Reis

Op pad - Dis ’n ander Dana dié

Maar in Op pad leer jy 'n ander, onthutsend eerlike Dana ken. Een wat stoei met sy identiteit as wit man in Suid-Afrika. Gerda Engelbrecht het sy nuwe reisverhaal, Op pad, by Exclusive Books raakgeloop.

Het jy al daai skreeusnaakse storie gelees van die keer toe Dana en sy skoolpel stokkiesgedraai het om op die buurdorp te gaan fliek en toe gelooi is toe hulle terugkom by die koshuis? Op pad is nie so 'n boek nie.

Die reisskrywer Dana Snyman het notas gemaak terwyl hy en 'n kameraspan van vier mense deur die land reis om 'n TV-reeks vir die Afrikaanse kanaal VIA te skiet, en vra vir 'n uiteenlopende klomp mense die vraag: "Het jy nog hoop vir die land?" Die spieël wat Dana ophou is allermins vleiend.

Hy erken self: "'n Reisprogram is veronderstel om lig en vermaaklik te wees. Kom geniet ons mooi land, Suid-Afrika, met sy vriendelike, gasvrye mense, pragtige natuurskoon en genotvolle dinge om te doen. Sien die Groot Vyf. Besoek die plaaslike kaasmaker. Koop 'n vleispastei by hierdie of daardie padstal. Beleef 'n vertoning van tradisionele Zoeloedansers [...] Ek wens ek kan weer met sulke onskuldige oë na die land kyk."

Die spieël wat Dana ophou is allermins vleiend.

Maar in plaas van watervalle en woude, word Dana gekonfronteer met die slagoffers van moord en roof, met dieremishandeling en hartverskeurende armoede.

Tussendeur sy verhale van die mense wat hy langs die pad ontmoet - van Orania tot Nkandla - vervleg hy detail van die boeke waaruit hy saans in sy kamer lees.

Die teoloog Ferdinand Deist se boek Tussen angs en sekerheid, en JM Coetzee se Disgrace. Die Deist-boek oor gebed het Dana gekoop "hoofsaaklik oor die eerste sin in die boek: ‘Dit is swaar om met 'n skuldbewussyn saam te leef. . .'"

Dis moontlik die sterkste tema in die boek. Hoewel Op pad se subtitel "'n Reisjoernaal" is, is hierdie nie die gewone braaivleis, rugby, sonskyn en Chevrolet-verhaal nie. Dis 'n ander Suid-Afrika dié. Een waarin die verval sigbaar is en waar algemene handelaars en tuisnywerhede deur "inkommers" se winkels vervang is, waar kerkhorlosies gaan staan het. Dis ook 'n ander Dana hierdie. Een wat in sy middeljare stoei met sy Afrikaner-herkoms as die seun van 'n predikantpa en Broederbonder, en met sy identiteit as 'n wit man in die huidige Suid-Afrika.

Op pad gaan jou soms kwaad maak, soms hartseer maak, soms nostalgies maak, maar jy gaan dit lees tot op die laaste bladsy. Want die stryd van Dana Snyman in dié boek is die stryd van baie van sy wit tydgenote in Suid-Afrika.

Ek het my eksemplaar van Exclusive Books gekry teen R257. Jy kan dit hier aanlyn koop.

Lees ook Erns Grundling se onderhoud met Dana.

SPELETJIES VANDAG

Spesiaal vir intekenare!CTA

Elke dag ’n nuwe blokraai, sudoku en woordblom asook ’n weeklikse vasvra élke Vrydag. 

SPEEL SAAM