Reis

Nóú gaan ons braai!

Foto: Myles Tan/Unsplash
Foto: Myles Tan/Unsplash

Ek praat van kombinasies soos Victor en Bakkies, Lennon en McCartney, Laurel en Hardy, Jagger en Richards, Petersen en Kramer...

Die ding van hierdie kombinasies is dat hoewel elkeen op sy eie waarskynlik besonderse hoogtes sou bereik, was almal van hulle net soveel beter saam met die ander.

Victor sou steeds ongeëwenaar wees in die lynstaan, maar hoeveel kans sou hy gehad het om in die losspel te gedy as Bakkies nie met sy fisieke aanslag teenstanders soos vrot velle eenkant toe gegooi het nie?

En as dit nie vir McCartney se ligte en meer optimistiese aanslag was wat as teenvoeter gedien het vir Lennon se donkerder en hartseerder benadering nie, sou die Beatles waarskynlik aansienlik minder treffers gehad het.

Ek glo natuurlik daar hoort nóg 'n ikoniese kombinasie op dié lys: Buitelewe en braai. En nou dat die winter begin groet, gaan die geleentheid hom weer meer gereeld voordoen vir almal van ons om ons rydinge te pak, ons wa te haak en koers te kies na ons gunstelingbestemming.

In ons huis is die eerste aand se braai die enigste ding wat haarfyn beplan word wanneer ons gaan kamp. Want dit voel soos die belangrikste een, waar alles seepglad moet verloop vandat ons stilhou tot ons uiteindelik agteroorsit in ons kampstoele en na die vuur staar.

Dan is 'n mens nie haastig vir kole nie, maar wanneer jy uiteindelik die vleis, braaibroodjies en slaai inskep (en dalk 'n aartappel wat in foelie op die kole gelê het), smaak dit heerliker as enigiets wat 'n Michelin-sjef vir jou kan voorsit.

Nooi jou vriende en familie, pak die hout (of houtskool, as jy móét), sit agteroor, kuier en lê dan weg soos konings.

Veilig reis!

Schalk

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM