Reis

Naweek in die Kongo

Luister na die artikel
-00:00
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Die hoë hange van die berg Nyiragongo, naby Goma, Noord-Kivu, Demokratiese Republiek van die Kongo. Foto: Galloimages/Gettyimages.com
Die hoë hange van die berg Nyiragongo, naby Goma, Noord-Kivu, Demokratiese Republiek van die Kongo. Foto: Galloimages/Gettyimages.com

Opwindende reise begin soms doodgewoon. Vrydagoggend vroeg tel 'n taxi my op voor my gastehuis in Gisenyi, Rwanda. Die grenspos is net minute se ry weg. Daar aangekom, sien ek gou waar die ander toeriste rondstaan wat hier is om dieselfde rede as ek. Party is Russe, te oordeel na hulle tongval.

Ander mense in die ry werk vir nieregeringsorganisasies in Goma, die groot Kongolese dorp wat net anderkant die grens lê.

Dit sou net nog 'n doodgewone grenskruising kon wees, maar die Demokratiese Republiek van die Kongo is nie 'n gewone bestemming nie. 'n Vliegtuig dawer verby, en toe ek opkyk, sien ek dis 'n Rooikruisvliegtuig.

Een van die Virunga- nasionale park se netjiese Land Rovers (met die kenmerkende gorilla-embleem op die deur) staan onder 'n wildevy en 'n gids is hier om ons deur die grens te help.

Ek het drie dae in die Kongo. Vandag gaan ek berg Nyiragongo uitklim, oorslaap, en Saterdagmôre afstap. Saterdagaand slaap ek in 'n hotel in Goma en Sondag vroeg ry ek uit na die deel van die park waar ek berggorillas gaan kyk - dan glip ek weer oor die grens terug Rwanda toe.

Dit klink eenvoudig. Maar kom ons begin by Nyiragongo, want dis nie 'n gewone berg nie. Dis 'n vuurspuwende berg. Ja, vanaand slaap ek op die rand van die pruttende lawapot.

Ons wag 'n uur by die grenspos voordat die regte amptenaar opdaag om ons paspoorte te stempel. Die Russe het 'n probleem, want hulle wou vandag gorillas kyk. Maar die gorilladeel van die park is twee uur se harde Land Rover-ry van Goma af, en hulle sal nooit betyds opdaag nie.

Die dorp Goma is aan die suidelike punt van die byna 300 km lange Virunga- nasionale park. Die park is in 1925 al geproklameer, en is 'n Wêrelderfenisgebied. Die berg op die agtergrond is Nyiragongo (3 470 m).
Die dorp Goma is aan die suidelike punt van die byna 300 km lange Virunga- nasionale park. Die park is in 1925 al geproklameer, en is 'n Wêrelderfenisgebied. Die berg op die agtergrond is Nyiragongo (3 470 m).

Dié dilemma word in 'n Babelse verwarring in die parkkantoor op die dorp uitgesorteer.

Almal vergader eers hier en kry permitte: Ek kry een vir vulkaanklim en een vir gorillas.

Energievlakke in Goma blyk tien keer hoër te wees as net anderkant die grens in Rwanda. Dit raas meer. Mense lyk haastiger. Winkeltjies se naamborde lyk helderder. Tussen die moderne voertuie stoot jong mans 'n soort houtfiets - dit word chukudu genoem - wat gebruik word om swaar vragte planke, bakstene, eintlik enigiets, te vervoer. Die chukudu is deel van die kultuur - elke jong man wat wil vrou soek, móét een hê.

Soos ons die buitewyke nader, word die huisies kleiner, en elke erfie het 'n klipmuur van vulkaniese klip. Dan val die dorp se geroesemoes weg en ons ry die geilgroen platteland in.

Nyiragongo is 3 470 m hoog en troon uit bo die landskap sowat 20 km noord van Goma.

Direk agter Nyiragongo is Nyamulagira, ook aktief. Kenners reken egter dat hulle kan voorspel wanneer Nyiragongo ongeskik raak, daarom word staptoere in "veilige" tye - soos nou - aangebied.

By Kibati aangekom, ontmoet ek ons gidse, asook die res van die stapgroep wat meestal bestaan uit buitelanders wat in Rwanda of die Kongo werk. Hier's portiere, maar synde ek net 'n klein 28 liter-rugsakkie dra, wys ek die aanbod van die hand. 'n Fout, sou ek weldra agterkom. Al die ander stappers betaal die ekstra dollars vir 'n portier.

