmoeds foto's en beskrywings wat deur bemarkers opgestel is.
'n Mens kry die idee hulle doen geen moeite om die feite na te gaan nie.
Oordrewe aanprysings van vakansiebestemmings is blatante wanvoorstellings en verbruikers se regte word sodoende vertrap.
Die eienaar van die oord se konferensiesentrum het wel laat weet sy geriewe en die restaurant bied steeds goeie diens. 'n Mens brand egter om te gaan kyk of dit wel die geval is.
Hierdie artikel het oorspronklik in Desember 2017 verskyn. Feite en geite kon intussen verander het - laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy iets raaksien.












