Ons probeer om minstens elke twee maande te gaan kamp en het ’n lys van kampplekke wat binne drie uur se ry van die huis af is. Ons het dus min oortuiging nodig om ons Howling Moon-tent in die Renault Duster te laai en vir ’n naweek in die pad te val. Ons was onlangs vir die eerste keer by Ruah en het dit só baie geniet dat ons sommer gou weer teruggaan.

Waar het julle van Ruah gehoor?
Ons het begin opmerk hoe Ruah al hoe meer genoem word in die kampgemeenskappe op die sosiale media. Die terugvoer van so te sê almal was dat dit ’n gawe plek is wat hoogs aanbeveel word. Dit het ons oortuig om vir ’n naweek daarheen weg te breek.

Het Ruah aan julle verwagtinge voldoen?
Ongetwyfeld. Ons geniet plekke waar ’n mens op gras kamp onder koeltebome, waar die atmosfeer rustig is, waar jy privaat is en waar daar ’n swemplek naby is. By Ruah het ons presies dit ervaar, en ons kon die naweek behoorlik agteroorsit en ontspan toe ons ons op een van die ses afgebakende staanplekke tuismaak.
Hier is ook staproetes, rotskuns om te verken en rotspoele waarin ’n mens heerlik kan afkoel. Dan is daar niks so lekker as om saans ’n vuurtjie aan te steek en te kuier terwyl jy die naggeluide rondom jou geniet nie.

Hoe lyk die ablusiegeriewe?
Jy het jou eie private badkamer, hoewel al ses staanplekke s’n in dieselfde gebou is. Ons geniet dit as ons private geriewe het, want dan kan ’n mens jou badkamergoed daar toesluit terwyl jy kamp en jy hoef jy nie elke keer heen en weer te stap daarmee nie. Die badkamers is netjies en skoon, en ons kon niks fout vind nie.

Is hier ’n winkel in die kampterrein?
Nee, maar die oordmense verkoop wel hout. Gesels net met hulle wanneer jy inboek, want dit is die een ding wat ’n mens nie wil hê moet opraak terwyl jy kamp nie. Indien jy wel iets belangriks by die huis vergeet het, is die naaste winkel skaars 10 minute se ry van jou staanplek af; dus behoort jy nooit regtig ’n krisis te hê nie.
Kontak 082 774 4216; christofp@breede.co.za; Facebook.com/RuahCamping