Dit is belangrik om teen tienuur die oggend in die pad te val, want jy moet voor donker by die kamp bo-op die berg uitkom.

Vir eers stap ons deur bedompige reënwoud, met groot bome en digte plantegroei wat rondom ons vleg. Dan verlaat ons die woud en die terrein is oper. Dit is oper omdat hier in 2002 'n hengse stroom lawa uit die kant van die berg gepeul, die woud platgestoot het, spoed opgetel en toe dwarsdeur Goma gestorm het - en eers in die Kivumeer sissend tot ruste gekom het. Inwoners moes vlug, en duisende geboue is vernietig.

Waar dit eers modderig was onder my stapstewels, is hier nou ronde, poreuse vulkaankorrels van gholfbal- tot ertjiegrootte: puimsteen.

Een van die veldwagters, Jean-Louis Mutsomani, roep halt wanneer ons 'n groot gat langs die voetpad bereik. Hier, verduidelik hy, het die meeste van 2002 se lawa uitgestroom. Uit die gat styg 'n rokie, asof 'n boemelaar iewers daar onder woon en nou 'n vuurtjie aangesteek het.

Die paadjie loop reguit op teen die hang van die vulkaan, en dit word nou steiler.

'n Mens sien Nyiragongo se gloeiende lawapoel beter saans of vroegdag voordat die son op is. Dié lawa se lae silika-inhoud veroorsaak dat dit baie vloeibaar is - met die uitbarsting in 2002 het die lawa teen tot 100 km/h berg-af gevloei!
'n Mens sien Nyiragongo se gloeiende lawapoel beter saans of vroegdag voordat die son op is. Dié lawa se lae silika-inhoud veroorsaak dat dit baie vloeibaar is - met die uitbarsting in 2002 het die lawa teen tot 100 km/h berg-af gevloei!

Die portiere stap agter in die konvooi, en héél agter stap die ander gids, Jean-Paul Gasore. Hy dra 'n AK47 en praat nie eintlik Engels nie.

Die kraterrand is toe onder die mis en dit voel asof ons vir ewig gaan klim. Dan word die spitsdakke van ons oornaghutte sigbaar, en uiteindelik die rand van die krater. Ek het nou sowat 1 480 m hoogte gekry sedert die beginpunt van ons stap vanoggend. Gelukkig het die hoogte my nog nie begin kopseer gee nie.

Die lug ruik na swael, en 'n bietjie na gebrande baard. Ek kry 'n leë hut en bêre solank my rugsak, en klim dan die laaste 20 m.

Deur die mis en rook sien ek dit: Doer ver onder, sowat 400 m van waar ek sit, gloei die pruttende vulkaan.

Namate dit donker word, klaar die mis op en begin die werklike skouspel. Die lawapoel - die grootste van sy soort ter wêreld - is nie staties nie. Elke paar sekondes breek die oppervlak in 'n ander legkaart op. Dit hervorm, roer, knipoog vir jou. Maar meestal grom dit vir jou. Dit klink byna soos 'n ruisende, dreigende see.

Vrydagaand in die Kongo, en hier's net een kanaal op TV: vulkaankyk.

'n Mens wil heelnag na die vulkaan kyk - dis hipnoties - maar omdat dit so koud is (dit kan sneeu), kan jy hipotermie kry.

Vroegdag lê die wêreld onder ons weer so volmaak soos 'n halfuur die Skepping in. Wie sou kon raai dat dit die Kongo is? Ek dink aan almal wat in die afgelope dekades in hierdie deel van Afrika swaargekry het - die meeste mense hier ken geen ander tyd as een van burgeroorlog nie.

Die weer bly goed al die pad ondertoe, en ons stap versigtig om nie op die los puimsteen te gly nie.

Vir eers kan ek uitsien na 'n ruskans in Goma. Die Land Rover laai my af by Hotel Cap Kivu langs die Kivumeer waar 'n paar mak mahemkraanvoëls in die tuin rondloop.

In my kamer tap ek 'n warm bad. My bobene voel asof Morné Morkel my tien keer raakgeboul het.

Gorillas (en hulle mis)

Die Virunga- nasionale park se Landie kom pik my douvoordag by die hotel op. Goma se Sondagoggendstrate is stil. By Nyiragongo borrel rook uit, maar dis niks ongewoons nie - dis soos Tafelberg wat soms jas dra.

Ons ry noordwaarts verby Kibati. Ek sien gehawende vragmotors swaargelaai met sakke houtskool, soldate met bandoliere vol koeëls oor die skouer, kinders met roetswart klere, vodde. Die grond is amper swart hier - vulkaniese grond.

