Lang spierwit strande wat eindeloos ver strek.... 'n bottel water, sonhoed en goeie smeersel sonroom op jou gesig. Nou's jy reg vir 'n goeie kopskoonmaaksessie. (Kaalvoete en sonsopkoms of -ondergang word ook sterk aanbeveel.)
Stap is goed vir die gesondheid, veral sandstap - jy verbrand meer kilojoules as wanneer jy op 'n harde oppervlak stap.
Hier's heelwat strande langs ons kuslyn waar jy kan begin stap en eers dae later ophou. Dink maar aan die Weskus se strande wat aaneenloop, of dié langs die Wildekus en ook die "makker" Wildekus tussen Keimond en Gonubie.
Goed, goed nie almal wil soos Forrest Gump weke lank stap nie. Stap tot dit voel asof die branders deur jou are klop. Draai om en mik huis toe. A, nou's die wind van agter af.
Weg se keuse: Jacobsbaai tot Trekoskraal, Kraalbaai en Sestienmylstrand (Weskus- nasionale park), Noordhoek, Seepunt-promenade, Pearly Beach, Struisbaai, Buffelsbaai tot by Platbank (Goukamma-natuurreservaat), Leentjiesklip (Wildernis), Kenton-on-Sea, Koffiebaai, Kaap Vidal
Laat weet ons gerus waar jy graag gaan stap by esma.marnewick@weg.co.za














