Vir haar 40ste verjaardag wou sy nie 'n partytjie in 'n deftige restaurant óf by die huis hê nie. Nee, Sulita de Kock van Middelburg, Mpumalanga, wou vir dié geleentheid gaan hengel by die gewilde visvangplek van die legendariese Hentiesbaaise hengelaar wyle Sarah de Jager.
Dít was Sulita se droom.

Haar ander wens was om op die diererehabilitasie-en-bewaringsplaas N/a'an ku sê duskant Windhoek met die omgewingsbewaarder Marlice van Vuuren kennis te maak en 'n dag saam met N/a'an ku sê se bobbejane deur te bring. Marlice het onder meer die TV-reeks Groen: Namibië aangebied en het die Amerikaanse aktrise Angelina Jolie as 'n vriend en ondersteuner.
In 2016, drie dae voor haar verjaardag, het Sulita en haar man, Joop, en twee goeie vriende, Lynette en Johan Morkel van Vereeniging, die pad gevat.
Sulita-hulle het met hulle Mitsubishi Colt Rodeo-bakkie en koepeltent gery en gekamp, en Lynette-hulle met hulle Toyota Land Cruiser 76 en Jurgens Safari XT 140-kampwa. én so het Sulita se verjaardagwense waar geword.

Sulita en Joop de Kock
20 FEBRUARIE
Middelburg na Eastgate (1 200 km)
Ná deeglike beplanning val ons uiteindelik vroeg Saterdagoggend in die pad. Ons kry vir Johan en Lynette by die Avanti-gastehuis, 10 km voor die Skildpadshek-grenspos. Dis 'n lang dag op die pad, maar met die tweerigtingradio's, padkos, lekker reën wat op pad val, en die donkies wat ons oral sien, is dit nie te erg nie.
Ons stop op Kang om bene te rek en die brandstoftenks vol te maak. Ná die lang dagreis - met twee grensposte waardeur jy moet gaan - kom ons by die Eastgate-ruskamp net duskant Buitepos aan. Ons is moeg gery en dit is baie warm. Gelukkig het Eastgate 'n swembad.
Dis my en Joop se kosmaakbeurt. Ons het skaaprib op die kole. Dit word 'n laataandkuier saam met goeie vriende wat ons lanklaas gesien het.
Eastgate na N/a'an ku sê (285 km)
Ek kan nie glo hierdie dag het uiteindelik aangebreek nie! Ons vertrek vroegoggend na N/a'an ku sê, ongeveer 45 km suid van Windhoek. Op pad stop ons eers op Gobabis, gooi brandstof in en verken dié dorpie.
Net buite Gobabis stop ons by die West Nest-padstal. Die mense is vriendelik, die koffie lekker en ons koop hout vir die boskampe wat voorlê.
Ons kom die middag by N/a'an ku sê aan en bespreek 'n aand saam met die Boesmans. Dis 'n belewenis om te sien hoe hulle leef. Hulle is met min tevrede, het sagte harte en lyk gelukkig. Hulle taal is moeilik, maar gelukkig het ons vir Solomon Tsuab as gids en tolk.
Die twee mans maak saam met die Boesmans op die tradisionele manier vuur met stokkies wat vinnig heen en weer tussen die hande op 'n stukkie hout gedraai word. Vir die Boesmans is dié tradisie baie belangrik, en die twee mans word as deel van die manne aanvaar toe hulle vure vlam vat. Met die vuur aan die brand sing en dans die Boesmans tot laatnag vir ons.
22 FEBRUARIE
N/a'an ku sê na Spitzkoppe (324 km)
Vandag het ons bespreek vir "Behind The Scenes With Marlice". Ons word vroegoggend opgelaai en gaan stap saam met Alexis, die rooikat, in die veld.
Dan ontmoet ons vir Marlice van Vuuren. Sy is 'n dinamiese vrou wat N/a'an ku sê op die been help bring het om die Namibiese natuur en wild te help bewaar en die Boesmans se lewe te verbeter.
In die rehabilitasiesentrum vir die diere is enigiets van 'n aasvoël en ystervark tot skilpaaie en dassies. Ons interaksie met die diere is wonderlik.
Nou is dit tyd om saam met die bobbejane te gaan stap en deel van die trop te wees. Dis 'n onvergeetlike ervaring. Hulle soek dadelik toenadering en van hulle wil geabba word. En hulle stel in alles belang - van jou hoed en kamera tot jou juwele. Dit is spesiaal om die verhouding tussen hulle en Marlice te sien. Sy noem elkeen op die naam. Ons speel en swem die heeloggend saam met die kese en hulle kruip diep in ons harte.
Dis tyd om vir Marlice te groet. Op pad terug na die lodge besoek ons die jagluiperdkamp saam met Solomon. Daarna laai Solomon ons af en ons sit ons reis voort - Spitzkoppe toe.

Dis prentjiemooi as jy van die teerpad af op die grondpad draai en dié bekende rotsformasies jou begroet.
Ons kamp die aand hier tussen die rotse, en Johan en Lynette bederf ons met beesstert vir ete. Om die pot hou ons tot laatnag nabetragting oor die opwindende en spesiale dag wat verby is.
23 FEBRUARIE
Spitzkoppe na Hentiesbaai (105 km)
Vandag is ek 40! Ek kan nie aan 'n beter plek dink om wakker te word as hier in die natuur saam met my man en beste vriende nie. Ek word bederf met geskenke én 'n koek wat Lynette al die pad saamgery het. Dit word 'n oggend wat ek altyd, altyd sal onthou.
Van hier af ry ons Hentiesbaai toe. Dit is nie ver nie en ons is vroeg daar. Ons pak af, kry ons vislisensies, koop aas by die Skubbe-kroeg en vat die pad na die bekende Sarah se Gat. Lynette vang die eerste kabeljou en word dadelik ons "eie Sarah de Jager" gedoop.
Ons sluit die dag af met 'n bottel vonkelwyn.
Dis beslis een van my spesiaalste verjaarsdae nóg.
24 FEBRUARIE
Hentiesbaai
Vandag is ons rustig. Ons het al ver paaie gery en dit is goed en lekker om net te ontspan. Ons vang die hele dag vis en ek en Lynette maak deeglik kennis met Namibië se son.
Lynette doen weer haar naam gestand as ons eie Sarah en vang die meeste kabeljou.
Vir aandete beland Lynette se blinklyf op die kole.
25 FEBRUARIE
Walvisbaai
Vandag is een van die besigste dae van ons reis - 'n adrenalienbelaaide dag.
Ons meld vroegoggend by Walvisbaai se toerismesentrum aan, want ons gaan quadfiets ry en die duine met ons voertuie aandurf. Joop het vooraf by Photo Ventures daarvoor bespreek.
Ons doen heel eerste die Topnaar-roete in die Kuiseb-ravyn. Herman Neethling, ons gids vir die dag, leer ons oor die woestyn en vertel ons hoe die Topnaar-mense, 'n Nama-stam, van die begin van die 19de eeu af hier leef en oorleef. 'n Mens kan amper nie glo dat mens en dier hier in dié bitterlik droë deel van die wêreld kan oorleef nie.
Jou oë rek as jy die eerste steil duin op dié roete moet af, maar ons geniet dit en is sommer teleurgesteld toe ons weer moet terugdraai.
Ná middagete neem ons foto's van Walvisbaai se flaminke en daarna durf ons met ons 4x4's die Sandwich Harbour-roete oor die massiewe duine aan. Herman ry saam met sy Land Rover.
Ons voertuie en die vermoëns van die mans agter die stuur word sommer teen die eerste duin behoorlik getoets. Daarna is dit die een uitdaging ná die ander, met die een duin op en die ander af. Van die duine is steiler as steil, maar ons kom vinnig in die ding in en geniet elke uitdaging.
Sandwich Harbour, waar see en woestyn mekaar ontmoet, is onbeskryflik mooi. Die woestyn is elke fotograaf se droom en ons neem die een foto ná die ander en video's van ons voertuie in aksie. Dis 'n dag wat ons klein vriendekring vir altyd sal onthou.