By Rumangabo draai ons af en die pad kronkel teen berghange beplant met boontjies uit tot by Bukima waar die kantoor is. Bo ons troon ander vulkaanpieke uit: Mikeno (4 437 m), Karisimbi (4 507 m) en Visoke (3 711 m). Ek asem in: Die aarde hier ruik na rook, plante en nat grond.

Hier is agt berggorillafamilies in die Virunga- nasionale park wat besoek kan word. Die een waarheen my groep van vyf toeriste stap, word Nyakamwe genoem, na die silwerrugmannetjie wat die septer swaai oor dié familie van elf.

Ons veldwagter en gids, Richard Katsala, het ook opwindende nuus oor die radio ontvang - die spoorsnyers wat by Nyakamwe was vanoggend, het laat weet dat daar oornag 'n babatjie gebore is!

Sowat 'n uur later bereik ons die plek waar ons die woud - en die park - binnegaan. Nou stap ons moeiliker, en wanneer ons steil stukke uitklouter, moet 'n mens vashou aan boomwortels en takke om nie in die modder te gly nie.

Dis bedompig en die weer dreun. 'n Mens kry die gorillas bo 'n sekere hoogte in die woud waar hulle geliefde kos - bamboes - groei. Veldwagters hou die gorillas dop sodat jy nie hoef te soek nie - jy word direk na die betrokke familie gelei, maar dis altyd 'n stywe stap.

Die berggorilla is 'n gorilla-subspesie.
Die berggorilla is 'n gorilla-subspesie.

Gorillaprotokol word vooraf verduidelik: Jy moenie te na aan hulle kom nie. Indien een wel verby jou stap, vermy oogkontak. Veral met die silwerrug soek jy nie skoor nie. Jy bly gebukkend, eerbiedig, asof in die hof van 'n vreemde koning. Almal kry ook 'n mondmasker wat gedra moet word in die teenwoordigheid van die gorillas sodat ons nie 'n soort griep oordra aan dié uiters bedreigde diere nie.

Dis nou sulke tyd. Richard wys dat ons ons maskers moet opsit, en binne my begin die opwinding klop. Ons is naby. Richard kap 'n paar slap ranke af en - siedaar! Twee jong gorillas skuifel weg van die ongenooide gaste, terug in die muur van groen.

'n Paar meter diékant toe en hier sit pa Nyakamwe en sy hele kroos. Dis eintlik meer van 'n gelê. Nyakamwe is op sy rug en maak skaars 'n oog oop wanneer ons met klikkende kameras by sy sitkamer instap.

Muggies dwarrel in 'n warm mis om ons rond. Dinge ruik na gekneusde plante en aapmis (ek kyk eers alvoor ek trap).

Dis aanvanklik oorweldigend. Ek neem foto's, maar probeer ook net kyk na die toneel voor my. Mense kom van regoor die wêreld, en spandeer duisende om vir 'n uur lank te kom kyk na hierdie spesie wat oor 'n honderd jaar (of 'n dekade) dalk nie meer met ons gaan wees nie. Dis asof jy jouself wil herinner aan al die menslike vergrype wat die diereryk seermaak.

Foto: Toast Coetzer
Foto: Toast Coetzer

Tog, soos met die geboorte van Nyakamwe se nuwe telg wat ons aan sy moeder sien teug, is daar hoop. Solank die owerhede van die Kongo, Rwanda en Uganda die sin sien in die bewaring van hierdie diere, is daar hoop.

En dan is daar die mense hier in die bos.

Veldwagters soos Richard wat dag in en dag uit veg om hierdie park as veilige hawe vir gorillas te hou. Dis nie maklik nie, want hulle is self in die visier van stropers en rebellesoldate.

Dit is ons plig om nié te vergeet nie. Nie te vergeet van die lot van die berggorillas nie, en nié te vergeet van die werk van die veldwagters nie.

Op pad terug grens toe hou ek op foto's neem uit die hoppende Landie - ek's bang die kamera gee my 'n blouoog. Die afgelope naweek was dol - en duur - maar ek is bly ek het dit gedoen. Wanneer Goma weer in die nuus is, sal ek dit kan verstaan as 'n plek met mense, nie net 'n kolletjie in die deurmekaar hart van Afrika nie.

Hierdie artikel het oorspronklik in Weg #154 (Augusuts 2017) verskyn. Feite en geite kon intussen verander het - laat weet gerus by digitaal@weg.co.za as jy so iets raaksien.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM