Reis

Ontsnap na dié tuine

Oosterse geure by Babylonstoren

Die bedompigheid tref jou wanneer jy die deur van die koepelvormige konservatorium van Babylonstoren se speserytuin oopmaak, want hier is plante wat gewoonlik net in tropiese klimate voorkom.

Dit voel asof jy 'n binnenshuise oerwoud betree het. Swartpeperplante hang van die plafon af en rondom jou groei neutmuskaat, kakaobome en gemmer.

Dan tref ander reuke jou: Kaneel, koffie, naeltjies en borrie vertel die verhaal van Afrika se speseryhandel met Asië: die inspirasie vir dié welige ruimte.

'n Warm poel vol eksotiese visse hou die tuin se humiditeit hoog, en dit word aangehelp deur 'n deursigtige laag polikarbonaat oor die koepel.

'n Enorme kliptafel staan op 'n houtdek wat bo-oor die poel aangebring is. Dis hier waar jy en jou familie en vriende 'n driegangmaaltyd kan geniet, gegeur met speserye uit die tuin.

Op die somerspyskaart sal jy byvoorbeeld peperbrood met gemmerbotter, koue sop sowel as Belgiese koek van donkersjokolade met gekruide amandels en vanieljeboontjie-roomys vind.

Vir iets goedkopers, kan jy deur die groente- en vrugtetuin van 3,5 ha wandel. Die Glaskas-restaurant bied interessante peuselkos, soos varsgedrukte groensap en panini's met haloumi en sondroogtamaties.

Waar? Klapmuts-Simondiumpad

Oop: Elke dag 9 vm.-5 nm.

Kontak: 021 863 3852; babylonstoren.com

Speserytuinbesprekings:enquiries@babylonstoren.com

BESOEK OOK

Oude Nektar, Stellenbosch

Dié tuin is die nalatenskap van die tuinghoeroe Una van der Spuy en is oor sowat 70 jaar geskep.

Hoewel Una in 2012 oorlede is, bewaar haar seun Peter die tuin ter ere aan haar. Die eiendom behoort sedert die 1940's aan die Van der Spuy-gesin, en Italiaanse krygsgevangenes het destyds gehelp met die konstruksie van die tuin. Hoogtepunte sluit in die Pergola-tuin, die Round Rose-tuin en die Terraced Woodland.

Waar? Jonkershoekpad, 600 m verby die ingang van The Postcard Café

Oop: Maandag tot Vrydag van 9 vm. tot 5 nm.; slegs op afspraak oor naweke

Kontak: 021 866 1133; oldnectar.com

Walter Sisulu- botaniese tuin, Johannesburg

Meer stedelik as Johannesburg kry 'n mens nie maklik nie, maar dié tuin in die Wes-Rand is 'n oase van rustigheid. Dit is ook die tuiste van ‘n broeipaar witkruisarende. Ontspan by die Witpoortjie-waterval (70 m hoog) of reël 'n toer langs die Roodekransrif in die natuurreservaatgedeelte van die tuin.

Waar? Malcolmpad, Poortview, Roodepoort

Oop: Maandag tot Sondag van 8 vm.-5 nm.

Kontak: 086 100 1278; sisulugardens@sanbi.org.za

Rosemary Hill, Pretoria

Die lente in Pretoria is pers - dít weet almal. Maar as jy na die oostelike buitewyke van die Jakarandastad reis, ontdek jy dié organiese plaas; sommige mense noem dit selfs die Babylonstoren van Gauteng.

Geniet 'n piekniek op die grasperk en die natuur of verken 33 km se stap- en fietsryroetes.

Waar? Mooiplaats 257, N4-Oos-afrit 18, Pretoria-Oos

Oop: Maandag tot Vrydag: 8 vm.-5 nm.; naweke: 7 vm.-4 nm.

Kontak: 012 802 0052; rosemaryhill.co.za

Rosehurst, Pietermaritzburg

Die agterplaas van hierdie omboude Victoriaanse kothuis is ‘n welige oase in die middestad van Pietermaritzburg. Dit het eers behoort aan die tuinmaker Lorraine Ketley en is sedert haar dood in ‘n toevlugsoord vir tuinliefhebbers omskep.

Hier is 'n verskeidenheid van voëls, en jy kan 'n verfrissende roosstroop-drankie (R28) in een van die binnehowe geniet. Hier is 'n wit somerhuistuin, 'n geel sonondertuin en ‘n ligpers tuin.

Waar? Boomstraat 239

Oop: Maandag tot Vrydag van 8.30 vm.-4 nm.; Saterdag 8.30 vm.-2.30 nm.

Kontak: 033 394 3833

Cheerio Gardens, Haenertsburg, Limpopo

Natalse beeskloue, vingerhoedblommetjies en kersiebome staan die wêreld vol in dié tuin. Volg die verskillende voetpaadjies en talm op die damwal - dalk sien jy 'n visvanger of twee. Die oorspronklike kersiebome in die tuin is in die 1950's deur die dokter van die Japannese keiser geskenk aan Sheila Thompson (die groottante van die huidige eienaar).

Die Haenertsburg-lentefees word elke jaar hier gevier.

Waar? Sowat 4 km buite Haenertsburg op die R71 na Tzaneen. Draai af na Cheerio Valley en volg die bordjies.

Oop: Maandag tot Sondag van 9 vm.-5 nm.

Kontak: 083 355 0835; cheeriogardens.co.za

Bronne: sa-venues.com

Hierdie artikel is geneem uit ons argief. Alle inligting isonlangs nagegaan, maar feite en geite kon intussen verander het. Laat weetgerus as jy so iets raaksien - stuur 'n e-pos na digitaal@weg.co.za

http://www.sa-venues.com

Kyra Tarr

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM