Die bekende wilde perde wat op die Garub-vlaktes naby Aus in Namibië leef, is nou in 'n felle oorlewingstryd gewikkel. 'n Knellende droogte het dié streek in die suidweste van ons buurland sedert 2013 in sy greep.
Die situasie is tans so erg dat die moontlikheid bestaan dat daar nie meer wilde perde oor gaan wees nie, tensy drastiese stappe dringend geneem word.
Daar is op die oomblik net 40 merries en 70 hingste oor en sedert 2014 het geen vullens oorleef nie.
Sedert 2014 val baie min reën in die gebied - en nooit meer as 5 mm op die Garub-vlaktes nie. Dit het 'n ernstige uitwerking op die gras en voeding van die wilde perde. Die perde se toestand het dus die afgelope paar jaar versleg, soos die kosgehalte swakker raak.
Die droogte beïnvloed ook die migrasiepatrone van ander wilde diere. Gemsbokke en springbokke, hiënas se natuurlike prooi, het noord begin trek ná die eerste reën van 2017. Die hiënas het hierna toenemend op die perde begin jag maak.

Die Namibia Wild Horses Foundation (NWHF) glo wel die perde kan nog van uitwissing gered word en vra daarom vir volgehoue skenkings deur mense en organisasies. Dié skenkings is noodsaaklik om aanvullende kos vir die perde te voorsien.
Die NWHF het ook die minister van omgewingsake en toerisme genader vir moontlike oplossings.
Verskeie opsies is bespreek, onder meer om die wilde perde na 'n plek van veiligheid te skuif waar hulle teen hiënas beskerm sal wees. 'n Geskatte R35 miljoen sal hiervoor nodig wees. Dit sal egter 'n tydrowende proses wees en die perde het nie noodwendig meer so baie tyd oor nie.
Intussen het die ministerie van omgewingsake en toerisme ingespring en gesorg dat kos aan die hiënas beskikbaar gestel word. Dit het klaar die druk op die perde se bevolking aansienlik verminder. Dit bly egter net 'n korttermynoplossing, want die perde se getalle is steeds gevaarlik laag.
'n Aksiegroep, die Aus-Lüderitz Tourism & Business Action Group, is gestig deur mense wat bekommerd is oor die perde.
Dié groep het ook - saam met die Namibia Chamber of Commerce and Industry (NCCI) se Lüderitz-tak - die minister genader en die uitwerking wat die verdwyning van die wilde perde op die //Karasstreek kan hê uitgelig. Hierdie groep steun nie die hervestiging van die perde nie - die perde woon al meer as 'n eeu lank op die vlaktes - maar besef dringende ingryping is noodsaaklik.

Sou die perde uitsterf, sal die impak op toerisme nie net in die streek nie, maar ook vir die hele land, negatief wees. Die wilde perde is baie gewild onder toeriste en tel saam met die Visriviercanyon en Kolmanskop onder die land se 10 top-toeriste-aantreklikhede.
Samesprekings tussen al die partye - die aksiegroep, die ministerie en die NWHF - is steeds aan die gang. Bykomende voeding bly steeds noodsaaklik vir die voortbestaan van die perde tot die somerreëns in die suidweste van Namibië hopelik begin val. Ten tyde van publikasie het dit egter nog nie gereën nie.
Vir nog inligting oor die wilde perde, hoe om 'n skenking te maak en om op datum te bly van enige verwikkelinge, gaan na die NWHF se webblad (www.wild-horses-namibia.com) en Facebook-blad.