Ná al die opwinding sluit ons die dag af met goeie seekos by die De Duine-hotel op Hentiesbaai.
26 FEBRUARIE
Hentiesbaai
Spyker Kruger is een van Hentiesbaai se bekendste en beste hengelaars. Vandag vang ons saam met hom vis. Spyker ken die omgewing en die beste visvangplekke soos die palm van sy hand en leer ons baie. Hy gooi ook lekker ver in en ek en Lynette hou hom goed besig.
Johan het 'n goeie dag. Hy vang sy eerste kabeljou - en dis nie 'n kleintjie nie: 'n knewel van 7 kg. Vir aandete eet ons pangebraaide kabeljou. En ons drink tequila om Johan se groot vangs te vier.
27 FEBRUARIE
Hentiesbaai
Dit is ons laaste dag op Henties en ons besluit om die lekker weer goed te benut en vir oulaas vis te vang. Ons koffieflesse is vol en die oorskietvis ingepak vir padkos.
Joop vang vroegoggend sy mooiste vis nóg: 'n steenbras van 9 kg. Johan vang weer 'n mooi kabeljou.
Een van die gawe dinge by Henties is dat jy met jou voertuig op die strand mag ry.
Ons ry vir oulaas lekker ver langs die see.
Met die twee groot visse wat die mans gevang het en die rit langs die strand is ons laaste dag op Hentiesbaai ook 'n hoogtepunt.
28 FEBRUARIE
Henties na Ghanzi (965 km)
Ons volgende hoofbestemming is Elephant Sands in Botswana. Dis ver, en ons is doodmoeg gery toe ons in Ghanzi blyplek soek.
Ons slaan nie kamp op nie, maar slaap in Thakadu Bush Camp se houthuisies.
Dis bosveld en dis rustig. Laatmiddag kom groet die njalas ons by ons blyplek. Ons sien baie voëls en die visvangers se geroep is soos musiek in ons ore.
Ons braai vir aandete en die restaurant maak vir ons bykosse.
29 FEBRUARIE
Ghanzi na Elephant Sands (735 km)
Ons het weer iets om te vier: Dit is Johan en Lynette se 24ste huweliksherdenking.
Elephant Sands is een van hulle gunstelingplekke en ons het ons reis beplan dat hulle dit hier kan vier.
Dis ver en 'n lang dag se ry tot by Elephant Sands net buite Nata. Ons kom laatmiddag aan. Die bosveld is mooi ná die goeie reëns hier. Die watergat voor die restaurant is een van Elephant Sands se groot pluspunte. Die wild kom suip hier reg voor jou.
Ons kamp twee nagte hier. Dit is opwindend om sonder heinings om jou in die natuur en tussen die wild te kamp.
Ons eet voortreflike filet in die restaurant om Johan en Lynette se troudagherdenking te vier.
1 MAART
Elephant Sands
Vandag is ons net rustig en geniet en waardeer die natuur. Hier is heelwat voëls - die kleurryke rooiborsbyvreters is vir my die mooiste.
In die twee dae hier sien ons nie een keer die olifante nie. Hulle kom wys nie gesig nie, want ná die baie reën is daar vir hulle genoeg water in die bos. Maar al sien ons nie enige grootvoete nie, geniet ons dit hier. Dis lekker om ná die lang paaie net te ontspan, te lees en laat te slaap.
2 MAART
Elephant Sands na Kubu-eiland (265 km)
Vandag vertrek ons na een van daardie plekke wat op enige reisiger se emmerskoplys behoort te wees: Kubu-eiland in die Makgadigadipanne. Dis 'n nasionale monument en vir die plaaslike mense 'n heilige plek. (Die voormalige Top Gear-aanbieder Jeremy Clarkson het dié granieteiland van sowat 'n kilometer lank 'n klompie jare gelede beskryf as "min of meer die ongelooflikste plek waar ek al was". - Red.)
Kilometergewys is dit nie ver van Elephant Sands af nie, maar met die grondpad en al die waterkruisings is ons die heeldag lank op die pad. Ons stop ook by elke waterkruising om foto's te neem en verwonder ons aan die indrukwekkende kremetarte langs die pad. Ons kom laatmiddag by die boskamp aan en slaan kamp op.
Vir die volgende twee nagte sal ons die enigste kampeerders op Kubu-eiland wees. Wat 'n ervaring om dié plek net vir onsself te hê!
Ons maak 'n groot kampvuur. Ons tyd saam raak min en die samesyn om die vuur is kosbaar.
Hier by Kubu met sy indrukwekkende kremetarte kry Rikus Nel se liedjie "Hardekole" vir ons as vriende nuwe betekenis: "Manne dit is 'n voorreg om 'n hardekool te deel, al die bloedbroers bymekaar, waar vlamme vriendskap smee..."
3 MAART
Kubu-eiland
Dis die laaste dag van ons toer en ons is almal vroeg op om die sonsopkoms oor die panne te gaan afneem. Die vroegopstaan is die moeite werd. Die sonsopkoms is mooier as mooi. Die res van die oggend verken ons die uitsonderlike eiland van wit graniet met sy baie kremetarte.
Môreoggend vat ons die lang pad terug huis toe (839 km).

Ons pak, maak padkos en rus lekker uit vir die terugtog. Laatmiddag gaan die son onder oor die kremetarte. Dis 'n prentjie wat ons altyd sal onthou.Ons braai en kuier vir oulaas om die vuur.
Lynette het Chinese lanterns saamgebring en hier op Kubu steek ons hulle aan en stuur hulle die naghemel in. Ons staar stil na die lanterns wat al hoe hoër vlieg en kleiner en kleiner word tot hulle uitdoof en verdwyn. Elkeen is besig met sy eie gedagtes. Só sluit ons 'n ongelooflike reis af!
Hierdieartikel het oorspronklik in September 2017 verskyn. Feite en geite kon intussen verander het - laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy iets raaksien.




















