Goeie nuus - jy kan weer jou visstokke saamvat op vakansie na Namibië sonder om jou beursie plat te maak.

Daar was laasweek 'n ommeswaai in die omstrede besluit om die hengelgelde te verhoog na N$1500 per maand, oftewel N$18000 per jaar.
Die Namibiese ministerie van visserye en mariene hulpbronne het aangekondig dat die hengelpermitpryse weer terugkeer na die vorige tariewe van N$14 per maand of N$168 per jaar. Dit is om "tyd te gee vir verdere konsultasie" het minister Bernard Esau aan die Namibiese dagblad Republikein gesê.
Die voorsitter van die Namibiese Rots-en-strandhengelvereniging (NRSAA), mnr. Johan Agenbag, verwelkom die besluit: "Dit wys dat ons nog in 'n land bly waar die regering na sy mense luister. Ons almal besef dat daar 'n aanpassing gemaak gaan word. Ten minste kan 'n mens nou jou insette lewer in so 'n besluit."
"Van die begin af was dit duidelik uit alle oorde dat daar nie behoorlik met die publiek en ander belanghebbende partye oor die verandering gekonsulteer is nie. Ons glo ook dat die minister nie reg ingelig was oor hengelpermitpryse van ander lande nie," voeg hy by.












